"Daar moet iets heiligs in sout wees. Mens vind dit in die see en in trane." – Kahlil Gibran. Johnny Connan staan op die dek van die Mary, Queen of Scots en staar met ´n afgematte blik vir die laaste keer in sy lewe terug oor Leith se hawe. Die rit in die kapkar vanaf sy geboortedorpie Crieff tot by Edinburgh was baie vermoeiend en die tipiese Skotse winterweer het dinge ook nie vergemaklik nie. Daar was nie kans om te rus of skoon klere aan te trek nie, want die ou skip sou nie vir een laaglander met tering in sy longe wag nie. Die wind waai die ysreën in vlae teen sy gesig vas en dit word al moeiliker om sy familie tussen die wuiwende skare mense op die kaai uit te ken. Hy waai nie terug nie, maar bly staar so totdat alles wasig word deur die water in sy oë en hy weet dat dit nie net reëndruppels is wat sy sig belemmer nie, want hy proe die sout in sy mond. Vir ´n man van een-en-twintig draai hy stadig en vermoeiend om. In sy kajuit droog hy homself af en hang sy reënjas oor die haak agter die deur om droog te word. Hy dink daaraan dat dit onafwendbaar was dat dit ´n Skot moes wees wat ´n reënjas sou uitdink. Ou Mackintosh was seker ook nes hy bietjie allergies vir die triestige Skotse weer.
So is hy op hierdie veertiende dag van November in 1889 op aandrang van sy dokter met een half gesonde long en ´n ander wat niks meer werd is nie op pad na Suid-Afrika. Die klimaat in die streek wat as die Noordweste (´n sub-streek van die Noord Kaap) bekendstaan waar plekkies soos Marydale, Draghoenderstasie, Putzonderwater en ander piepklein nedersettinkies geleë is, se klimaat is die droogste in die hele Suid-Afrika. Met ´n reënval van ses en ´n halwe duim per jaar is dit glad nie verbasend nie. G’n meubelstuk wat in ´n matige of hoë reëvalstreek gemaak is en soontoe geneem word, hou daar nie. Al waarborg wat ´n meubelmaker uit so ´n gebied op sy handewerk kan gee, is dat dit uitmekaar sal bars en vir kaggelhout in die winter gebruik kan word. Na hierdie wêreld gaan Johnny Connan om te kyk of die tering hom nie wil los nie.
Hy voel doodmoeg as sy neef Peter hom van die perdekar help. Na sy reis per skip nanaf Leith tot by Kaapstad het hy met die Kaapse Suid-Ooster kennis gemaak en driehonderd myl verder met sy aankoms in Kenhardt, waar Peter ´n skaapplaas het, loop hy hom vas in ´n tipiese Boesmanlandse donderstorm. Hy wonder of reën hom agtervolg. "So dis dan hoe ´n droë klimaat lyk?" wonder hy hardop.
"As jy hier bid, bid jy vir reën," antwoord Peter. "Jy sal nog sien, alles draai hier om water, maar ek kan verstaan dat jy vir eers genoeg gehad het. Moet net nie bid dat dit moet wegbly nie. Dit gebeur vanself. Enige nuus van die familie?" wil Peter weet.
"Ja, almal het briewe gestuur. Dokter O’Reilly ook. Die ou Ier het alles probeer om my gesond te kry. Op die ou end moes hy maar besgee en erken dat die tering die oorhand gekry het."
"Wel, as die droogte jou sal gesondmaak, dan is dit darem goed vir één ding en dan het jy na die regte plek toe gekom."
"Ek moet sê dit lyk nie nou so nie," hou Johnny vol.
"Ons sal sien," grinnik Peter.
´n Uur later is die donderstorm verby en seën die Noordwesteson die twee neefs met al sy glorie.
"Is jy reg om die laaste entjie tot op die plaas te ry, of wil jy nog ´n bietjie rus?"
"Nee, laat ons maar ry en klaarkry. Ek sal rus as ek daar kom."
Na drie uur se ry met die perdekar sien hulle die plaasopstal by Klipbakken, Peter se plaas. Peter laat al die plaaswerkers en die huisbediendes naderkom om sy neef te ontmoet en te help met die bagasie.
"Van watter afkoms is hulle?" wil Johnny weet toe al die werkers hulle verlaat het en voortgaan met hulle onderskeie take.
"O, hulle. Hulle is almal kleurlinge," antwoord Peter.
"Hulle verskil ooglopend baie van die kleurlinge in die Kaap," merk Johnny op.
"In watter opsig?" wil Peter weet.
"Hulle bou en postuur is baie anders. Hulle is korter en baie van die vroue het sulke groot agterente. Hulle praat ook baie anders."
"Dis seker omdat die kleurlinge hier baie meer Boesman- en Griekwabloed in hulle het as dié in die Kaap. Daar het hulle nog baie Maleierbloed in hulle. Hier sal jy maar Afrikaans moet leer praat, want die plaasvolk verstaan nie Engels nie. Maar gee my die briewe van die familie, ek’s baie nuuskierig om te weet hoe dit gaan." Tot laat in die aand lees Peter nog deur al die briewe en ook die een van Dokter O’Reilly waarin hy hom versoek dat Peter moet toesien dat Johnny al sy kragte herwin voordat hy hom enige harde en veeleisende werk sal laat doen. Op sy beurt slaap Johnny die eerste aand op die plaas baie sleg, want hy moet kort-kort melksalf aan sy eens bleek, maar nou kalkoenrooi velletjie smeer.
So begin Johnny Connan se lewe in Suid-Afrika. Hy werk vir Peter en hulle trou later met twee Van Niekerk-susters – en die tering los hom uiteindelik. Hy maak genoeg geld bymekaar om vir hom ´n stukkie van Peter se plaas af te koop en so tussen die droogtes deur kan hy later sy eie plaas bekostig. Hy het vier kinders by sy vrou Wilma (die familie het haar Willie genoem). Maar Johnny Connan is nie net ´n boer nie. In Skotland was hy ´n verslaggewer vir die koerantjie op Crieff en om te kan lees en skryf is vir hom was soos eet en asemhaal. Die ongeletterdheid van die kleurlinge in die Noordweste is vir hom toenemend ´n doring in die vlees en dan doen Johnny wat sy hart vir hom sê is reg – hy stig ´n skool. Die oprig van ´n skool kom nie bloot neer op die vind of oprig van ´n gebou nie. Dit behels baie meer as net dít. Onderwysers is baie skaars en die wat daar is, wil nie vir die Hotnotte skoolgee nie. Noodgedwonge rig hy uitnodigings aan onderwysers in Skotland en voer hy hulle daarvandaan in. Saam met hulle kom ook dokters en sendelinge. Uiteindelik bereik die beskawing almal in die Noordweste.
In 1899 klap die eerste skote van die Vryheidsoorlog en die Boere behaal aanvanklik klinkende oorwinnings. Die Engelse besef gou dat hierdie nie net ´n klein rebellie is wat hulle moet onderdruk nie. Met hulle oormag en wrede verskroeide aarde-beleid dwing hulle die boeremag stadig maar seker tot oorgawe. En tog kan selfs nie die manier hoe die Engelse die Boere tot oorgawe wil dwing vir Johnny Connan oortuig om sy lojaliteit teenoor die Kroon af te sweer nie. Dit maak van hom ´n krimineel en ´n voortvlugtige. Hy neem sy vrou en twee kinders (na die oorlog was daar nog twee) oor die Oranjerivier omdat hy ook vir hulle lewens vrees. Daarna kom hy terug om op die boeremagte te spioeneer. Die kommando’s kry opdrag om Johnny Connan op sig te skiet. Geen krygsraad of verhoor is nodig nie, want hy maak hom skuldig aan hoogverraad en daarom word hy voëlvry verklaar. Hierdie gebeure gee later aanleiding gee tot een van vele voorbeelde van hoe fel die haat van die Afrikaners teenoor die Britte kon wees, want vir twee geslagte na Johnny Connan bly die oorlog nog steeds woed in die gemeenskap waar hy woon.
Alreeds gedurende die oorlog is dit duidelik dat die Afrikanervolk kan bly kant kies tot by die punt waar almal tevrede is met die uitslag van ´n bepaalde stemming. Dit kom neer op demokrasie na demokrasie na demokrasie (soos wat blyk uit ons drie Afrikaanse susterskerke en wie-weet-hoeveel niggie- en nefiekerke wat daaruit ontstaan het). Maar dis hierdie eienskap van die Afrikaner wat Johnny Connan se lewe red, want buiten die feit dat baie Afrikaners aan die Engelse se kant veg, die sogenaamde "joiners", kan dié wat aan die Boere se kant veg ook nie totale eenstemmigheid bereik oor wie om almal dood te skiet en wie nie. Toe die kommandant skemeroggend op hom afkom in die koppe naby Prieska, dink Johnny dis klaarpraat met hom, maar groot is sy verbasing toe die man sê: "Een half-uur, Mnr. Connan, dan kry ek my manne om jou te kom haal."
"´n Halwe kans, maar beter as niks," dink hy by homself. Met sy perdekar en twee perde slaan hy op die vlug en jaag hy deur slote en dongas waardeur baie van die perde van die kommando weier om te gaan totdat hy hom teen die Groot Gariep, soos die Boesmans die Oranjerivier genoem het, vasloop. Sy enigste kans op oorlewing lê nou in die hande van Coenie van Wyk. Dié het ´n pont waarmee hy mense heen en weer oor die rivier neem. Hy het reeds maande gelede Johnny se vrou en kinders oorgeneem, maar aan hulle het die kommando’s hulle nie gesteur nie. As hy Johnny help, sal hy hom skuldig maak aan medepligtigheid en dwarsboming van die gereg en met die terugkomslag wag die kommando reeds op hom. "Wie het jy oorgevat?" wil die kommandant weet.
"Ek het niemand oorgevat nie," antwoord Coenie so onskuldig as moontlik.
"Hoekom was jy aan die anderkant?" vra die kommandant ongeduldig.
"Ek kan wees watter kant van die rivier ek wil," dink hy by homself, maar hy weerhou hom daarvan. "Ek gaan haal elke keer hierdie kinders vir skool. My ritte het so uitgewerk dat ek leeg was toe ek moes oorgaan om hulle te kry."
"Wie was op die pont?" vra die kommandant aan die groepie kleurlingkinders terwyl hy sy sweep dreigend lig.
"Ons het niks gesien nie, Baas," antwoord hulle vinnig.
"Julle lieg!" beskuldig hy hulle.
"Ons praat waar, Baas. Die pont was leeg."
"Hierdie is ´n perdekar se spore en hulle is vars. Coenraad van Wyk, jy’t een kans om die waarheid te praat."
"Ek sweer ek was alleen," probeer hy vir oulaas skerm.
Net die lede van die kommando wie se perde dit oor die bykans onbegaanbare terrein tot by die Oranjerivier wou waag, is getuies van wat dan met Coenie van Wyk gebeur – hulle en die hale wat die kommandant se sweep op sy rug los. Coenie van Wyk is dood met daardie hale op sy rug, maar eers lank na die oorlog. Die kinders het teruggekom om hom te help.
"Hou mar Baas se sjeld, ons ken mos ôk vir Mister Johnny. Hy het onse skool op Karos gekom oopmak. Ons sallie nie pratie. Die dogter sal ôk sjeld kom vra om vir Baas te gesondmak."
Dis reg, dit is Johnny Connan se keuse om aan die Engelse kant te baklei wat veroorsaak dat sy kinders en kleinkinders vir lank die felheid van die boerehaat teenoor al wat Engels is, ervaar. Die NG-kerk stuur sy seun Barend se tiendes maand na maand terug omdat hulle weier om geld van ´n Engelsman se seun te aanvaar. Dit oortuig hom om saam met drie ander boere die Volle Evangelie Kerk op Marydale te bou, maar hy word nooit ´n lidmaat daarvan nie. Die ou NG-dominee ry darem uit plaas toe om Barend se dogtertjies daar te gaan doop, want die kerkraad het besluit dat Johnny Connan se kleindogters nie in die kerk gedoop sal word nie. Op Kenhardt laat die skoolhoof vir Wilma, Barend se oudste dogter, toe om te vorder tot standerd vier, want geen Engelsman se kind se kind sal op Kenhardt standerd vyf maak nie. Daarvandaan gaan sy na die kloosterskool op De Aar en vandaar na Unisie Meisieskool in Bloemfontein. Sy studeer in die Kaap om ´n kunsonderwyseres te word, maar na ´n kort rukkie se onderwys gee, keer sy met haar Bolander-man terug na die Noordweste waar hy vir sy skoonpa Barend werk totdat ook hy sy eie stuk grond kan bekostig. Intussen is Johnny Connan op die ouderdom van een-en-tagtig jaar oorlede – voordat hy kon leer om ´n g in die begin van ´n woord (soos in ganse) te kon sê, maar nie voordat hy ´n dokument deur die hele Skotse familie laat onderteken nie. Dit bepaal dat niemand van hulle op sý begrafnis ´n druppel whiskey oor hulle lippe sal laat gaan nie.
Wilma en haar man het drie kinders op hul plaas Brierspan grootgemaak. Hulle is soos al die boere se kinders sommer van Sub. A af in die koshuis op Marydale gesit waar Tannie Nellie van Wyk, oom Coenie se skoondogter, hulle koshuismoeder was. Haar man se naam was ook Coenie en hy het altyd vir ons die grootste, soetste nartjies in die hele wêreld van sy plasie naby Prieska gebring. Al drie Wilma se seuns het nog skoolgegaan by Meneer Connie Stander, die skoolhoof en koshuisvader, en sy vrou Shorty. Hy het vir die standerd viers en vyfs klas gegee en sy, die vroutjie met die lang, grys hare, uit wie se mond nooit ´n harde woord gekom het nie, het die kleintjies leer somme doen en Engels praat. Die hoërskoolonderwysers van die ander dorpe in die omgewing het altyd gesê dit klink of Marydale se kinders Engels in hulle huise praat. Meneer het ook die onderwysdepartement sover gekry om ´n swembad teen ´n rand-vir-rand-stelsel by Marydale se laerskool te bou. Hierdie oasetjie was, net soos sy onderwysers en leerlinge, die skooltjie se trots. Dit is ironies dat op ´n plekkie waar water altyd uiters skaars was, al die kinders sterk swemmers was. Ek het nog nooit soveel trane gesien soos die dag, en vir dae daarna, toe die weerlig Meneer Stander op Prieska se gholfbaan doodgeslaan het nie. Kort daarna, op vier-en-sewintig, is Barend Connan oorlede aan ´n hartaanval – sy derde een. Hy is vanuit ´n oorvol NG-kerk op Marydale begrawe.
Maar, dit is mense soos hierdie, waarvan sommige nou nog leef en in wie se handewerk die onvervalsbare waarmerk van liefde steeds gesien kan word in alles wat hulle doen, wat die dorre Noordweste vir ander mense leefbaar gemaak het. Soos daardie droë klimaat Johnny Connan van sy tering genees het, net so het hierdie mense die siektes van daardie ou geweste genees met ´n liefde wat alles begryp, alles omvat en alles verduur en net soos die Skepper van die mooiste sonsondergange aan die Noordweste gegee het, het hy hierdie mense daar laat leef. En elke keer as ek die son dáár sien ondergaan, dan dink ek aan hulle wat ons reeds verlaat het soos die vergange maar onbeskryflik skouspelagtige sonsondergange van daardie wêreld. Hulle nagedagtenis is is net so pragtig en glorieryk. Dit is sulke mense wat die lewe nie as ´n verlore stryd beskou nie, maar elke dag as ´n geleentheid om te bou, of dit wat stukkend is, reg te maak. Dit is hulle wat vir altyd onthou sal word – die sout van die aarde.
skrywer: Gerdus Loubser
Hi. Dankie Gerdus. Peter Connan is my Oupa se pa en dit was ‘n wonderlike verrassing om hierdie artikel te vind. Is dit miskien deel van ‘n boek wat ek êrens kan koop?
Fantasties story. Ek het dit baie geniet. My Pa is Peter Connan en sy Pa was Donald Connan wat op Klipbakken geboer het. Sy pa was die Peter Connan in die story.
Dankie
Don Connan