Mis is ‘n toneelstuk uit veelbekroonde dramaturg Reza de Wet se trilogie Trits en versinnebeeld die verwronge verhouding tussen ‘n ma, Miem (vertolk deur Lulu Botha) en haar dogter, Meisie (Mar-li van der Merwe).
Die armoedige paar moet noodgedwonge mis versamel, verpak en as kompos verkoop om ‘n bestaan te maak omdat Miem se depressiewe man, Gabriël, homself reeds vir die afgelope sewe jaar op die solder toesluit. Sy teenwoordigheid word bloot deur ‘n kosmandjie en ‘n nagemmer, vergestalt.
Die gehoor maak kennis met Gertie, ‘n onderwyseres by die plaaslike skool (Lynne Ruppersburg), en die blinde konstabel (Ignus Rademeyer), wat op die laaste aand van Augustus oor die drie vroue kom waak. Jong meisies op die dorp raak jaarliks op hierdie nag, wanneer die sirkus die dorp besoek en die maan onheilspellend vol is, vermis. ‘n Sensoriese reis volg, met ontwikkeling op verskeie vlakke in die magiese realisme wat De Wet so meesterlik skep.
“Mis is heel eenvoudig ‘n essensiële teaterervaring”, het Paul Boekkooi oor ‘n vroeëre opvoering van Mis opgemerk. Die produksie ontvang vroeër vanjaar die SHOWTIME toekenning vir Beste Professionele produksie van 2009.
Swerwersproduksies was onlangs verantwoordelik vir Reza de Wet se Mirakel wat steeds gehore aan die praat het.
Regisseur: JP du Plessis
Met: Lulu Botha, Mar-li Van der Merwe, Lynne Ruppersburg, Ignus Rademeyer
7 Augustus by die Klein Libertas Teater in Stellenbosch
Toegang: R60
Besprekings: 021 883 8164