Wat broei in die Baanbreek-lokaal by die 2014 KKNK?

Die Absa KKNK se Baanbreek-lokaal spog weer in 2014 met ‘n kombinasie van werk wat gebruik maak van verskeie mediums om vars en opwindende maniere van teater aan te bied.


Die lokaal wat beskryf word as die broeikas van die fees bied die geleentheid vir jong kunstenaars om ‘n platform vir hul werk te ontwikkel. Interessante tegnieke word in 2014 ingespan vir ‘n unieke teaterervaring.

Naomi van Niekerk, al beskryf as die vroulike Kentridge, is verantwoordelik vir Kontinuum. Ervaar die liefde op ‘n heel nuwe manier soos verbeeld met sand-animasie, skadu-teater en akoestiese kitaar. ‘n Verbeeldingryke multi-media produksie wat jou sal meevoer en jou emosies omdolwe.

Philip Rademeyr en Penny Youngleson van Rust Cooperative is verantwoordelik vir Siembamba. Hierdie jong teatergroep het vinnig naam gemaak met hul werk Expectant (wat onlangs by die Markteater in Johannesburg te sien was) asook The View. Siembamba debuteer by die Absa KKNK en Nieke Lombard (Kanna- en Fiesta genomineerde vir Beste Opkomende kunstenaar) vertolk die hoofrol. Wie onthou hul eertydse oppassers? Wat het van hulle geword. Wie was hulle? Siembamba vra hierdie vrae en skroom nie om na moeilike, ongemaklike kwessies met menslikheid en deernis te kyk nie. Dit bevraagteken die familiestruktuur en ondersoek die betekenis van familie, tuiste, moederskap en identiteit.

The Epicene Butcher deur Jemma Khan het in Suid Afrika en internasionaal groot impak gemaak. Die produksie maak gebruik van Kamishibai, ‘n Japanese vertellingstegniek en beloof om ‘n verfrissende hoogtepunt by die Absa KKNK te wees. Wenner van verskeie pryse wêreldwyd.

Boris Gudinuff is ‘n vlymskerp satire gebaseer op Aleksander Pushkin se meesterwerk oor ‘n jong monnik wat die Tsaar van Rusland wil word. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan, en ‘n oorlog breek uit. Hierdie produksie is propvol leuens, liefde, musikale nommers, meta-teater en satire. Louis Roux is verantwoordelik vir die teks en Andre Gerber vir die lirieke en musikale regie.

En laastens The Tatiana Aarons Experience geborg deur die Nederlandse Ambassade. Hierdie multi-media produksie handel oor ‘n ontmoeting tussen 2 mense wat ‘n onherroeplike impak gemaak het op die skepper van die produksie, Tom Struyf. Die stuk is tydens die 2011 Vlaamse Teaterfees gekies vir Circuit X, ‘n projek wat belowende jong dramaturge aanmoedig.

Kontinuum
Kontinuum

Lewer kommentaar

Leave a Reply