Carica papaja
Papajas vaar die beste in rypvrye areas. Indien daar ligte ryp voorkom waar jy woon moet jy sorg dat die bome teen enige koue wind beskerm is.
Die grond waarin die boom staan moet goed dreineer. Berei die gat voor soos vir ander vrugtebome, maar moet nie kompos of mis gebruik nie. Maak die bome elke twee weke nat in droë weer.
Die bome kan van saad gekweek word. Gebruik die saad van ‘n papaja wat jy gekoop het en vir jou baie lekker was. Was die pitte en laat dit in die skaduwee droog word. Bêre die saad in lugdigte houers teen kamertemperatuur. Saai die saad in Desember.
Daar is manlike en vroulike bome en jy het ten minste een manlike boom vir elke 20 vroulike bome nodig. Wanneer die bome die eerste keer blom (op 1 meter) kan jy die geslag bepaal. Manlike blomme word in hangende trosse gedra, terwyl die vroulike blomme kort stele het en groot is.
Die bome ontwikkel ‘n digte wortelstelsel. Jy moet ook weet dat die bome baie hoog kan raak, tot 10 meter. Dit maak dit moeilik om die vrugte te oes. Plant gereeld nuwe boompies as jy nie wil sukkel met hoë bome nie.
Indien geen kompos of mis wat anders om vir voeding te gebruik?