Bymekaarkomplek vir die kunste

Die program vir die sewentiende Absa KKNK, wat vandag in Oudtshoorn afskop en tot 9 April duur, bewys dat dié fees jaarliks vernuwe, ‘n wye verskeidenheid ervarings bied en ‘n leidende rol speel in die ontwikkeling van nuwe werk vir die verhoog.

Die toneelaanbod op die fees word vanjaar uitgebrei om meer as 30 produksies in te sluit, waarvan 17 vir die eerste keer op die fees te sien sal wees. Hierdie debuutwerke dek ‘n breë spektrum temas en sal tot uiteenlopende gehore spreek. Dit is veral werk uit die pen van Afrikaanse dramaturge wat vanjaar se oes opwindend maak. Reza de Wet se vyf-en-twintig jaar in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf word onder andere gevier in Die See – ‘n toneelstuk waarin Reza ook vir die eerste keer in twee dekades die verhoog sal betree. Marlene van Niekerk se debuutwerk vir die verhoog, Die kortstondige raklewe van Anastasia W (‘n koproduksie met Aardklop), wat handel oor die weerloosheid van die gebrutaliseerde mens, beloof om gehore aan die hart te gryp. Verder is Ingrid Winterbach se Spyt te sien, ‘n verhoudingsdrama met donker humor, aangebied deur ‘n uitblinker geselskap. Amanda Strydom is vanjaar te sien in ‘n splinternuwe musiekteaterproduksie, Binnekamer, wat spesiaal vir haar geskep word deur die Hertzog-pryswenner Deon Opperman en musiekvirtuoos Janine Neethling.

Daar is ook bekende stemme in nuwe rolle. Met Bullets over Bishop Lavis hou Christo Davids vir die eerste keer sy lyf dramaturg in ‘n spitsvondige debuut wat die gehoor bekendstel aan ‘n gemeenskap waar misdaad, dwelms en bendes ‘n werklikheid vir die karakters is. Nóg ‘n debuut wat indringende sosiale kommentaar bied is My naam/my name is Ellen Pakkies wat die aangrypende ware verhaal vertel van ‘n Kaapse vrou (gespeel deur Vinette Ebrahim) wat uit desperaatheid haar tikverslaafde tienerseun (Christo Davids) om die lewe bring. Dié relevante tema word geskryf en geregisseer deur Lizz Meiring, wie ook, benewens haar bekendheid op die verhoog, as ‘n gerekende dramaturg beskou word.

Wilna Snyman se loopbaan in die kunste word op spesiale wyse gevier met die toneelstuk Klaasvakie, geskryf deur Vlaming Laurens de Vos met vertaling en regie deur Marthinus Basson. Antoinette Kellermann en Nicole Holm is verder in die rolverdeling van dié hartroerende stuk wat gaan oor die aftakeling van bejaardes wat hulle tyd verwyl deur hul verlede te herbesoek.

Die internasionale feeskomponent word vanjaar ook versterk deur die Nederlandse De Appel Toneelgroep (skeppers van Ararat in 2009) wat terugkeer na die fees met Messe in Henne – ‘n hoogtepunt onder die omgewingspesifieke stukke wat die komplekse verhouding tussen ‘n boer, sy vrou en die misterieuse meulenaar op die dorp se verhouding bekyk.

Omgewingspesifieke produksies in voortreflike buitelug-venues in en om Oudtshoorn word ‘n al hoe groter en kenmerkende komponent van die Absa KKNK, nie net wat die teaterstukke aanbetref nie, maar in alle ander genres ook. Vanjaar is die Kanna-bekroonde Betésda-wenspan terug met ‘n nuwe werk, Lot, deur Nicola Hanekom, wat stilisties aansluit by die vorige werk en handel oor die stoflikheid van die mens. Die gevierde Charles Fourie se Agterplaas is nog ‘n buitelugproduksie wat feesgangers nie moet misloop nie. Hierin beeld bekende akteurs ‘n arm Afrikaner-huis uit en word “Die Antwoord en Jack Parow met Angus Buchan opgeklits”.

Vicky Davis is die regisseur van die boeiende Hel op Hemel-en-Aarde wat ook in die buitelug afspeel en die feesganger letterlik op die spoor plaas van ‘n reeksmoordenaar. Talentvolle hoërskoolleerders kry hier die geleentheid om saam met bekende akteurs soos Elma Postma en Ivan Botha te speel. Verder is die teks geskryf deur die spanningskrywer Francois Bloemhof en musiek deur die gewilde Schalk Joubert.

KKNKDie Absa KKNK bly in die spelers en gehore van die toekoms belê. Buiten vir Hel op Hemel-en-Aarde kry jong spelers ook ‘n geleentheid om onder professionele omstandighede op te tree in Hennie van Greunen se Gly-musiekblyspel wat, soos die naam aandui, op die Glee-konsep gegrond is. Van Greunen bewys ook sy ervaring in die bedryf met WEES (ko-produksie met Aardklop 2011), wat gebaseer is op die opspraakwekkende teks van Dennis Kelly.

Nog buitelugervarings onder die sterre is dié van David Kramer se vertoning van sy Karoo-liedjies van die afgelope drie dekades saam met die Sonskyn Susters, Hannes Coetzee en rieldansers. Kyk ook uit vir die eerste Absa KKNK optredes deur die baanbreker dansgeselskap van Okiep, Namjive: Mense van Mense en Padonbekend, óók debuutwerk waarin dans en storievertelling met ‘n Namakwalandse geur onder die meesterlike leiding van Dawn Langdown en Alfred Hinckel uitgevoer sal word.

In aansluiting by die Oudtshoorn Oraloor-komponent, kan feesgangers vanjaar uitsien na die eerste Karoo Krioel – ‘n besliste hoogtepunt vir liefhebbers van Woordkuns en meer intieme musiekproduksies. Belangstellendes sal met bussies vervoer word na verskillende asemrowende plekke buite Oudtshoorn, waar kunstenaars soos Joanie Combrink, Antoinette Pienaar, Derek Gripper, Eldene Jones, Diana Ferrus, die Zamanani Brothers en nog vele meer sal sorg vir ‘n uitsonderlike ervaring. Storievertelling, musiek en ‘n vol ontbyt is die regte manier om hierdie feestoer in die Kuierkombuis af te sluit.

Van humor is daar oorgenoeg op die program. Van die gewilde kykNET-program, Proesstraat, Frank Opperman se Rooi Kaart, Amper met Ben Kruger, Hennie Jacobs en Christel van den Bergh, Leon Kruger se Paloekas! Dagboek van ‘n Single Girl met Lulu Botha in die rolverdeling, Bloemers & Roemers 2, <em>Groet die Grotoupa tot Shimmy Isaacs se Howzit my Bra! – maak reg vir lekker lag.

Op ‘n tragi-komiese noot is daar Celeste Slabber-Loriston se Gif en Margit Meyer-Rödenbeck los vanjaar Dowwe Dolla tuis om die drama Bye ma, Jaypee op te planke te bring. Gavin van den Bergh is te sien in die rol van Jaypee Malherbe wat vir sy oorlede moeder jaarliks briewe in die koerant skryf op haar verjaarsdag.

Nóg ‘n uitbreiding op vanjaar se fees is ‘n nuwe venue met die naam, Iets Anders, waarin feesgangers kan uitsien na fisieke en visuele teater soos Hoedens deur Pieter Bosch Botha, Drome van jou, die drama’s London Road en … miskien en Gaëtan Schmid se tour de force, Rumpsteak, wat ‘n skreeusnaakse blik bied op die aktiwiteite agter die skerms van ‘n besige Franse restaurant. Hierdie platform bied iets heel besonders beide aan ons bestaande fynproewers asook nuwe, crossover gehore, en beloof om een van die juwele van vanjaar se fees te wees.

‘n Musiekblyspel waarvoor uitgekyk behoort te word is, Karingkels – hiers ons lied met o.a. Faiziel Davids, Giempie Vaardien, verlede jaar se Slurpie-wenner Moenier Adams en Junaid Booysen. Die produksie belig Kaapse Maleierkore op ‘n komiese manier. Dorette Potgieter, Riku Latti, Laurinda Hofmeyr en Albert Frost beloof groot gesinsvermaak in hul musiekblyspel, Janneman in die diereryk.

Een van die hoogtepunte op die kontemporêre musiekprogram is Afri-Spaans wat by die fees gaan debuteer. Die smeulende Colombiaanse sangeres Marta Gomez, is saam met onder andere Steve Hofmeyr en Anna Davel in ‘n heel ongewone luim te beleef. Op hulle beurt, deel Karen Zoid, Nick Turner en die Afrika-musieklegende, Louis Mhlanga, die verhoog Malaika / My engel.

Fynproewer klassieke-musiekliefhebbers kan uitsien na uitvoerings soos die van die wêreldbekroonde pianis, Ben Schoeman, wat Franz List se tweehonderdse verjaarsdag met ‘n gevarieerde program vier. Die Tygerberg Kinderkoor wat tans wêreld roem geniet, is hier met ‘n nuwe program en die Tuks Simfonie-orkes sal die publiek bekoor met program, wat deur die Rupert Musiekstigting moontlik gemaak is.

Helena Hugo is vanjaar se feeskunstenaar wat met haar versameling portrette ‘n mens veral bewus maak van gesigte wat ons, afhangende van ons eie sosiale status, gewoonlik nie raaksien nie. Hugo fokus in haar portrette veral op die verhouding tussen werk en werker.

Benewens die feesproduksies, kan feesgangers vanjaar ook uitsien na ‘n Rivierbuurt-program met musiekverhoë vir verskeie smake. Met ‘n dagkaartjie kry feesgangers teen ‘n baie billike prys toegang tot feitlik al die musiekverhoë wat die Huisgenoot Musiekplaas se Dagverhoog, Die Burger-verhoog, die Kuiertuin én die MK rock-sessies insluit. Ons skep vanjaar ‘n nuwe verhoog waarop kunstenaars soos Vicky Sampson, Alistair Izobell, Karin Kortjé en Luqmaan Adams die gehoor op ‘n nostalgiese musikale reis sal neem met klanke uit Motown, R&B, soul, funk, disko, kontemporêre duette tot eietydse dj’s.

“Die bekoorlike Klein Karoo word inderdaad weer ‘n uitsonderlike en gemoedelike bymekaarkomplek vir die kunste by vanjaar se fees, “sê Brett Pyper, Uitvoerende Hoof van die Absa KKNK. “Óf feesgeeste in die teaters en galerye, óf onder die hemelruim met die Swartberge in die agtergrond, óf in Oudtshoorn se talle kuierplekke, óf te midde van die geesdrif op straat, hulle tuiste vind, staan ons reg om almal hartlik te verwelkom.”

“Deur ons betrokkenheid by the Absa KKNK, demonstreer ons dat Absa meer as net ‘n bank wil wees, maar ‘n finansiële vennoot. Dit is ons intensie om ‘n vennoot te wees in die vooruitgang van die land en die Absa KKNK is ‘n voorbeeld van hoe besigheid en die kunste kan saamstaan om kuns en kultuur in die land te bevorder. Dié Fees het gegroei tot een van die grootste toerisme attraksies en werkskeppers in die Klein Karoo en Absa is trots op on betrokkenheid by die Absa KKNK”, sê Angie Burton, Bedryfshoof van Bemarking by Absa.

Lewer kommentaar

Leave a Reply