deur Ferdi Wheeler
Johannesburg. Die bussie vleg deur ontelbare voorstede en informele nedersettings soontoe. Dis vol gelaai met 22 pendelaars vanaf die platteland. Hul bestemming is Oliver Tambo Internasionale Lughawe. Tegnies is die bussie ‘n halfuur van sy bestemming af. Maar nou gesels die bestuurder geagiteerd oor ‘n tweerigting radio met sy beheerkamer, nugter weet waar.
“Die N1 is gesluit van die Golloolis-afrit af. Hulle toi-toi en brand bande daar,” sê die beheerkamer.
“Wat nou?” skree-vra die bestuurder bo die gedruis van die voertuig.
“Gebruik jou GPS deur Industria en Bedfordview,” sê die beheerkamer.
Die bestuurder bly stil en kyk oor sy skouer en in die truspieëltjie. Hy’s in die verkeerde baan en die verkeer is druk. Hy moet links om die volgende afdraai te vat. Hy gee vet en verwissel van bane, net voor die afdraai deur Industria opdoem. Die afdraai vat hom in ‘n westelike rigting van koers af.
“Ons gaan ‘n uur laat wees!” roep hy agtertoe vir die pendelaars.
Die passasiers roer onrustig. ‘n Indiër heel agter in die bussie is die meeste verontrus. Hy staan op en skuifel in die skuddende bussie vorentoe om met die bestuurder te praat.
“My flight leaves at one,” sê hy gebukkende in die bestuurder se oor.
“You wont be late, relax,” sê die bestuurder. “We’ll be there at twelve.”
Die Indiër draai om en sukkel terug sitplek toe.
In die middel van die bussie, regs van die paadjie, sit ‘n effense gesette man langs die venster. Sy naam is Hector. Hy beskou die situasie. Hy’s nie juis verontrus nie. Sy broer moet hom kry, maar dié het reeds laat weet dat hyself laat gaan wees. So dis om het ewe. Hy’s ‘n pensioenaris. Sy lewe is lankal nie meer vir hom uitgespel in terme van ‘n werkbeskrywing nie. Die een dag is vir hom soos die ander. Die dae van die week reël nie meer sy lewe nie. Daar’s g’n verskil tussen Sondag en Maandag nie. Maandag is nie meer blou nie. Sondag het alle religieuse ondertone verloor. Hy’s nie bly oor Vrydag nie, want hy’s op een lang uitgerekte langnaweek in sy lewensloop. Hy glimlag net oor die Indiër se dilemma. Verder staar hy deur die venster. Dis een dônerse dolle gejaag, dink hy ten aanskoue van die druk verkeer wat al hoe maller word, soos hulle die stad binnery.
Die bestuurder is die heeltyd in kontak met sy beheerkamer. Hy het klaarblyklik ‘n GPS, maar hy bulder en gesels met die beheerkamer oor waar hy moet afdraai, watter roete hy moet volg en tussendeur gee ander bestuurders van die busdiens ook raad oor die radio.
Die stad is besonder lelik. Dis vroeglente, maar die kolle veld is bruin met grashalms en kakiebosse. Die plate krotte is die ergste. Spoedig is hulle egter in ‘n opgeboude gebied. Dis Industria. Dis ‘n verlammende gesig. Dis ‘n krotbuurt in eie reg. Die armste van die armes, die geliefde uitdrukking van politici, woon daar. Alles is verroes, vuil, gebreek, verwaarloos en die inwoners op straat oënskynlik rigtingloos, of sittend, of staanend op sypaadjies. Die man, Hector, staar na die toneel. Toe eensklaps is hulle in Bedfordview in die rante.
Argitektoniese wonderwerke rys uit die aarde uit op. Twee en drieverdiepingpaleise en dit reg naas die hel van armoede. Elke paleis het ‘n Wendy-huis voor by die ingange tot die opritte. Die huisies huisves sekuriteitswagte. Met sononder vaar diewe en rowers seker soos zombies in ‘n Hollywood-fliek die rykmansbuurt in, dink Hector.
Die bussie draai oos in die rigting van die lughawe. Hulle is in die middestad van een van die ononderskeibare munisipaliteite wat met Johannesburg versmelt het. Daar’s ‘n verkeersophoping. Die Indiër sit op die een en dan die ander boud. Binnekort is hy veronderstel om aan boord van sy vlug te stap. Hulle kruip vorentoe in die verkeer. Hy sien twee mense op die middelmannetjie van die dubbelbaanpad.
Die meisie kyk nie links of regs nie. Die seun sit soos ‘n Japannees op sy maermerries. Altwee doodstil. Die seun se sittende houding is snaaks. Hector wonder of hy gestremd is. Die bussie beweeg nie en hy bestudeer hulle. Die opvallendste kenmerk van die twee is dat hulle afskuwelik vuil is. In die bussie sit hy skaars twee meter van hulle af. Hulle kon modelle vir ‘n beeldhouwerk gewees het, so stil is hulle. Die meisie het die fynste van glimlaggies op haar bleek lippe. Die seun staar strak voor hom op die grond. Moet hulle nie bedel nie? wonder Hector. So kry hulle straks nie ‘n duit nie. Die bussie ruk vorentoe en die bestuurder vat ‘n gaping in die verkeer. Hector kyk terug. Maar die twee bly in hul versteende posisies. Hy sit terug in sy sitplek.
Twee weke later sit Hector in ‘n kroeg in sy tuisdorp. Hy’s ontspanne. Hy het so pas gaan sit en ‘n bier ontvang van die kroegmeisie. Hy ken haar goed en stoot die silwerstukke wat sy as kleingeld uitkeer terug na haar toe. Sy glimlag, vat dit en tik daarmee op die toonbank uit erkentlikheid. Die kroeg, die Westend, is bykans verlate. Dis net snags dat dit ‘n gewemel afgee. Hy gee nie om om alleen te sit nie. Of liewer, hy verkies om alleen te sit, eerder as om met ‘n vervelige mens in gesprek te tree. Die helfte van sy bier het hy reeds weggesluk, toe hulle binnestap.
Dertig jaar gelede het Nelson Mandela President van die Republiek van Suid-Afrika geword. Dit was na ‘n lang uitgerekte oorlog in Namibië en grootskaalse onderdrukking van swartmense in die Apartheidsjare. Dit was in 1994. Die kinders wat daarna gebore is, staan bekend as die born frees. Soos die twee wat op daardie oomblik by die kroeg instap en langs hom plaasneem.
Hulle is met een oogopslag verslons. Die man bestel ‘n glas water, maar die meisie sit stil, met haar kop gestut op ‘n elmboog. Sy’s blond met die hare in ‘n stywe bolla agter haar kop vasgebind. Die gesiggie is fynbesnede, maar uitdrukkingloos. Die man lyk soos ‘n Beatle, miskien Paul McArthy. Dis oor die haarstyl. Maar altwee is klaarblyklik ongewas. Die klere wat hulle aan het, is vuil. Hulle teenwoordigheid aan die kroegtoonbank is ‘n misterie. Hulle het klaarblyklik nie geld nie. Twee hobos wat afwisseling soek van die eindelose gedrentel op straat. Miskien op ‘n bedelaarstog wat geen aalmoese dusvêr opgelewer het nie.
Hector kyk die meisie in die gesig. Sy kyk terug en kyk weg. Hy kyk na die man, maar die kyk onmiddellik weg.
“Pulani, bring vir die twee elkeen ‘n bier,” sê Hector.
Beide kyk onmiddellik na hom. Die meisie glimlag en die man kyk weg oor die toonbank en lig ‘n vinger vir Pulani. “Castles,” sê hy. “Dankie,” sê hy. “Ons is nou net beroof. Alles. Ons selfone en ons geld,” sê die man met erns, maar Hector glo hom nie. Hy’t te veel praatjies van straatmense al gehoor. Nie dat dit saak maak nie. Hulle is geneig om hul ongeluk te oordryf.
“Wat’s jou naam?” vra Hector.
“Martin, oom. En dis Ingrid.”
“Julle vanne?”
“Ek’s Kruger…”
“En ek’s Clarke,” vul die meisie aan.
Pulani sit die biere op die toonbank voor die twee neer. Hector betaal. Hy het nie eintlik die bedoeling om met hulle te gesels nie, maar hy verstaan dat hulle nou genoop sal voel om te sit en babbel. Hy’s ook bedag daarop dat hulle hom nou sal probeer melk. Maar dis ook reg. Hy’s nie benepe nie en is bereid om die twee so vir ‘n rukkie te onthaal.
Hulle drink bier uit dumpy-bottels uit.
“Het julle nie terug baklei nie?” vra Hector.
“Nee, oom, hulle het messe.”
“Ja, dan stry mens nie,” sê Hector.
“Speel oom pool?” vra die man genaamd Martin.
“Jare laas gespeel. Ek’s te oud en te bewerig vir potshots,” sê Hector lakoniek.
“Sy speel goed,” sê Martin en wys met ‘n duim na Ingrid. Sy lag saggies en laat haar kop sak.
Die kleingeld wat Pulani gebring het, lê voor hom op die toonbank. Hy selekteer twee tweerandstukke en stoot dit met sy vingerpunte oor na Martin toe. “Speel gerus.”
“Kom Ingrid,” sê Martin en hulle altwee staan op. Die pooltafel staan reg agter hulle. Martin gooi ‘n tweerand in die slotmasjien en die balle val klaterend uit.
Hector neem eers nie notisie nie. Toe hulle begin speel, draai hy egter skuins op sy stoel en bekyk die twee se doenigheid. Ingrid lê aan en wil ‘n bal pot, maar die poolstok se punt tref die bal op die toon en die witbal wip oor die teikenbal en bons rond op die tafel.
“Jy moet die stok styf teen jou lyf hou,” sê Hector.
“Nee, oom sal nou sien. Sy kan goed speel,” sê Martin.
Hector bekyk haar. Sy’s weer aan die beurt. Hy merk dat sy vetterig is, veral rondom die onderlyf. En haar pooltegniek is gebrekkig. Die handgreep van die stok hou sy amper ‘n halwe meter van haar lyf af weg, terwyl sy dit heen en weer beweeg, met die aanlêslag. Maar dan, tot sy verbasing pot sy die teikenbal.
“Sien oom,” sê Martin laggend, kom neem sy bier van die toonbank af en neem ‘n diep teug.
Hector wys vir Pulani met drie vingers om nog bier te bring. Hy betaal en drink van sy bier. Dis al sy derde. “Julle moet drink, ek gaan nou-nou loop,” sê hy.
“Ja, oom,” sê altwee. Elkeen het nou twee bierbottels op die toonbank. Hulle bly speel en Hector kyk nie verder nie. Hy draai terug en sit sommer aan allerlei en dink: sokker, wêreldpolitiek, sy familie en enige flenters herinneringe wat by hom opkom.
Hulle speel net een spel en kom sit weer by hom aan die toonbank. Beide konsentreer om die eerste biere af te sluk. Dit doen hulle met bekwame spoed, stoot die leë bottels terug oor die toonbank en neem gelyk die tweede biere.
“Wat gaan oom nou doen?” vra Martin.
“Gaan huis toe hierna,” sê Hector, maar dis nie waar nie. Hy’t g’n sinnigheid daarin om op daardie oomblik al terug te gaan nie. Dis sinneloos om tussen vier mure met homself opgeskeep te sit. Hy doen eerder kroegrondtes. Daarin is afleiding. Hy sê uit ervaring nie so nie. Netnou wil die twee saam.
