Met die viering van Jeugdag 2021 neem die Suidoosterfees, KKNK en NATi teaterliefhebbers terug skool toe. Die klaskamer is ’n reeks kort plek-spesifieke produksies wat in verskillende ruimtes van Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad aangebied word. Vertonings vind op 16 en 19 Junie om 11:00 en 15:00 plaas.

Die ses opvoerings van 8 minute elk ondersoek uitdagings waarmee jongmense vandag te doen kry. Gehore roteer in groepe tussen die verskillende ruimtes om al die stukke te sien. Akteurs en skrywers wat betrokke is, sluit in: Cintaine Schutte, Wessel Pretorius, Rafiek Mammon, Eldon van der Merwe, René Cloete, Kanya Viljoen, Carlo Daniels en Veronique Jephtas.

Cintaine Schutte is te sien in die eenvrouvertoning Vlegsel, geskryf en geregisseer deur Wessel Pretorius. Dit handel oor ’n volwasse vrou wat haar verlede herbesoek nadat sy ’n tienermeisie se noodkreet op sosiale media raaklees. Wanneer sy die dagboeke uit haar jeugjare herbesoek, moet sy haar angs-stryd teen boelies opnuut in die gesig staar. Vlegsel is ’n aangrypende meditasie oor genesing wat óór kubergrense heen strek.

Veronique Jephtas, wat deesdae groot opgang as digter, akteur en dramaturg maak, is verantwoordelik vir My kroon se krank. Sy speel in dié stuk wat sy geskryf het, en plaas kwessies soos hare-politiek en selfaanvaarding verkwiklik onder die vergrootglas. My kroon se krank kyk na daardie fases van grootword wat die meeste mense graag eerder sal wil vergeet.

Rafiek Mammon se Die skoolbasaar, met Eldon van der Merwe en René Cloete, bied ’n blik op die trauma van seksuele mishandeling. Die fokus val op dinge wat ’n mens wil weggee omdat dit skynbaar waardeloos is, of omdat dit ’n mens juis waardeloos laat voel. Kokon, geskryf en geregisseer deur Carlo Daniels, spreek ook die temas van boeliegedrag en seksuele identiteit aan. Dié fisieke teaterproduksie span beweging en klank in om die wreedheid wat onder die oppervlak van ons menslike bestaan broei, uit te beeld. Darion Adams en Ayden Croy is die akteurs.

Lede van Hoërskool Jan van Riebeeck se tiener toneelgroep stel hulle talent ten toon in Om teen treine te skree. Kanya Viljoen is verantwoordelik vir die teks en regie, en leerders wat in die stuk optree is Elzaan Daniels, Darren Cloete, Andoné Strydom, Karla Luyt, Faylene van Rooyen, Lisa Best, Seth Louw, Lucas Wildenboer, Louis Botes en Mickaylah Japhta. Dié stuk handel oor die dramatiese impak op ’n meisie nadat ’n foto van haar kwaadwillig in die skool versprei word.

Studente van Kaapstad se The Stage Performing Arts Studio neem deel aan On the Wall uit die pen van Siobhan Taljaard. Taljaard speel saam met Braeden Buys en Kyra Swarts in dié produksie wat ’n spieël ophou na tieners wat vasgevang is in ’n stryd met gewig en dieetmiddels.

Volgens Jana Hattingh, die Suidoosterfees se uitvoerende hoof, is die fees trots op samewerking met Stad Kaapstad en opvoedkundige instellings soos Hoërskool Jan van Riebeek en The Stage Performing Arts Studio. Die fees beywer hom vir die ondersteuning en ontwikkeling van talentvolle jongmense in die kunste en geniet die ATKV en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport se ondersteuning vir hierdie projek. Kaartjies vir Die klaskamer is beskikbaar by Computicket teen R120 vir volwassenes en R80 vir skoliere, studente en groepe. Die vertonings is nie geskik vir kinders onder 14 jaar nie. Vertonings vir beperkte gehore vind op 16 en 19 Junie om 11:00 en 15:00 plaas. Covid-19-protokolle sal streng gehandhaaf word.

Lewer kommentaar

Leave a Reply