Suurgat

Ek kan vir julle sê kom kyk die show want ek is oulik en skreeusnaaks, maar ek gaan nie. As jy dit wil hoor bel my ma, 082 2540922, sy sal maklik vir jou lieg! Die feite is wel dit: Nadat skeitBANG in 2005 een van die suskesvolste komedies in die land geword het moes ek seker nog ‘n show doen, aangesien die Jack Russel nou gewoond geraak het aan Science Diet en my nooit sou vergewe as sy nou weer blikkieskos moet eet nie. Die nuwe show se naam is Suurgat. ‘n Storie, oor ‘n doodnormale ou op straat wat opgestaan het met die intensie om vandag ‘n beter mens te word. Om sy naaste lief te hê soos homself, maar as gevolg van omstandighede binne en buite sy beheer ontaard die dag in ‘n nagmerrie. Dit kon jy gewees het.

Al ooit gehoor van ‘n dominee wat preek oor hoekom jy nie die Bybel moet lees voor jy gaan slaap nie? Want hulle weet wat met jou gaan gebeur. ‘n Hele skets oor hoe baie van ons aan die slaap raak terwyl ons die dagstukkie en gebed van die dag in die bed probeer doen. Hel, ek voel sommige aande so skuldig dat ek aan die slaap geraak het dat ek summier besluit om die volgende aand Psalm 119 te lees.

My eerste naaste van die dag was die onbeskofte ou in die spieël wat kommentaar lewer oor hoe ek vir hom lyk. Op pad winkel toe om die 1 ply te gaan koop, raak ek betrokke by ‘n bietjie Road Rage en onthou dat my pa nagelaat het om my die belangrikste ding oor vuisslaan vir te leer. “Wat gebeur as die ander ou terugslaan?” Toe klap ek amper ‘n verkoopsassistent wat nie “Nee dankie, ek kyk net ” verstaan nie. “Koffie koue melk asseblief ” – hoe moeilik kan dit wees. Eiehandig het ek amper die Kongo van hongersnood gered met al die karwagte wat ek moes tip. By ‘n oudisie opgedaag waar ek ‘n stripper moes speel, dieselfde aand club toe is en daar as gevolg van Oom Jack so dronk geraak het dat ek in ‘n SPCA hond verander het. (Daar is baie ooreenkomste tussen ‘n dronk man wat aandag kry en ‘n SPCA hond wat aandag kry). Dit alles terwyl ek probeer om op te hou vloek en ‘n beter mens word.

Nodeloos om te sê voel ek vandag so bietjie geïriteerd.

bydrae: Leon Kruger

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar