Die bekroonde teater produksie Samsa-masjien is vanaf 16 Januarie in die Moederstad te sien. Die teks, wenner van die ATKV-Woordveertjie vir drama, is gekonseptualiseer deur Willem Anker en Jaco Bouwer.
Die produksie het by die 2014 Absa KKNK gedebuteer waar dit ook ‘n reeks Kanna-toekennings ontvang het vir Beste Akteur, Beste Aktrise, Regie sowel as die Herrie-prys vir Kopverskuiwende werk. Jaco Bouwer is by dieselfde geleentheid vereer vir sy bydrae tot Venuwende denke in Afrikaanse teater. Volgens Bouwer glo hy; “…dat teater in Suid-Afrika net kan oorleef as die moontlikhede en grense daarvan voortdurend getoets en uitgedaag word.”
Samsa-masjien tree in gesprek met Franz Kafka se Die Verwandlung Dit vertel die storie van die insek-wording van Gregor Samsa sr. Gregor (Gerben Kamper) is in sy sewentigs, ’n afgetrede biologie-onderwyser, skoolhoof en ook klavierstemmer in sy jongdae. Hy ly aan dementia en as gevolg daarvan bly hy en Josephine (Antoinette Kellermann) by hul dogter Grete (Ilana Cilliers) en haar man Tjaart (Ludwig Binge) in hul luukse, moderne huis in ’n woonbuurt soos Sandton.
Soos die Gregor van die Kafka-verhaal, ondervind Gregor ’n stelselmatige insekwording, wat deur die sielkundiges, psigiaters en dokters toegeskryf word aan die ouditiewe en taktiele hallusinasies van dementia-lyers. Gregor sien oral insekte, voel hulle loop op hom envoel homself uiteindelik ’n insek word. Stelselmatig beweeg die ouerpaar uit die huis uit na die kelder waar hulle ’n geraasmasjien (soos dié van die Futuriste) begin bou uit skroot en rommel Dit is deur die konfrontasie van die boonste en onderste vlak wat lei tot die onafwendbare klimaks van Gregor Samsa se magnum opus.
Die produksie eksperimenteer met mediums soos klank en lig op ‘n twee-verdieping stel ontwerp deur Bouwer. Klank en musiek is sentraal tot die stuk en dien as deurlopende metafoor vir die uitbreking uit stratifiserende, benoude strukture. Die komponis Pierre-Henri Wicomb was verantwoordelik vir die klankbaan.
Tydens die produksie se eerste speelvak is die volgende oor Samsa-masjien geskryf:
“Weet maar net dit is nie bloot ’n stuk teater nie – dit is werklik ’n ervaring en ’n aanslag op jou sintuie en jou sanity.” – Bibi Slippers
“As radical, trail-blazing theatre, it begs to be seen. This extravagant and extraordinary production is an onslaught on the senses as it invades and expands the mind” – Diane de Beer, Argus Tonight
“Vreemd is die wêreld en des te meer as jy die gedugte dramaturg Willem Anker en die regisseur Jaco Bouwer saam beleef. Alles in Anker se toneelstuk Samsa-masjien werk vervreemdend in, dit is ’n totale aanslag op die sinne … Bouwer se visuele voorstelling is trefseker” – Leatitia Pople, Die Burger
Met: Antoinette Kellermann, Gerben Kamper, Ilana Cilliers en Ludwig Binge
Regie, ontwerp en vervaardiging: Jaco Bouwer
Teks: Willem Anker
Musiek: Pierre-Henri Wicomb
Beligting: Wolfie Britz
Samsa-masjien
Baxter Teater – Flipside, Rondebosch, Kaapstad
Slegs vanaf 16 – 31 Januarie 2015
Kaartjies beskikbaar deur Computicket – R110