deur Joe Muller

Regoor Witsand se pastorie, wat deur ds. O. Daneel gebou is, het Oom Koen,
Witsand se bobaas en legendariese visserman gebly. Hy was een van die ware
karakters van die Suid-Kaap. ‘n Man met ‘n passie vir die see en vir sy
mense. Hy kon nooit opgehou gesels het nie. Mense het hom van heinde en
verre geken. Daar was gedurig mense by sy skuithuis. Dit was ‘n klein sink
geboutjie wat bokant die hoogwatermerk langs die rivier tussen die bosse op
die sand gestaan het. Dis waar hy sy nette en visgoed gebere het. Oom Koen
het nie maar net vis gevang vir die lekkerte nie. Hy moes sy brood en botter
daarmee verdien. Dit het nie altyd so maklik gegaan nie, veral in die tyd
toe vis volop maar goedkoop was. Hy en Tant Sarie het agt kinders op die
klein kusdorpie groot gemaak. Tenspyte van hul bitter armoede kan die
kinders nie onthou dat hulle ooit honger gaan slaap het nie. Daar was altyd
minstens vis om te eet.

Daar was ook die dae dat sy hart so groot en oop vir mense was dat hy na ‘n
dag se vangs al die vis uitgedeel het sonder om iets daarvoor te vra. “Het
jy nie vandag vis gebring nie?” het Tant Sarie dan vir hom gevra. Dan was
sy antwoord: “Nee, ek het alles vir my vriende gegee ”

Oom Koen het ook sy gelukskote gehad soos die keer toe hy ‘n knewel van ‘n
Kabeljou op die Breërivier met ‘n boulyn met sy hand uitgetrek het. In 1936
verskyn hy in die Brandwag tydskrif met die persoon wat die grootste
Kabeljou in die destydse ‘Unie’ gevang het. Die vis se ‘n kop wat ‘n 90lb
suikersakkie vol gele het, het die skaal na 184 lb getrek. .
.
Oom Koen het die see baie goed geken, al het hy nooit geleer om te swem nie.
Hy het verskeie kere oorleef nadat die skuit waarop hy was, omgeslaan of op
die rotse geloop het. Daar het baie stories onder die vissermanne
rondgeloop. Die see wou wou Koen Muller nie gehad het nie, word daar vertel.
Elke keer as sy skuit gesink het, het Koen Muller teruggekom. “Koen Muller
loop bo-op die water,” het die vissermanne naderhand gese.

Toe ‘n koerantman by geleentheid vir Oom Koen oor al die stories, wat die
vissermanne vertel, uitgevra het, het hy geantwoord: “Ja, ek was verskeie
kere op skuite, wat gesink het. Hoeveel keer weet ek nie presies nie. ‘n
Paar keer was dit darem so by die hond se stert verby. Soos die keer toe ou
Hendrik Mitchell van Heidelberg my met af-arm en al uit die water gegaffel
het.”
“En die storie van die dominee, wat Oom besoek het nadat Oom eenkeer byna
verdrink het? Is dit waar?” het die joernalis verder uitgevra.
“Nee, dit is waar,” het Oom Koen geantwoord: “Hoe ek daardie keer uitgekom
het, weet ek self nie. Ewentwil, ou dominee watsenaam vra my mos of ek
ernstig begin dink het toe ek daar op die see ronddryf. Ek weet self nie
hoekom ek die goeie ou mens so ‘n antwoord moes gee nie, maar ek sê toe vir
hom dat ek net bang was ek spoel in Engeland uit en ek kan nie ‘n woord
Engels praat nie”

Koen het soms met sy boot in die Breërivier opgeroei na die Malgas
pont-brug. Voor in die boot het hy die swart His Masters Voice-grammafoon
netjies op die sitplek neergesit. Terwyl hy rustig stroom-op geroei het, is
die plaat “Daar kom Tant Hessie se witperd” so hard gespeel dat mense van
heinde en verre langs die rivieroewer dit gehoor het. By die pond-brug
aangekom, is daar tot laatnag partyjie met die grammafoon gehou.

Koen kon vir jou kuier, vra maar vir kroegman … op Heidelberg. Saterdae
het hy met sy swart hings, Diamond in die “Trep”-kar die 30 kilometer
grondpad na Heidelberg gevat. Alhoewel dit die visserman se plan was om net
‘n uur saam met vriende ‘n ‘snapsie’ te geniet, kon hy die versoeking nie
weerstaan om dit na twee of drie ure uit te rek nie. Soms het die voggies
hom so uitgesit, dat hy nie alleen by die perdekar kon kom nie. Gelukkig het
sy vriende hom na die “Treppie” gedra en mooi op die bankie neergelê. Die
swart hings se leisels is voor aan die ‘splash board’ vasgemaak. Sonder
teenstribbel het Diamond met sy uit soos ‘n kers baas die pad galoppend
gevat. Binne twee uur het Diamond sy baas voor sy huis in Witsand besorg.
Een van die Muller familie se grootse raaisels was hoe die perd dit kon
reggekry het om die 12 hekke op die grondpad na Witsand oop en toe gekry
het. Babsie, Koen se broerskind, het toe eendag uit nuuskierigheid gaan
ondersoek instel. Hy het ongesiens van agteraf op die perdekar gespring,
terwyl Koen weer op die bankie in droomland was. Die eerste hek was toe en
die kannetjie het gewonder wat die swart maanhaar nou gaan doen. Groot was
sy verbasing dat Diamond nie voor die toe hek gaan stop het nie, maar wel by
in die rigting van die motorhek langs die toe hek. Stadig het hy eers met
die voorpote wydsbeen, weerskante van die vasgemesselde pype oor die hek
beweeg. Daarna het die agterpote ook dieselfde paadjie gevolg. Babsie het
afgespring en is terug huis toe! Nadat Diamond die geluid van die wiele oor
die pype gehoor het, het hy weer begin galop. Van die dag af het die mense
van Oom Koen se ‘Wonderperd’ gepraat.

Oom Koen was soos meeste van sy vissermansvriende baie lief vir sy wyn. Tant
Sarie het nie veel erg aan die gewoonte gehad nie, daarom het Oom Koen sy
bottel by die skuithuis in die sand begrawe en as hy lus was vir ‘n knertsie
het hy afgedrentel na sy ‘office’ waar hy met ‘n paar hale van sy groottoon
in die koel, klam sand die bottel opgediep het. As Tant Sarie haar te sterk
uitgelaat het oor die wyn, sou hy haar stilmaak en sê: “Ek is die groot rat
en julle is kleintjies, julle draai om my!”

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Was so lekker om van Oom coen van die Witsand te lees. My pa is 2 jaar gelede oorlede, en sy lieflingsplek was ook die Witsand – hy kon ure lank langs die rivier sit en visvang!

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar