skrywer: Deon C Venter

Anton val uitgeput neer op die bank in sy nuwe voorhuis. Oral staan bokse pakgoed wat wag vir die uitpak, en hy gluur een van die swaarste met afkeur aan. ‘Jou skuld my rug is amper af’, dink hy en skuif ‘n los kussing onder sy stuitjie in. Die deur van die klein woonstelletjie staan oop en veroorsaak dat die wind aangenaam deur die oop balkondeur inwaai, ‘n paar draaie in die woonstel maak en ongeërg by die voordeur uitwaai. Anton maak sy oë toe en verlustig hom aan die vars see-reuk en klanke wat van onder in die straat na sy woonstel stroom. Die trekkery van Johannesburg af was uitputtend en om nie tou op te gooi nie moes hy homself kort-kort daaraan herinner dat dit alles vir die beste is en dat sy lewe nou uiteindelik ‘n stap in die regte rigting geneem het. Hy weet hy kon sekerlik werk in Johannesburg gekry het, maar dit sou meen dat hy nog tenminste drie maande moes loop en werksoek terwyl die spaargeld in sy bankrekening al minder en minder word. Die werk in Kaapstad het onverwags eendag in sy skoot geval. Hy het beskik oor al die vaardighede wat verlang is en op die ingewing van die oomblik sy aansoek ingestuur. Twee weke later is hy in kennis gestel van sy suksesvolle aansoek, en hier is hy nou.

 

Twee ure later maak Anton sy oë weer stadig oop en kyk van sy plek op die bank weer na die woonstel. ‘Nou wel bietjie klein, maar die uitsig maak op vir al die ander tekortkominge’, dink hy en staan op terwyl hy sy oë ver op die donker grys horison van die see hou wat uitgestrek voor hom lê. Hy gaan staan teen die traliewerk handreëling van sy balkon en neem weer die uitsig in. Die wind speel met sy hare en die klank van motors, skeepshorings en die lae brom van die brekende branders is musiek vir sy ore.

 

Hy voel meteens ‘n koue rilling deur sy lyf trek en al die aangename gedagtes slaan op die vlug as sy ore liggies begin suis. Hy kyk verskrik af na onder, links en regs, maar kan niks sien wat hom skielik so vreemd laat voel het nie. ‘Net die wind en die lugdruk hier’, troos hy homself onsuksesvol en wil net omdraai om die woonstel weer binne te gaan as hy iemand sag hoor groet. Hy swaai om en kyk weer links en regs, af na onder, maar daar’s niemand. Hy bly stil staan om die hare op sy lyf kans te gee om weer te gaan lê, en wil net weer ingaan as hy die stem weer hoor. Die keer skuins van bo.

 

Hy kyk verskrik op en sien dan vir die eerste keer die meisie teen die reling van die balkon staan. As gevolg van die feit dat die woonstel waarin hy is redelik klein is, is die volgende stel balkonne redelik na aan hom. Hy moet sy seer nek ver agteroor buig om die meisie mooier te kan sien. ‘Goeie naand’, groet Anton en voel skielik simpel oor die hele koue rilling gedoente. ‘Ek het seker lekker dom gelyk van daar bo af’, dink hy en staan nader aan die reling sodat hy die meisie beter kan sien. ‘Ek sien jy’s nuut hier’, sê die meisie en glimlag vriendelik, ‘Welkom in Kaapstad’.

 

Die skielik koue wind waai skerp teen die gebou vas en laat Anton na sy asem snik. Hy kyk woordeloos na die meisie en weet n oomblik lank nie wat om te sê nie. Haar saffier blou oë bly op hom terwyl haar koringgeel hare om haar gesig speel in die wind. Die wit rok wat sy aanhet waai styf teen haar skraal lyf en Anton kyk haar onbeskaamd en met ‘n oop mond aan. ‘Dis nie ‘n goeie idee om oopmond in die wind te staan nie’, laat die meisie van bo af weet, ‘Weet nooit wat waai rond nie’. Anton klap sy mond hoorbaar toe en verwens homself weer omdat hy ‘n al hoe groter gek maak van homself. ‘Anton Langeveldt, bly te kenne’, sê hy en probeer so op sy gemak klink as moontlik. Hy moet homself dwing om sy oë op hare te hou en haar nie weer openlik onbeskaamd te bekyk nie. ‘Kariena, aangename kennis’.

 

Anton word skielik weer bewus van die koue as hy voel hoe sy rug en nek teen die koue protesteer. ‘Nogal koud hier bo vanaand’, sê hy en besef dan dat die meisie nie ‘n baadjie of trui aanhet nie, maar net die dun rokkie wat laag oor haar wit skouers hang. ‘Ja, seker’, laat sy weet en vee ongeërg die goue hare uit haar gesig. Anton kyk ‘n oomblik weg en weer oor die see uit voor hy weer opkyk en vra ‘Hoe lank bly jy al hier?’. ‘Baie lank’, laat sy hoor en bly hom steeds deurboor met haar stip blou kyk. ‘As jy nie besig is later nie of nie wil.’, probeer Anton nog, maar word in die rede geval. ‘Nee, ek bly hier, so jy kan by my kom koffie drink as jy wil of nie te besig is nie’, sê Kariena en draai stadig om en gaan haar woonstel weer binne.

 

Anton staan nog ‘n oomblik lank na die meisie weg is en opkyk na haar balkon, sy onvoltooide vraag nog op sy lippe. ‘Hoe het sy geweet ek wou haar nooi vir koffie’, wonder hy as hy weer die woonstel ingaan en die balkondeur agter hom toetrek. ‘Wat anders drink mens as mens net iemand ontmoet?’, spoel die antwoord in ‘n vraag oor sy gedagtes. Vir die tweede keer in minder as ‘n uur raak hy intens bewus van die klimaat, maar die keer is dit in skerp kontras met die koue buite. Die skielike hitte voel taai aan sy lyf en sweet slaan op sy voorkop uit. Terwyl hy sy hemp van sy nat lyf aftrek en die kamer binnegaan val sy oë op die groot palmbome oorkant die straat by die stalletjies en hy versteen ‘n oomblik. ‘Maar waar.’, dink hy en vee oor sy nat gesig met ‘n klam hand. ‘Die wind was koud, die wind was koud. Maar die bome roer nie!.’, dink hy en swaai die venter oop. Buite hoor hy net die verkeer ver onder hom en die lae brom van die branders. Iewers in die vêrte selfs die geloei van ‘n sirene, maar die wind is stil. Hy trek die venster vining toe en begin haastig aantrek. ‘Kariena, hier kom ek’, dink hy en druk alle vrae oor die skielike weersverandering opsy.

 

Die harde tik van die ou pendulum horlosie wat Anton by sy oorlede ouma geërf het ruk sy gedagtes om twee uur die oggend weer terug na die werklikheid. Na sy kuiertjie by Kariena in die woonstel skuins bo syne het hy net op sy bed kom lê om te dink aan alles, maar daar was in terugblik soveel vreemde, onverklaarbare dinge dat hy homself later as paranoïes beoordeel het. ‘Sy was vriendelik, gasvry en bowenal beeldskoon, maar daar is iets net nie heeltemal pluis nie, maar wat?’, dink hy en gaan vir die soveelste keer weer deur al die gebeure van vroeër die aand.

 

Die woonstel nommer was vreemd in die eerste plek, tog dalk nie so vreemd nie. Woonstel nommer 1313. Anton was nog nooit een vir bygelowige snert soos om onheil in die nommer dertien te sien nie, maar dit was nogtans vir hom vreemd en hy het dadelik aan die ongelukkigheid, volgens bygeloof, gedink. ‘Blote toeval dat dit juis die dertiende woonstel op die dertiende vloer moes wees’, het hy later gedink. Alhoewel Kariena hom hartlik ingenooi het en afgesien van haar warm persoonlikheid, het die woonstel ‘n diep koue gehad wat hy nie kon verduidelik het nie, maar het haar nie daarna gevra nie uit vrees dat dit onbeskof sou uitkom aangesien sy baie moeite gedoen het met die binneversiering van die plek. Die koffie was soet en sterk, nes hy daarvan hou en die geselskap goed. Kariena het haarself bewys as ‘n teenstelling tot al die negatiewe blonde grappies wat altyd die rondtes doen. Sy was spontaan, en het uitbundig gelag as iets haar geamuseer het. Anton het geweet hy sal ure met die meisie kan sit en gesels sonder om eenkeer verveeld of afgetrokke te raak. As sy nie later begin gaap en moeg voorgekom het nie, sou hy maklik nog daar kon sit en gesels, maar uit ordentlikheid uit het hy haar nag gesê en na sy eie woonstel teruggekeer.

 

Die tik-tok van die groot horlosie in die klein stil kamertjie sus Anton later, met vrae nog maalend deur sy gedagtes, aan die slaap.

 

Die son se eerste strale skyn skuins by die venster in en maak die donker droomwêreld agter Anton se ooglede ‘n wêreld rooi van bloed. ‘Hoe, wie?’, prewel Anton en sit skielik regop. Hy kan nie onthou waarvan hy gedroom het nie, maar hy voel uitgeput. Sy rugpyn van die vorige dag is byna ondraaglik wanneer hy homself uit die bed uit swaai en na die badkamer strompel. Na ‘n ligte ontbyt in die klein kombuisie hak hy sy baadjie van die kapstok af en gaan al fluitende by die woonstel uit. Terwyl hy die deur sluit dink hy weer aan die mooie Kariena van die woonstel skuins bo syne. ‘Vandag moet ek onthou om ’n ruiker blomme vir haar te stuur’, dink hy en stap die gang af na die hysbak.

 

Die rit met die hysbak tot onder duur sowat twee minute want op ander vloere klim nog mense in. Anton groet almal vriendelik en knoop kort gesprekke aan met almal. Dan voel hy deur sy sakke vir sy selfoon en onthou skielik dat hy dit gister op die kombuis se toonbank neergesit het. Op die grondvloer klim almal af en Anton wil net weer die knoppie vir die twaalfde vloer druk sodat hy sy foon kan gaan haal, toe ‘n man met n groot boks die hysbak byna binneval. Anton moet behoorlik inskuif tussen die kant van die boks en die van die hysbak sodat die deur tenminste kan toe.

 

‘More oom’, groet Anton vriendelik. Die oom gluur hom ‘n oomblik aan en groet kortaf. ‘Watter vloer gaan oom heen’, vra Anton meer uit ongemak as uit nuuskierigheid. ‘Dertien’, sê die oom kortaf en hou sy oë wantrouig op Anton. ‘Is oom ook nuut hier?’, vra Anton terwyl hy die knoppie vir vloer dertien druk. ‘Ek is ja’, sê die oom en staar oor die boks na die muur voor hom. ‘Van waar is oom?’ vra Anton terwyl die hysbak verby vloer vyf kruip. ‘Van ver’, sê die oom kortaf en voeg dan onbeskof by, ‘Ek bly nie hier nie, ek kom handel net my dogter se sake af, dan gaan ek terug’. Anton wonder of dit ‘n goeie idee is om nog verder ‘n geselsie met die norse ou oom aan te knoop, maar vra dan ewe vriendelik ‘Trek oom se dogter dan, oom moet maar net sê as ek kan help met.’. Die seer in die oom se oë laat hom skielik stilbly. Asof die oom dit met sy oë vir hom woord vir woord uitspel, besef Anton meteens dat die oom se dogter reeds na haar ewige adres vertrek het en dat hy net hier is om haar persoonlike sake te kom afhandel. ‘Jammer oom, ek het nie geweet nie’, laat Anton vinnig weet en sien die oom se arms om die boks bewe soos hy die trane wat oor sy wange stroom probeer terugdryf. ‘Laat ek die boks vir oom vat, asseblief’, bied Anton aan en neem die boks by die oom nog voor die oom kan antwoord. As die hysbak na wat soos ‘n ewigheid vir Anton gevoel het oopgaan op die dertiende vloer is die oom se gesig in sy sakdoek en voel Anton ‘n knop in sy eie keel opstoot om die man so verlore te sien. ‘Waar moet ek die boks neersit oom?’, vra Anton en tree uit die hysbak uit. ‘By nommer 1313 seun’, sê die oom deur sy trane. ‘Maar dis Karie…’, probeer Anton en kom nie verder nie. ‘Dis die woonstel skuins bo myne!’

 

(oorspronklik gepubliseer op Roekeloos.co.za in 1998)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Die verhaal hou jou aandag. Ek het dit baie geniet. Die laste sin maak dat n mens wil aanhou lees… Wat gebeur volgende. Baie goed.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar