deur Elize Ehlers

Kersfees lȇ om die draai. Daar is oral Kersversierings en Kersliedere wat die opwinding aanblaas. Kersvader daag by die Mall op:

“Kersvader! … Kersvader! roep opgewonde kinderstemmetjies uit. Hulle verdring mekaar, want almal wil op sy skoot klim vir ‘n foto. Sommige ouers druk hul skreeuende babas in sy arms:

“Ag, is dit nie te cute nie?” sȇ-vra een van die ma’s ingenome. Sulke ouers moet sommer in hegtenis geneem word vir kindermishandeling! dink ek vies.

Ek kyk met weersin na ‘n kind wat op die vloer lȇ en gil. Hy stamp sy voete en swaai sy arms wild: “ek wil ‘n groen fiets hȇ, nie ‘n bloue nie!”

Die vloerbestuurder kom uitasem aangedraf: “Mevrou, ons het ‘n groen fiets in ons stoor opgespoor!”

Die kind staan nonchalant op en draai sy rug op hulle. Klein pes, hy sȇ nie eers dankie nie!

Ek is haastig en beur met my ronde lyfie deur die gemaal na die naaste uitgang van die Mall om by my gunsteling plekkie uit te kom. My pers spiky hare lȇ teen dié tyd vasgeplak op my kop van die hitte. Seker nie ‘n baie aantreklike gesig nie, maar “so what, who cares?”

Die stowwerige reuk van die winkel tintel deur my are. Dit was nog altyd vir my lekker gewees om deur die rakke met sy antieke items te dwaal.

“Goeiemiddag Marinda-boekwurm en hoe gaan dit vandag met jou?” vra oom Hans goedig. Daar is lagkreukeltjies om sy oë. Sy lang grys baard en weglȇ-snor is soos altyd netjies versorg.

“Hallo, oom Hans,” antwoord ek stokflou.

Die boeke-afdeling trek my soos ‘n magneet. Die reuk van ou papier betower my. Oom Hans weet al lankal dat ek tred verloor met tyd wanneer ek eers begin lees. Dis stil en rustig. Hier kan ek die hele dag met ‘n boek in ‘n gemakstoel deurbring.

“Dis amper toemaaktyd, kindjie,” roep oom Hans my.

Ek draal eers vir oulaas tussen die rakke rond en verstom my aan al die oudhede. Gefassineerd staar ek na die koper teepot in my hande. Dit is asof dit ‘n magiese krag besit wat my daarvan weerhou om dit op die rak terug te sit.

“Oom Hans, ek móét hierdie teepot hȇ!”

Hy hap eers na lug, maar besluit dan om stil te bly. Die pot het ‘n manier om altyd sy weg terug te vind na sy winkel.

Dis eers toe ek my op die sypaadjie bevind, dat ek besef dat ek geen geld oor het vir kos nie. My maag skree van die honger! Met die teepot styf onder my arm tik ek my PIN-nommer by die ATM in. Dalk is daar nog ‘n paar rand beskikbaar. My oë sukkel om te fokus toe ek die enorme bedrag sien … R500 000! Hoe is dit moontlik!? Die bank is nog oop en ek glip gou in om vas te stel wat gaande is.

“Dit is ‘n wettige transaksie,” stel die kassier my gerus.

Oorbluf neem ek my sitplek in by ‘n koel restaurant. Die ergste gedrang het afgeneem en sagte Kersliedere klink in die agtergrond op. Die Kersversierings is nie uitspattig nie – hier kan ek rustig dink. My emosies ruk handuit en ek begin uitbundig te lag en dan skielik te huil.

“Is jy okay?” vra die restaurant-eienaar bekommerd.

My trane droog vinnig op. “Natuurlik is ek okay,” sȇ ek met ‘n stralende glimlag.

Hy kyk my agterdogtig aan, skud sy kop en loop weg. Toe ek klaar geëet het, besluit ek om nog ‘n paar inkopies te doen.

“Is alles nog reg?” vra die verkoopsdame by die aantrekhokkie.

“Ja … ja … die rok is perfek vir die dinee. Ek kort nog net skoene wat by die uitrusting sal pas.”

By die juweliersware-winkel bederf ek myself. “Hiérdie ketting met sy bypassende oorbelle pas u uitstekend!” laat ek my ompraat.  

Terug by die huis stal ek my inkopies op die bed uit om dit te bewonder. Dit is eers tóé dat ek besef dat my teepot weg is! Al die winkels is nou toe, so ek sal eers môre op my spoor kan teruggaan om hom te soek.

Ek kry die teepot nêrens nie!

‘n Boemelaar keer my voor. “Juffrou, ek is honger. Wil u nie asseblief hierdie pot by my koop nie?” vra hy in ‘n smeekstem.

Ek is so ontsteld dat ek eers bo-oor hom kyk, maar toe val my oë op die teepot. Ek gryp die teepot aan sy tuit en druk ‘n paar note in sy hand. Soos blits styg ek op en beland voor ‘n sneeubedekte huisie.

Ek steier amper agteroor van skrik toe klein dwergmensies uit die huisie verskyn en om my begin dans. Hul sing met ogies wat ondeund skitter: “Jou wense lȇ nie onder ‘n Kersfeesboom nie, net die teepot weet wat is jou droom.”

My oë staan stokstyf toe Kersvader skielik langs my land met sy slee, kompleet met takbokke en al. Hy sê niks, laat rus net sy hand vir ‘n wyle op my kop en trek windmakerig weg.

Ek kyk verdwaas om my rond. Die huisie en dwergmensies is eensklaps weg!

“Neem my tuit in jou hand,” sȇ die teepot onverwags.

Ons styg op en begin vlieg. Dit neem my na ‘n weeshuis waar kindertjies huil, omdat hulle nie ouers het nie. By die aftree-oord is oumensies wat hartseer voor hulle uitstaar, omdat hulle kinders hulle vergeet het. Ons laaste stop is by ‘n armsalige huisie waar die nood hoog is.

“Ek verstaan nie,” sȇ ek hartseer.

“Marinda,” sȇ die teepot. “Ek het vir jou genoeg geld gedeponeer om vir mense en kinders wat hartseer is of dit nie breed het nie, geskenke te koop. Jy kan selfs geld gee as jy wil. Daar is egter ‘n voorwaarde daaraan verbonde. Jy moet dit self aflewer, ‘n rukkie vertoef, en hierdie briefies daarby gee.”

Ek word stadig wakker. Was dit alles net ‘n droom gewees? My oë val op die briefies. Ek maak een oop en lees: “Jesus is lief vir jou en ek ook.”

Dan breek die ware betekenis van Kersfees tot my deur: vreugde, vriendelikheid, vrygewigheid én om die geboorte van Jesus te vier.

Ek haas my na die antieke winkel. “Oom Hans!” roep ek opgewonde uit. “Oom sal nóóit raai wat gebeur het nie. Die teepot wat ek gekoop het … Oom Hans? … Hoe het die teepot terug beland op die rak?” Oom Hans glimlag onderlangs, kyk af en skop die Kersvader uitrusting onder die toonbank in. Toe hy opkyk, knipoog een van die opgestopte takbokke vir hom!

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply