Die Naaimasjien

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Die Nagtegaal-teksprys het deur die jare so gegroei dat dit nou, wat betref die aantal inskrywings, die grootste teksprys is in Suid-Afrika. In 2008 is ’n rekordgetal van 65 nuwe Afrikaanse tekste vir die kompetisie ingeskryf en hieruit is 5 finaliste gekies. Ná strawwe kompetisie het veteraanskrywer Rachelle
Greeff die eerste plek behaal met haar eerste toneelteks, Die Naaimasjien.

Hierdie eenvrouvertoning lei ons met deernis, humor en wysheid deur die lewe van die 81-jarige Magdaleen, op die dag waarop haar geliefde naaimasjien verkoop word. In haar ouetehuiskamer maak Magdaleen seker Miss Muffet, soos sy haar Bernina noem, is skoon genoeg en al die ekstra gare, naalde en voetjies is netjies gepak vir die vrou wat die masjien kom haal. En so tussen die skoonmakery en pakkery dink sy terug aan vervloë dae: dae van kouse met nate, melk wat in glasbottels afgelewer word, ’n kinderlewe op die plaas.
Vervleg hiermee herroep sy die wel en wee van haar gesin: haar man, Tielman, en haar vier kinders, insluitend Wim, haar oogappel. En weer eens word ons herinner elke mens se lewe, ongeag hoe eenvoudig of ordinêr, is ’n epiese gedig met universele temas van geluk, verlies en versoening.

Ná uitgebreide oudisies vir die regte aktrise was daar net een keuse: Sandra Prinsloo. Met haar ervaring en talent skuif Sandra diep onder Magdaleen se vel in. Sy is een van die meeste bekende en konstante aktrises wat Suid-Afrika nog gesien het. Van die werk van Shakespeare tot by dié van Athol Fugard en Deon Opperman – daar is nie ’n gesogte vrouerol wat sy nog nie gespeel het nie, en sy is ewe tuis in die teater as op televisie en die grootskerm. Sandra se laaste solo-optrede was in Jeanne Goosen se Koffer in die Kas, wat nou nog beskou word as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse teater. Sandra Prinsloo is ook ’n regisseur.

Die regie is die werk van Hennie van Greunen wat verantwoordelik was vir van die mees populêre/bekroonde werk wat oor die afgelope dekade in Afrikaans gedoen is. Produksies wat mense aan die praat gehad het, was o.a. Lyf, Die Tafel, Die Vrou wat Haar Man Gekook het, Die Hangkas Haas, Festen en die veelbekroonde Shirley Valentyn.

Sandra Prinsloo
Sandra Prinsloo

Die Naaimasjien het by die Suidoosterfees in Kaapstad geopen en nou ná die Woordfees in Stellenbosch gaan dit na die KKNK voor dit landwyd toer.

Sluit aan by die Gesprek

3 Kommentare

  1. Terug pieng: Moedertaal | Roekeloos

Lewer kommentaar

Leave a Reply