Die Jakes Gerwel Stigting en die Suidoosterfees onderskraag graag jong dramaturge en moedig hulle aan om juis nou, te midde van onsekere tye, uiting aan hul skeppingsdrang te gee. ’n Uitsonderlike geleentheid word aan belowende dramaturge gebied om onder professionele mentorskap aan hul tekste te skaaf. Vir die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting is die ontwikkeling en bevordering van ontluikende talent ’n saak van erns, daarom word gefokus op dramaturge wat aan die begin van hulle loopbane staan en nog nuut in die bedryf is.
Abduragman Adams tree vanjaar as mentor van hierdie ontwikkelingsprojek op. Adams is veral bekend as TV- en rolprentakteur, onder meer in die kykNET-sepie Suidooster. Hy is ook by verskeie projekte as regisseur en dramaturg betrokke, en hy doseer drama.
Belangstellendes word versoek om teen 26 Junie 2020 nuutgeskrewe dramatekste, of ’n uittreksel daaruit, tesame met ’n kort CV, te stuur aan Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, by theo@jgf.org.za.
Bestaande werk wat reeds opgevoer is, sal nie oorweeg word nie.
Suksesvolle kandidate kry die geleentheid om in September vir drie weke in Paulet Huis, die Jakes Gerwel Stigting se skrywershuis in Somerset-Oos, tuis te gaan om te skryf. Dié sjarmante, ouwêreldse woning met ruim kamers, elegante leefvertrekke en ’n lowergroen tuin, is die ideale omgewing om onverstoord te kan skryf. Reis- en verblyfkoste van suksesvolle kandidate, asook maaltye, sal deur die Stigting gedek word.
Hierdie projek bied mentorskap aan talentvolle individue wat andersins nie toegang daartoe sou gehad het nie, en bou voort op die passie en visie van wyle professor Jakes Gerwel. Die Jakes Gerwel Stigting is in die lewe geroep om die nalatenskap van Gerwel, wat uitgeblink het as opvoeder, bevryder, beskermheer van die kunste en kundige sakeman, deur projekte soos hierdie uit te bou. Voorts werk die Stigting en die Suidoosterfees as vennote saam om inklusiwiteit in die kunste te bevorder en die instrumentele rol wat Gerwel in die ontstaan van die fees gespeel het, te gedenk.
Professor Gerwel se geliefde Paulet Huis is na sy dood deur sy weduwee, Phoebé, aan die Stigting geskenk met die doel om dit as skrywershuis in te rig.
Na afloop van die mentorskapprogram sal die dramaturge se tekste vir opvoering tydens die volgende Suidoosterfees oorweeg word.