“As oom wil kan ons oom se lyfwagte wees,” sê Martin ernstig.
Hector glimlag. Die meisie kyk na hom. Bestuderend. Hy het ‘n slegte gevoel oor die twee. Hy dink onwillekeurig aan die twee wat hy uit die bussie gesien het. Sou hulle so opgetree het? wonder hy. Daardie twee het verby desperaat gelyk. Born frees wat al heeltemal platgeslaan was. Die twee by hom lyk vol ondernemingsgees.
“Ek vat nie nonsens nie. As iemand skoorsoek kan hy dit kry…Sy ook. Sy kan haar man staan.”
“Ek is so grootgemaak,” sê Ingrid en teug aan haar bier.
Hector probeer om nie te veel te sê nie. Die skreiende geskiedenis van die twee is maar te ooglopend: werkloos, sentloos en vooruitsigloos. Hy drink sy bier klaar. Hy plak die bottel op die toonbank neer, vroetel in sy broeksak en haal die geld wat hy by hom het uit. Hy skil twee honderdrandnote af. Woordeloos sit hy die een noot voor Martin neer en leun dan verby hom en sit die ander noot voor haar neer. Die eerste noot verdwyn vinnig van die toonbank af, maar die meisie neem haar deel byna aarselend, voor sy dit omsigtig in haar jean se gatsak druk. Hector haal sy selfoon uit.
“Kan ons saam met oom gaan?” vra Martin met dringendheid in sy stem.
“Ag nee wat,” sê Hector. Hy pons die nommer van sy gereelde taxi op die selfoon in. Die toetse maak piep-piep-piep. Die taxi-operateur antwoord aan die anderkant. “KG, can you come and pick me up at the Westend?” vra hy.
“Sure.”
“I am waiting at the entrance.” Hy lui af.
“Waar bly oom?”
“In die ouetehuis by die Mall,” sê hy en probeer vaag klink.
“Ek weet waar dit is. Ons sal vir oom kom kuier.”
Hector staan op. Al staanende sluk hy die laaste van sy bier weg. Hy is haastig. Hy is nie lus om hulle met hom saam te piekel nie.
“Wat is oom se naam?”
“Hector,” sê hy en begin loop na die voordeur toe. By die deur kyk hy ‘n slag om en sien dat die twee hom stip sit en agterna kyk.
(Lank gelede was daar ‘n oorlog. ‘n Dwaasheid, soos alle oorloë is. Toe was hy jonk gewees, soos die born frees. Die propaganda-apparate van die Apartheidsregime het hom en sy makkers hemel en aarde belowe. Daar was ‘n vyand en ‘n doelwit. Die lewe het ironies genoeg betekenis gehad. Die jeug wat daarna gekom het, die born frees, het geen vooruitsigte nie. Veral nie ‘n oorlog om te veg nie. Oorlog fokus die verstand. Dinge is wit en swart en jy’t rigting.)
Hy leef ‘n afgesonderde bestaan. Kry omtrent net besoek van sy eks, nou ook al gevorderd in jare. Die twee seuns kom soms vir ‘n braai. Die klop aan sy deur so ‘n week na hy die twee in die Westend ontmoet het, is daarom onverwags. Hy maak sy woonsteldeur oop en die twee staan daar en glimlag van oor tot oor.
“Kom binne,” sê hy en stap terug in sy slaap/woonvertrek in omdat daar nie spasie vir mense is om langs mekaar te stap nie. Sy bed staan in die middel van die vertrek. ‘n Stoel en tafel staan in die spasie naaste aan die deur en anderkant die bed, vêrste van die deur af, staan twee stoele en ‘n ou werkstasie, sonder die desktop. “Sit,” sê hy en beduie na die twee stoele. Hyself gaan sit op die stoel by die tafel. Op die tafel staan ‘n boks wyn en ‘n glas, waarmee hy besig was.
“Ek het mos gesê ons sal vir oom kom kuier,” sê Martin toe die twee sit.
Hector lag en staan op en haal twee glase uit die kitchenette uit, hy het net drie en sit dit op die tafel neer. Hy skink. “Kom kry vir julle,” sê hy en gaan sit weer. Hulle stap om die bed en elkeen neem ‘n glas met so viervinger wyn in en gaan sit weer op die twee aangebode stoele. “Gesondheid!” sê hy luid en hou sy glas in die lug. Hulle lag net in reaksie en die drie drink wyn vir ‘n minuut of so in stilte.
(Toe hy oorlog toe is, was hy nog net 18. Niks van die wêreld af geweet nie. Tydens sy basiese opleiding het hy vir die eerste keer met geweld te doen gekry. Twee troepe in die barakke het stry opgetel en handgemeen geraak. Vuis geslaan. Hy onthou hoe die een uitgeslaan is en op die sementvloer neergeslaan en daar gelê en ruk het. Hy wonder oor die jongkêrel Martin, wat aanbied om hom te beskerm. Miskien is hy en die meisiekind slagoffers van boewe.)
Hy word gereeld deur die twee besoek. Hy maak ‘n punt daarvan om vir hulle kos en geld te gee. Hulle steur hom nie werklik nie. Martin kom met die mees verbasende stories vorendag. Vertel dat hy sy hand in ‘n byenes insteek en die koningin uithaal. Die Polisie vloek. Sekuriteitswagte vloek. Weg wil gaan kus toe. Die meisie self vertel stories vol bravade: ‘n boef en ‘n rower gryp haar om die nek. Maar dit moes hy nie doen nie, vertel sy. Sy veg met hom en hy steek haar met ‘n mes in die sy. Die mes dring net onder haar ribbes drie of vier sentimeters in, maar sy voel niks nie, so woedend is sy. Niemand gryp haar aan die nek nie.
Die twee is ‘n absolute kontras met die twee wat hy deur die bussie se venster gesien het. Daardie twee het ‘n verslaentheid geprojekteer wat hom bybly. Hul liggame was ‘n stil kreet: God help ons!
Soms kom net een van die twee kuier. Of Martin, of Ingrid. So vind Hector dat Martin op die meisie neersien. Hy wil die vroumens los sê hy. Hy wil sommer die pad vat kus toe en nooit weer terug kom nie. Soms klink sy stories na hallusinasies. So vertel hy van geeste en ‘n gewelddadige insident. Klaarblyklik loop hy baie deur ‘n begraafplaas. Daar het ‘n gees, glo ‘n swart gees hom gevolg, maar die gees wil nie vir hom sê wat hom kwel nie. Dan vertel hy weer van die hoenders wat hom pla as hy wil eet. Die goed kom pik aan sy kos. Die mense op wie se werf hulle in ‘n Wendy-huis bly, het ses hoenders gehad. Een oggend toe almal wakker word, lê al ses hoenders daar verwurg en met ‘n bruin kwyl wat by hul snawels uitloop. Die mense beskuldig hom dat hy vir die hoenders se dood verantwoordelik is.
Die meisie, Ingrid, is heeltemal anders wanneer sy alleen kom kuier. Sy openbaar ‘n sin vir verantwoordelikheid en ‘n dromerigheid, waarvan Hector hou. Sy praat van eendag as sy haar eie huis het. Uiteindelik praat sy ook oor die kind wat sy en Martin het. Die kind is in pleegsorg. Sê “lollie” as hy “lorrie” wil sê. Op ‘n ander keer vertel Martin dat die kind spinnekoppe eet. Modder eet. Ingrid vertel dat die kind laat gebore is. Martin lag luid en sê “ja dis omdat hy geweet het dat hy die wêreld van die Krugers binnegaan”.
(Hy droom van die twee born frees op die middelmannetjie in Johannesburg. Die seun wat op sy maermerries sit, is ‘n enigma. Dis die meisie se gesig wat hy in sy droom sien. Die glimlag is breër. Sy wil iets vir hom sê. Hy dink hy weet wat sy op die hart het: Neem ons saam. Kan ons by jou kom bly? Sy swyg oor geld. Dis haar modus operandi. Dis nie vir hom duidelik of sy bang, of trots is nie.)
Sy ma is siek. Eintlik een lang uitgerekte sterfproses. Martin en Ingrid sit by hom op die stoele van die tuinstel, op die gras agter in die tuin van sy woonstel. Hy sê hy sal weer Johannesburg toe moet gaan. Sal seker so ‘n week weg wees. Martin sê hulle sal enige tyd die woonstel oppas. Hy sê dit hoopvol. Dit moet erg wees om in ‘n Wendy-huis te bly. Uit hul sêgoed is dit duidelik dat hulle nie goeie verhoudinge met die familie het nie. Miskien voel die familie hulle val te rond en wil nie ‘n begin maak nie. ‘n Oppassery van die woonstel is buite die kwessie. Die ouetehuis se bestuur sal die aapstuipe kry, as hulle daar kom intrek. Hy lag die voorstel af, gemoedelik.
Hy vertrek weer Johannesburg toe. Die keer klim ‘n rekenaarman langs die pad op en kom sit langs hom. Die man verduidelik vir hom deur watter woonbuurte hulle ry. Hierdie keer is daar nie oponthoude, of ompaaie nodig nie. Ons is nou in Boksburg, verduidelik die man. En sowaar: dieselfde middelmannetjie met die meisie en die seun sittend op sy maermerries. Hy bekyk hulle intens. Nou sien hy dat die meisie besonder mooi is. Maar maer en verinneweerd. Hy wens sy wil skielik lewe kry. Vir hom kyk, iets met haar oë ten minste sê. Hy fokus op die seun. Dié kyk egter net stip voor hom op die grond.
Met die terugkomslag is hulle nie weer daar nie. Hy vermoed dit is omdat die bussie eers halfvyf die middag vertrek het en hulle terug is na waar hulle bly. As hulle gelukkig is, bly hulle seker ook in ‘n Wendy-huis. Nugter weet. Dis as hulle ‘n dak oor hul koppe het. Soveel bly snags op straat. Slaap op trappe voor toe deure. Hy kan hom die weerloosheid van die meisie voorstel. As die nag daal, kruip die bendes uit hul gate uit. Sy’s klaarblyklik die seun se voog, of beskermengel. Wat hulle verbintenis ook al is. Die bussie ry die nag tegemoet. Die gedagte aan die twee laat hom sleg voel. Skuldig. Asof hy hulle ‘n verduideliking en kompensasie skuld.
(Aan die einde van sy derde dienstermyn op die Suid-Wes Afrikaanse noordgrens, het die bosoorlog nog nie in felheid gewoed nie. Hy was in die Derde Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon. Soos sy makkers was hy ‘n gesoute soldaat teen daardie tyd. Sinies en nie meer instrukteursverskrik nie. Hy was toe amper 20 jaar oud. Die aflos het in ‘n konvooi lorries opgedaag. Sy bataljon kon nie wag om spore te maak nie. Dit was naby die einde van sy diensplig, omdat hy vrywillig verlengde diensplig gedoen het. Hulle het die oorlog vrygespring net voor dit begin het. Hulle het in groepies rondgestaan en die nuwe aankomelinge gadegeslaan. Dit was ‘n verstommende gesig. Die aflos was blote seuns. Agtienjariges. Die meeste gesigte was stralend en onskuldig. Die uniforms vlekkeloos, die stewels blink. Hulle, aan die anderkant, het daar gestaan in hulle ongestrykte browns, gatvol en verheug tegelykertyd. Daar was uitkoms.)
Spoedig na sy terugkeer daag Martin en Ingrid weer op. Martin het ‘n wond op sy neusbrug en wonde aan sy vingers. Dis van boskap om vuurmaakhout op straat te verkoop, vir wanneer mense wil vleisbraai. Die twee lyk erger as tevore. Maar toegee is min. Hy vertel dat hy ‘n werk gekry het en nou help bakstene maak. Sy werk vir ‘n begrafnisondernemer. Verkoop polisse. Hector luister na hulle. Hoeveel van die stories is waar? wonder hy. Maar hy’s nie ‘n veroordelende mens nie. Hy dink hy verstaan. Hul dilemma is groot. Die demokratiese regering wat in 1994 oorgeneem het, het die land in die grond ingery. Werkloosheid is bo die 50% merk. En dis veral die born frees wat ly. Hy deel kos en geld uit. Dis min, maar dit sus sy gewete.
Die twee born frees in Boksburg spook by hom. Nie Martin en Ingrid soseer nie, bloot omdat hy voel hy iets aan hul lot doen. Soms sukkel hy om die meisie op die middelmannetjie se gesig te onthou. Omdat sy geestestoestand al vir jare in ‘n warboel is, sien hy ook vir jare al ‘n psigiater. Hy bespreek die born frees met haar. Sy luister aandagtig. Knik met haar kop en sê niks nie. Toe hy stilbly sê sy hy moet homself nie met valse skuldgevoelens opsaal nie. Daar’s ander magte, ander mense, by name die politici, wat die probleem moet pak en oplos. Wat jy doen is alreeds genoeg. Wat jy ook in die gesig moet staar, is dat jou gevoelens jeens die meisie miskien ‘n onderdrukte seksuele verlange is. Dink daaroor, sê sy, dis nie vreemd of pervers nie. Heeltemal menslik. Sy wek die oer-man in jou. Jy voel jy moet die gesin, breed gestel, beskerm. Hy vererg hom, maar laat niks blyk nie. My God! dink hy, is ek nou ‘n oermens omdat lyding my ontstel?
Hy besef wel dat hy niks aan die nood en lyding kan doen nie. Bloot omdat hy nie ‘n politikus, of aktivis is nie. Dis nie in sy aard nie. Hy kan alleen maar aalmoese uitdeel.
In die vroeë lente kom sy ma te sterwe. Hy moet weer Johannesburg toe. Hy ry weer met die bussie. Heelpad is hy bedag op die straat in Boksburg, waar die meisie en die seun bedel. Is dit die regte woord? Hulp vra? Die mensdom herinner aan hul lot? Eerbare burgers uit ‘n paar rand probeer swendel? ‘n Bestaan probeer maak?
Hoewel hy gewoonlik rigtingloos is, herken hy die straat in Boksburg, toe die bussie daar indraai. Hy staar deur die ruit. Die twee is daar. Presies in dieselfde houding, soos hy hulle vantevore gesien het. Sy nuuskierigheid word beloon, toe die verkeerslig rooi slaan en die bussie oorkant hulle moet stilhou. Hy sien nou dat die meisie die niet in staar. Die seun staar steeds na die plaveisel op die middelmannetjie. Hulle kan tog nie net so in daardie houding dag in en dag uit staan nie? Iemand gee hulle tog sekerlik iets? Hul hele teenwoordigheid smeek om aandag. Hoekom steek sy nie ‘n hand uit nie? Waar’s die kaartbord met die bedelrede? Die lig slaan groen en die bussie spoed verder met die verkeer langs.
Die aand na die roudiens, sit hy en sy broer buite en gesels oor wêreldsake. Maar sy gedagtes is by die twee bedelaars, die meisie en die seun. Daardie aand droom hy. Hy’s weer in die straat in die bussie. Maar hy sien hulle nie. In stede daarvan sien hy ambulanse wat beddens inlaai. ‘n Swart vrou draai na hom toe en sê hulle is op slag dood. Hy voel verskriklik hartseer in die droom. Toe skrik hy wakker.
Die volgende dag vat hy weer die halfvyf-bussie terug. Seker daarom sien hy hulle nie weer in die straat nie. Maar die droom knaag aan sy ingewande. Hy’t ‘n gevoel hulle is in ‘n verkeersongeluk dood.
(Die feit dat hy nooit aksie in die grensoorlog gesien het nie, beteken nie dat daar nie verliese was nie. Kort voor hulle vertrek terug Republiek toe, is daar ‘n voorval wat aan nalatigheid toegeskryf kan word. Sy peloton staan aangetree na ‘n week in die veld. Die pelotonsersant neem hulle deur die dril om hul gewere te beveilig. Een soldaat voer nie die dril behoorlik uit nie en toe hy by die “ontspan vere” deel kom en die geweer se sneller trek, skiet hy die soldaat in die ry voor hom in die rug. Dood.)
Martin en Ingrid kom weer kuier. Hulle is vrolik. Iemand het hulle gevra om sy huis op te pas. Die huis het elektrisiteit en warm water. Hulle is geskrop en voel lus vir die lewe. Hy gee kos en geld. Toe vertrek hulle weer vrolik.
Dit word aand. ‘n Slegte tyd vir bedelaars. Sigbaarheid is nul en aalmoese baie skaars. Die bendes en die tsotsi’s kom op straat uit. By die dam in die middel van die stad, langs ‘n groot luukse winkelsentrum, skuil ‘n gesin op ‘n eiland in die dam: oupa, pa en twee klein kinders. Die tsotsi’s steek die oupa met ‘n mes in die hand. Die volgende dag nader die pa Hector in die winkelsentrum. Die oupa staan agter die pa. Die pa verduidelik hulle dilemma. Die oupa tree vorentoe en wys die wond aan sy hand. Hector gee hulle ‘n paar rand.
In sy hart is Hector nog steeds die jong soldaat. Hy voel hom eens met die lot van die born frees. Hulle spook by hom. Dis ‘n nimmereindigende nagmerrie. Hy droom baie aande van die meisie en die seun wat op sy maermerries sit. Dis ‘n oorlogsituasie. Elke dag moet jy jou taktiek beplan en hoop vir die beste. Elke aalmoes wat ontvang word, is ‘n oorwinning. Elke aand wat jy honger en weerloos gaan slaap, is ‘n neerlaag en is jy beleër. Daar’s nie ‘n finale oorwinning nie. Die oorlog is nimmereindigend. Die vyand se name is armoede en ontheemding.
(Toe die Derde Infanteriebataljon terug op Potchefstroom is, kry hulle ‘n sewe dae pas. Dis die laaste verlof, want oor drie maande klaar hulle finaal uit. Sy ouers gaan haal hom. Terug in sy tuisdorp, sit hy net sy bulsak met sy klere neer in sy kamer en verskoon homself. “Waarheen gaan jy?” vra sy ma ontevrede. “Ek gaan net ‘n draai stap,” sê hy. Hy stap deur die strate van die woonbuurt. Dis aand. Die woonbuurt is vredig. Mense sit op hul stoepe en gesels en lag. Die gesinne is bymekaar. Hy loop sonder om êrens herken te word. Daar’s geen bedelaars nie. Daar’s geen bedelaars nêrens in die stad nie. Dit was oorlogstyd, maar die oorlog was vêr weg op ‘n ander land se grens. Nou het ‘n ander oorlog uitgebreek. Maar die vyand is onsigbaar én werklik, dink Hector. Die oorlog vir die siele van die born frees.)
Born frees so aan die orde van vandag. Die skrywe baie geniet. Verlede en hede wat saamloop, vertel ons land se wel en weë. 👍