Nuwe opwindende venues by die Absa KKNK

Deurbraak, Baanbreek, Spekkies se Plekkie en Johnny Biskit’s is vier nuwe en opwindende venues by die 19de Absa KKNK wat van 29 Maart tot 6 April 2013 op Oudtshoorn plaasvind.

Deurbraak is ’n venue wat saam met Christine Falck van die Aan de Braak-teater op Stellenbosch begin is om aan opkomende kunstenaars die geleentheid te bied om hul deurbraak by die fees te maak. Dit is ’n after dark-teater waar feesgangers kan sit en ’n wyntjie geniet terwyl daar na kraakvars talent gekyk word. Dit sal ook die plek wees waar saam met van die bekendste en opkomende musikante gekuier en tot laatnag saam gelag kan word vir die skreeusnaakse skerpskertsers.

Van die produksies wat by Deurbraak gesien kan word is onder andere die debuut musiekteater, Stasies en Trommels, die debuut komedie Op die Pil en op die Paal?, die debuut drama Die Kulkunstenaar, die Koningin en die Kokkenonnetjie en Rocken Skerp, ‘n debuut standup komedie en kontemporêre musiekproduksie met ses van Suid-Afrika se jong komediante, Melt Sieberhagen, Moeniel Jacobs, Hannes Brümmer, Aneli du Plessis, Kosie Smit, Kobus Galloway en Schalk Bezuidenhout. Dié venue is by die Laerskool Wesbank in Vredestraat.

Spekkies se Plekkie by Laerskool Oudtshoorn Noord in Hoopstraat, is waar al die kinderteater produksies aangebied sal word. Hier sal feesgangers karakters soos Spekkies, Spektrum Kinderteater se gelukbringer kan ontmoet, stalletjies bekyk, foto’s neem en kan peusel aan allerhande lekkernye. Produksies wat hier gesien sal kan word, is Hansie en Grietjie, Aswoestertjie – ’n Pantomini, Afri-Ki-Ri, Bazoo en die Plaashaas, Tjiff en Tjaff 1 en 2, Lollos 5 – Ek kyk na my Lyf!, Poppie en Bongo: Kolskoot! en Dolf Wolf en die Drie Varkies.

Die venue is ingerig om oud en jonk ‘n betowerende ervaring te gee wat hulle sal onthou lank na die fees verby is. Pakketkaartjies wat toegang bied tot al die produksies in die venue kos R320.

Baanbreek, in die Suid-Kaap Kollegesaal in Adderleystraat, is die venue vir gesinsvermaak met ses produksies wat daagliks aangebied word. Wrakstukke, is fisieke teater met ouderdomsbeperking geen o/13, met Anthony Haemen en Luke Carstens. Kombuis Avonture in ’n Koekblik is ’n Baba Yaga teaterproduksie met Jori Snell – wat by verlede jaar se Nasionale Kunstefees ’n Silver Ovation toekenning hiervoor gekry het. Die derde produksie is, Pruttel, aangebied deur die Absa KKNK en Baanbreek. Dit het ook ’n ouderdomsbeperking van 16 (Geweld) (Taal) met Nieke Lombard en Luvuyo Mabuto.

Sfeer is ’n elegie vir objekte, lig en klank met Athena Mazarakis, Naomi van Niekerk en Arnaud van Vliet. Elnora en Nirvana is volwasse poppespel met Nieke Lombard en Chanmari Erasmus. Die sesde produksie, The Three Little Pigs, word aangebied deur Rob van Vuuren, The Pink Couch en die Nasionale Kunstefees. Dit het ook ’n ouderdomsbeperking van 13 (Taal) met Van Vuuren, James Cairns, Albert Pretorius en Tara Notcutt.

Johnny Biskit’s
Johnny Biskit’s
Johnny Biskit’s is die fees se nuwe uithangplek vir tieners. Die Johnny Bischoff-saal by die Oudtshoorn Junior Primêre Skool word vir die fees spesiaal omskep in ’n kuierplek vir tieners, hul eie sosiale klub. Dit sal die Absa KKNK se enigste uithangplek vir tieners wees met ’n eie slapsitkamer waar tieners kan ontspan met potspel, ’n jukeboks, ’n graffitimuur, ’n foto kiosk met funky kostuums, ’n kroeg waar koeldrank en fop-kelkies te koop sal wees en dans elke aand. Die venue verander na 22:00 in ’n tienernagklub wat oop sal wees tot 02:00.

’n Internasionale kussingslaandag op die laaste dag van die fees waaraan verskeie lande sal deelneem beloof om vir groot pret te sorg. Die vere gaan beslis hier waai en al wat tieners moet saambring is hul eie kussings.
Johnny Biskit’s sal van 30 Maart to 6 April vanaf 12:00 oop wees.

Tieners kan vir meer inligting gaan na www.facebook.com/JohnnyBiskit’s of www.twitter.com/JohnnyBiskit’s.
Kaartjies is beskikbaar by Computicket of Shoprite / Checkers.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar