deur Ferdi Wheeler
Geert Versluis was op die punt om in die pikdonker te kapituleer. Die krag van die onstuimige see was net eens te veel. Weereens ondergedompel deur ’n reusagtige brander, het hy water gesluk en spartelend na suurstof gesmag. Ek verdrink, het hy gedink. Maar net toe rol nog ’n metershoë deining in, gryp hom, en slaan hom hoog op teen die strand neer. Hy begin handeviervoet kruip. Desperaatheid motiveer hom. Die see probeer hom terugtrek, toe brander na brander oor hom spoel en hy met sy hande in die sand moes grawe om die krag van die water wat terugvloei see toe, te beveg. Dit het soos eeue gevoel, maar uiteindelik kruip hy verby die hoogwatermerk, waar die bombardering meteens afneem. Hy het ’n ent gevorder teen die voet van ’n duin uit, maar sommer so in die kruip sy bewussyn verloor.
Die seiljag het die rif daardie oggend omstreeks halfvier getref. Die twee maste was teen daardie tyd deur die 100 kilometer per uur winde geknak en het oor die kante gehang. Dit was net ’n speelding vir die elemente. Die golwe het met woeste krag daaroor geslaan en dit genadeloos na die koraalrif gedryf. Onvermydelik het die seiljag gekreun en gebewe terwyl dit op die rif gedwing en binnegedring is.
Die enjinkamer is binne minute oorstroom en alle elektriese krag is verloor. Chaos het in die donkerte ontstaan. Bemanning en passasiers het vir mekaar geskreeu. Die opblaas reddingsvlot was op die voordek gemonteer, maar dit kon net sowel op die maan gewees het. Strome op strome seewater het oor die geteisterde vaartuig gebars, waarvan die krag dit reeds begin verwoes het. Geert Versluis was op pad na die voordek toe hy eenvoudig omgeslaan en oorboord gespoel is.
Met die oggendson warm op sy rug, het hy sy positiewe herwin. Hy het op sy maag gelê met sy regterwang wat op die wit sand druk, en sy oë oopgemaak. ’n Klein krap het op sy linkerwang gesit en die skerp punte van die skaaldiere se pote het sy vel gekielie. Hy het ’n hand opgelig en dit weggeslaan.
Sy lippe was droog en hy was dors. Somber het hy op sy rug omgerol en oor die steeds skuimende see uitgekyk.
Die wrak van die seiljag het ’n halwe kilometer verder op die rif gelê. Die inkomende branders het dit sistematies aan splinters geslaan. Toe sien hy die reddingsvlot. Heldergeel met ’n puntige dak, het dit na die strand gedryf. Die wind van die see af het dit aangestoot. Hy het regop gesit, maar vir ’n oomblik was alles swart voor sy oë, voordat sy kop weer opgeklaar het. Hy het regop gesukkel en op wankelrige bene op die donkergrys en nat sand oor die strand geloop. Hy moes die vlot onderskep. Daar was water en kos aan boord, en wie weet: die res van sy reisgenote op die seiljag.
Die vlot het na ’n punt noord van hom gedryf, omtrent ’n kilometer verder. Hy het hom so vinnig as moontlik in sy verswakte toestand gehaas om dit te onderskep. Die vlot was reeds in die klein branders naby die strand toe hy dit bereik het. Hoofsaaklik gedryf deur dors, het hy tot by sy heupe in die water gewaad en die tou vasgegryp wat om die ronde vorm van die vlot gespan was. Die kaptein het aan hom verduidelik dat die vlot vir ses mense ontwerp is en dat dit binne toegerus was met waterhouers en droë rantsoene en so aan.
Hy het aan die tou getrek en met die vlot na die strand begin waad. Leeg weeg dit slegs 35 kilogram, maar hy het dadelik gevoel dat dit baie swaarder was. Dit kon net beteken dat daar oorlewendes binne was.
“Kan julle my hoor?” het hy geskree terwyl hy die vlot getrek het.
Daar was geen antwoord nie. Die inkomende branders het gehelp om die vlot voort te stoot en hy het met horte en stote gevorder. Die volgende oomblik het die vlot die bodem getref met water wat daaromheen vloei en maal. Hy het na die ingang gesirkel. Die flap was toe en hy het dit oopgerits. Die dowwe lig binne het ’n menslike figuur onthul, wat hy herken het as dié van die Chileense skoonheidskoningin Anna Maria Hernandez.
“Hallo, is jy oukei?” het hy geskree.
Maar sy was stil en bewegingloos. Hy het homself oor die opgeblaasde sykant van die vlot gehys en op sy maag binnegeseil. In die proses het hy onwillekeurig aan haar liggaam geraak en haar vlees was koud om aan te raak en hy het gewonder of sy dood was. Hy het sy bene onder hom opgetrek sodat hy in ’n sittende posisie kon kom.
Hy het na haar gekyk. Sy het op haar rug gelê met haar gesig van hom af weggedraai. Sy het ’n pienk sweetpak aangehad. Die ooglede was nie heeltemal toe nie en haar groot bruin irisse was gedeeltelik sigbaar. Hy het vorentoe na haar toe geleun en ’n hand op haar nek gesit, waar die hoofslagaar behoort te klop.
“Anna Maria!” het hy geroep en haar op die wang geklap. Hy het haar weer geklap, maar harder. Sy het steeds nie wakker geword nie. Maar toe, tot sy verligting, het hy die ligte deining van haar bors opgemerk. Sy was lewendig.
Hy het van haar af weggedraai na die lywige reghoekige houer in die muur van die vlot by die ingang. Hy het dit oopgerits en laag op laag van 125 milliliter sakkies water ontdek. Dit was aluminium sakkies met klein kraantjies. Hy het een gegryp, die kraantjie oopgedraai en daaruit gedrink om sy dors te les. Twee meer het gevolg, toe het hy een vir Anna Maria gevat. Haar lippe was effens oop en hy kon die eweredige wit pêrelagtige tande daaragter sien. Versigtig het hy water tussen haar lippe in haar mond laat loop.
Vir ’n paar sekondes was daar geen reaksie nie, maar toe hoes sy en maak haar oë oop. Hy het die water steeds in haar mond laat drup. Sy het egter ’n hand gelig, die sakkie by hom geneem en voortgedrink.
“Waar is die ander?” het hy gevra.
Twee groot bruin oë het na hom gekyk, maar daar was iets wilds in daardie oë. Trane het ook in die hoeke gevorm.
Jy is veilig,” het hy gesê en uitgereik en wou aan haar skouer raak, maar sy het weggedeins. Onseremonieel het sy regop gesit. Die bruin oë was vol vrees.
“Hei, ontspan,” het hy gesê, ontsteld oor die rou emosie wat sy uitgestraal het. “Ek bedoel jou niks kwaad nie. Regtig!”
Die woorde kon nie haar gemoed sus nie. In plaas daarvan het sy na die oop flap gekruip en uitgespring.
Hy het gevolg, maar teen die tyd dat hy buite was, het sy reeds die naaste duin begin uitklim, soms op haar knieë in die sand geval, maar sy het eers gestop toe sy die bopunt van die duin bereik het, waar sy gaan sit het.
Hy het ’n oomblik gehuiwer. Sy was duidelik in skok, selfs ietwat waansinnig. Hy het haar die rug toegekeer, weer die tou om die vlot gegryp en dit van die branders na die ferm grond bokant die strand begin trek. Die vlot, het hy geglo, sou hulle help red. Enige vliegtuig van soek-en-reddingsdienste sou dit dadelik sien. Die kaptein het klaarblyklik nie tyd gehad om die elektroniese noodseintoerusting in die vlot te laai nie, maar hopelik het hy noodseine in hul benarde situasie tydens die storm uitgestuur.
Hy het weer in die vlot geklim en deur die ander houers gesoek, waar hy ’n fakkelpistool en ’’n noodhulpkissie gevind het. Hy het die pistool gelaai en dit by sy belt gedruk. Daar was altesaam 24 liter water. Hy het ses sakkies en ’n paar energiestawe wat hy ook in die houers gevind het, geneem. Hy het die duin uitgeklim na waar Anna Maria gesit het. Halfpad op die duin het sy opgestaan en van hom af weggestap.
“Wat is fout met jou?” het hy vir haar geskree en die water en die energiestawe laat val op die plek waar sy gesit het. “Ek weet nie hoekom jy vir my bang is nie, maar maak soos jy wil,” het hy gesê en weer teen die duin afgeklim. Die vlot het goeie beskerming teen die son en die wind gebied en hy was van plan om daarin te bly totdat hulp opgedaag het.
Voordat hy terug in die vlot geklim het, het hy gesien dat sy die water en die energiestawe optel en weer op haar plek bo-op die duin sit.
“Mal vrou,” mompel hy toe by homself.
Binne die vlot het hy homself gemaklik gemaak. Daar was genoeg plek om gemaklik op sy rug uit te strek en te rus. Gou het hy aan die slaap geraak.
Hy het ’n uur later wakker geword. Dit moes omtrent ’n uur na twaalfuur gewees het. Hy het outomaties aan Anna Maria gedink en gewonder of sy van plan verander het om by hom aan te sluit in die beskerming van die vlot. Aangesien dit vir ses mense ontwerp was, was daar meer as genoeg plek vir hulle twee.
Hy het by die vlot se ingang uitgeleun en rondgekyk. Eers het niks vreemds sy aandag getrek nie. Toe klim hy uit en merk op dat Anna Maria nie meer bo-op die duin sit nie. Maar toe sien hy haar. Sy was reeds sowat 400 meter van die strand af, besig om te swem en golwe te ry op pad na die wrak.
Sy was in lewensgevaar. In haar geskokte en uitgeputte toestand kon sy verdrink. Dan was daar die rif. Dit was naaldskerp en as die golwe haar daarteen sou gooi, sou sy aan repe gesny word. Maar die grootste gevaar was die wrak. Die see was steeds rof en dit het die wrak genadeloos geslaan. So het dit disintegreer en opgebreek met elke donderende golf wat daaroor gespoel het.
Hy het die see ingehardloop. “Kom terug!” het hy oor en oor geskree. Sy stem het egter verlore gegaan in die uitgestrektheid van die see en te midde van die aanhoudende gebrul van die wind en die branders. Uiteindelik het hy geweet dat hy magteloos was om haar te help, of om haar te red.
Die aard van die verhouding tussen die grysbaard kaptein en haar het eers toe tot hom deurgedring. Sy was nie net ’n mooi bimbo wat op ’n avontuur op die seiljag vertrek het nie. Sy en ou grysbaard was minnaars. Terwyl hy hulpeloos op die strand gestaan het, het hy onthou hoe die twee hulle afgesonder het en altyd met etenstyd in mekaar se geselskap rondgehang het, hoe hulle mekaar se geselskap op die dekstoele langs mekaar geniet het, hoe sy by hom in die stuurkajuit aangesluit het, en hoe hulle in mekaar se kajuite verdwyn en weer verskyn het.
Wel, het hy gedink, dis haar begrafnis. Ek waag dit nie daar buite saam met haar nie, anders vergaan ons albei.
Hy het haar bewonder vir haar rou moed, durf en vasberadenheid, moet gesê word. Of het hy daardie eienskappe aangesien vir die waanbeelde van ’n vrou wat desperaat verlief en bedroef was?
Na ’n uur het hy haar liggaam sien op en af dobber in die deining langs die rif waar die wrak beland het. Hy het geweet hy kyk na ’n selfmoord. Die wrak het oor haar uitgetoring. Die twee maste van die seiljag was steeds aan die wrak vas en het direk in die water gewys waar sy was. Sy het een vasgegryp en haarself daarop begin ophys. Oomblikke later het sy bo-op die wrak gestaan. Haar pragtige lenige
lyf is beklemtoon teen die diepblou van die lug. Sy het duidelik deur patryspoorte en krake in die romp na haar minnaar gesoek.
Uiteindelik het hy gesien hoe sy regop op die wrak staan en oor die see uitkyk. Oor en oor het haar lyf by die middel gebuig en hy het besef dit was omdat sy geroep het, kaptein grysbaard se naam oor en oor geroep het.
Toe sien hy dit kom. ’n Wildewragtig-golf, ’n oorblyfsel van die woeste storm van die vorige nag, het suisend op die wrak aangesnel gekom. Sy het nog steeds geroep en geskree toe die golf oor die wrak ontplof en haar liggaam op die rif gooi. Sy het ondergegaan en hy het haar nie meer gesien nie.
Hy het verskrik op die duin bly sit. Vir ’n lang tyd het hy so gesit. Toe word hy bewus van die geluid van ’n helikopter. Hy het in die lug opgekyk en ’n Wasp-helikopter van die Suid-Afrikaanse Vloot oor die see na die wrak sien vlieg, maar dit was te laat vir haar.
Hy het die fakkelpistool uit sy belt getrek, dit in die lug gehou en dit afgevuur. ’n Skitterende rooi fakkel het die lug opgestyg. Dit het helder gebrand en toe uitgedoof – net soos die liefde van Anna Maria Hernandez.

Baie realisties geskryf, baie goed!
Goed geskryfde boeiende verhaal, mens word deel van die nood en bittersoet einde.