Fragmente word ’n ontstellende geheel

Die akteurs se voete tik-tik met militaristiese presisie ’n ritme uit. Dramaturg Willem Anker se woorde word soos koeëls afgevuur. Regisseur Jaco Bouwer staan soos ’n wafferse, maar sagmoedige sersant-majoor en hou die spulletjie dop.

Dit is vroeg in die repetisie van Skrapnel en almal betrokke worstel om aan ’n teks op papier op die verhoog gestalte te gee. Dit is ’n aanslag op die sintuie. Woorde, klanke, oorspronklike musiek deur Braam du Toit, bewegings, ’n verbeelde stel wat nog nie daar is nie. Anker klou aan ’n teks en troetel ’n babbelas.

Dit is wonderlik om te sien hoe saadjies geplant word, hoe idees lyf kry, hoe fragmente stukkie vir stukkie bymekaargevoeg gaan word totdat die volwaardige produksie uiteindelik by Aardklop gaan debuteer.

In sy rou, geskrewe vorm het Anker se Skrapnel ’n mens reeds getref. Marlene van Niekerk, professor in kreatiewe Afrikaanse skryfkunde aan die US, sê in ’n telefoongesprek nadat sy die eerste weergawe van die teks gelees het dit is “afgrondelike nihilisme”. Sy stem onomwonde in om as mentor op te tree vir haar kollega.
In die hande van die bekroonde Bouwer gaan dit beslis hard slaan. Toe Bouwer genader is om dié opdragwerk van Aardklop te regisseer, het hy per e-pos laat weet: “Sjoe, ek moes eers ’n entjie gaan stap het nadat ek dit gelees het…” Maar daar was by hom geen twyfel nie: die regie wil hy graag doen.

Só sterk het hy daaroor gevoel dat sy aanvaarding as student vir ’n meestersgraad in teater aan Das Arts van die Amsterdamse Skool van die Kunste saam met ’n vergunning moes kom. Ja, hy is dankbaar en bly om vir die volgende twee jaar by Das Arts te gaan studeer en ja, hy sal begin-September vir sy studies aanmeld, maar hulle moet hom asseblief vir ’n wyle verskoon vir die tydperk wat Aardklop aan die gang is. Die repetisieproses het hy vroeg begin om dit betyds te kan afhandel, maar vir die fees moet hy terugkom.

Sy stel is klaar ontwerp, hy sien die prentjies in sy kop, maar halfpad in die proses in knaag die vertwyfeling. “Ek weet nie of ek rêrig ’n regisseur is nie,” sê hy in dié moeilike stadium waar konsep nog nie omskep is in konkrete realiteit op die verhoog nie. Dan lag hy. “Van die begin af was dit vir my ’n befokte teks. Dit is vir my ongelooflik om daarmee te engage, om daarmee te sukkel. Dit daag my die heeltyd uit.”

Hy vind dit ironies dat hy nou op die ouderdom van 36 eers vir sy “gap jaar” gaan – iets waarmee Skrapnel gedeeltelik tematies omgaan: jong mense wat die land verlaat en tydelik elders hul heil gaan soek. “Dit is fragmente en skerwe van Y (die hoofkarakter) se lewe, sy geskiedenis.” Maar Y se lewe word onder meer gejukstaponeer met die verhaal van ’n selfmoordbommer. “En terwyl die selfmoordbommer absoluut in iets glo, dobber Y rond, probeer sin maak van alles.”

Bouwer vertel van die “absolute sadness” wat in die teks opgesluit is. “Maar so is die lewe soms. Maar Y kan nie sê sy ouers het hom opgefok nie. Dit is ’n blik op ’n nuwe jeug wat wegbeweeg van hul ouers, wegbeweeg van ’n land,” verduidelik Bouwer. En dan haal hy Jan Rabie se ingenieur se befaamde woorde aan: “Aanhou beweeg en geraas maak.”

Hy vertel van die stel wat soos ’n voerband lyk, maar wat multi-funksioneel is. Hy vertel van die winkelpoppe wat hy gebruik, maar dit is nie volledige poppe nie. “Daar is bene, arms, stukke – alles fragmente. Daar’s mooi woorde en vreeslike goed. En daar’s bloed. Dit is die heel eerste keer wat ek bloed op die verhoog gebruik.”

Hy vertel van die beligting. “Daar’s nie ligte wat in en uit fade nie. Ghoef! die ligte gaan aan. Ghoef! die ligte gaan af. Ek maak baie gebruik van fluorescent-ligte. Dit is oorbelig. Ontbloot. Daar is geen escape nie.”
Daar is inderdaad nie. En Skrapnel is beslis ook nie daarop gemik om ontvlugting te bied nie …

* Skrapnel debuteer by Aardklop en word aangebied in Absa Mooirivier. Marcel van Heerden, Andrew Thompson en Jenine Groenewald is daarin te sien. Wolfie Britz is die assistentregisseur.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar