Elize Cawood, is eersdaags te sien in hierdie heerlike komedie.
Die nuwe toneelstuk uit die pen van Paul Slapoleszy, Art of Charf (Lady lonely Hearts) is spesiaal vir Elize en haar ewe bekende toneelman, Wilson Dunster, geskryf. Die regisseur is Bobby Heaney. Elize sê hoewel sy en Wilson al 25 jaar lank met mekaar getroud is, het hulle nog min saamgewerk. Wilson word veral onthou vir sy rol as Syd Keyser in Konings en Torings en as Diehard in There’s a Zulu on my stoep.
In die beginjare van Egoli was hy Spider en die eerste mynbestuurder, Pierre de Villiers, in die Engelse sepie Isidingo.
Paul en Wilson was saam studente aan die Universiteit van Kaapstad en ken mekaar reeds 35 jaar. Cawood, ‘n oud-Kovsie, word steeds as Pop van Verspeelde lente onthou en het sedertdien rolle gehad in Taxi to Soweto, Onder draai die duiwel rond, Een skoenlapper en ‘n rits eenvrou-vertonings waarvan Briewe aan ‘n rooi dak die laaste een was.
Wilson en Elize kom ook al ‘n lang pad met Paul Slabolepszy-stukke. Art of charf handel oor Gloria van der Vyfer wat ‘n wroegtante vir Afrikaanse vrouetydskrifte is. Weens internetkletskamers is daar nie meer ‘n aanvraag vir haar rekenaar-afspraakdiens nie.
Terwyl sy haar kantoortjie, die tuiste van Lady Lonely Hearts opruim, stap ‘n afgetrede loodgieter, Cedric Tidbury, in. Dié ou Rooinek, wat pas geskei is, het geld in sy gatsak en is desperaat om net die beste beskikbare jong dollies te onthaal.
Gloria is verdrietig omdat die man se verwagtinge na haar mening, te hoog is; en so begin ‘n reis van selfontdekking en ‘n soektog na liefde en geselskap wat Cedric heimlik vrees onmoontlik is.
Gloria het egter al alles gesien. Verveeld en keelvol om mense in verhoudings te probeer kry, bevind sy haar nou in die aangesig van die nuwe “kliënt uit die hel”.
Die ou alfa-man is beslis nie van Mars af nie. Om vir hom ‘n maat te soek, sal al haar vernuf verg. Maar het sy dit in haar lewe nodig? Kan ‘n man en vrou werklik oor die weg kom? Is daar iets soos ‘n “art of charf”? Kan varke vlieg? Of foeter ons nou maar almal net aan, omdat dit van ons verwag word?
Paul het al 30 treffertoneelstukke geskryf, waarvan Bobby tien geregisseur het.