Krimpvarkie / South African Hedgehog

Aethechinus frontalis frontalis

Krimpvarkies word geken aan hulle sterk, skerp stekels op die rug wat beskerm bied teen roofdiere. As die diertjie aangeval word rol hulle op in ’n stewige stekelrige bal. Die penne word met behulp van die rugspiere opgelig wanneer die krimpvarkie oprol in ’n bal. Die gesig, bene en onderkant is bedek met hare. Die gesig is omraam met ‘n strook wit hare wat strek van onder die ore tot bo-op die voorkop, bo-oor die oë. Die res van die gesig is swart of donkerbruin. Daar is geen uiterlike verskille tussen die geslagte nie.

Hulle is gewoonlik aktief saans wanneer hulle jag maak op insekte. Hulle vreet ook wurms, slakke en klein diertjies soos jong muise en voëls. Krimpvarkies hou ook van sagte vrugte en groente. Bedags skuil hulle in gate, maar na reënbuie kan jy hulle ook bedags sien.

Mannetjies en wyfies vorm net ter wille van voortplanting tydelik pare. Wyfies gee normaalweg geboorte aan vier kleintjies, maar dit kan soveel as sewe wees. Krimpvarkies word gewoonlik tussen 3 en 5 jaar oud.

’n Eienaardige gedragspatroon by krimpvarkies is dat hulle soms hul penne met speeksel besmeer. Wanneer hulle op voorwerpe met skerp reuke afkom soos byvoorbeeld sigaretstompies, seep of sekere blomme, kou hulle dit tot hul bekke vol skuim is. Die skuim word dan op die penne gesmeer. Die doel hiervan is nog nie duidelik nie, maar dit is moontlik dat dit ‘n vermommingstaktiek kan wees om hul eie reuk te verbloem.

Jy sal krimpvarkies vind op die Vrystaatse plateau en verder noord, in die omgewing van die Drakensberge in KwaZulu-Natal en verder suid, in die noorde van die Karoo en verder wes in die rigting van die Kalahari.

Krimpvarkies is beskermde wild in Suid-Afrika. ’n Permit word vereis vir die aanhouding van die diertjies.

(foto: Sumanda Maritz)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar