Volgens die verklarende woordeboek van die Afrikaanse taal beteken “vlerksleep” om by ‘n meisie aan te lê, soos wat die voëls – veral duiwe – hulle vlerke sleep om die wyfies se aandag te kry vir so ‘n ietsie lekker! In regisseur Frans Swart se nuwe produksie Vlerksleep deur Peter Quilter, ontmoet ons vir Anton (David James) en Louise (Elma Potgieter), beide in hul laat vyftigs. En onlangs geskei. Beide is nou in die proses om te begin kyk na nuwe metgeselle deur op ‘n aantal toe-oogafsprake te gaan. Vlerksleep volg die twee se eskapades deur ‘n reeks van onverwagte, eksentrieke en wisselvallige romantiese probeerslae waar absoluut niks volgens planne verloop nie!
Vlerksleep is ‘n baie snaakse, vermaaklike en “tans-enkel”-komedie wat na die skreeusnaakse en mal wêreld van toe-oogafsprake kyk. Ons almal was seker al in ons jonger dae op ‘n toe-oog afspraak en weet presies hoe aaklig dit kan wees, maar dis soveel erger as jy in jou vyftigs is! Dit is so goed soos om ’n gemaklike dekstoel op die Titanic te kies! Peter Quilter vat raak met Vlerksleep, want hy het daarin geslaag om ‘n moeilike onderwerp baie komies aan te bied. Dit is vars en skreeusnaaks en ons almal kan op ‘n manier daarmee identifiseer, want ‘n toe-oog afspraak is 99% van die tyd nie baie geslaagd nie. Quilter verstaan die dilemma en met sy komiese skryftalent skep hy ‘n skreesnaakse komedie wat vir baie lekker lag in die teater gaan sorg. Frans Swart het Quilter se The Dating Game in Afrikaans vertaal as Vlerksleep. Swart wat al as Suid-Afrika se klugkoning gedoop is, hanteer ook die regie. Hy sê dat hy die regie van Vlerksleep vreeslik geniet het. “Vir ‘n verandering doen ek die regie van ‘n komedie en nie ‘n klug nie. Hiedie is ‘n baie slim geskryfde komedie waarmee ons die pas so bietjie kan laat sak as waaraan ons gewoond is met die klugte,” sê Swart.
Quilter se toneelstukke is reeds in 40 verskillende lande opgevoer en in meer as 30 verskillende tale vertaal. Sy produksie oor Florence Foster Jenkins, Glorius was ‘n groot treffer op Londen se West End in 2005/2006 en het ook ’n Olivier-nominasie ontvang vir beste nuwe komedie. Hy volg sy sukses op met ‘n ander Londense produksie, End of the rainbow wat ‘n Olivier -nominasie ontvang het as beste nuwe produksie. Hierdie musiekdrama oor die lewe van Judy Garland word vanaf 2012 in Broadway se Belasco Teater opgevoer.
Kom sleep vlerk saam met David James, Elma Potgieter, Richard van der Westhuizen en Bertha le Roux-Wahl by die Fairtree Atterburyteater op 5, 6 en 8 Junie. Bespreek jou kaartjies nou by www.LTickets.co.za, 011 815 3000 of by www.vlerksleep.co.za

