Oom Hansie en Emily ontmoet uiteindelik

By sy neef Pierre se huis in Parow-Noord trek Oom Hansie die Peugeot bakkie netjies op die sypaadjie (ten spyte van neef Jan se dringende versoeke tot die teendeel). Die Oom kuier die week bietjie hier in die Kaap in.

“Bid jou dit nou aan” mor die Oom, van voor af oproerig oor neef Pierre se verwaandheid “Hier is mos nou lekker skaduwee hier onder die boom, maar nee, mens moet agter die Venter onder die agterste afdak loop stop!” Voor hy die tuinhekkie oopstoot, trek hy eers sy rugbykouse op en knik in die rigting van die tuinargitek.

“Mirrag Oom Hansie” groet die grysaard met wit tande.

“Mirrag se moer man” prewel Oom Hansie onderlangs, maar sy bui sak dadelik toe neef Pierre se vrou Julia hom vanuit een van die beddings groet. Hoewel haar tuinklere nie die nuutste is nie en die strooihoed se rakleeftyd iewers in die jare sewentig verstryk het, doen dit geen afbreuk aan Oom Hansie se waardering nie.

“Mirrag kinta. Nee, gaan jy aan, ek wil nie ´n oorlas wees nie, ek gaan gou vir ons tee maak.”

Terwyl die water kook, bel Oom Hansie gou plaas toe om te hoor of Siena en Vlekkie darem nog orraait is sonder hom. Hulle is.

“Gmmff” brom die Oom suur “lieg weer soos altyd.”

Gewapen met Die Burger en twee koppies tee op ´n skinkbord, werk hy tuin toe. Dit gaan moeilik om die koerant te lees en ook onderlangs sy neef se vrou te beloer, maar so op ´n manier kom Oom Hansie darem mooi reg. Opeens skeur hy ´n stuk uit die koerant, spring op, gryp sy hoed en stryk aan bakkie toe. Voor die huismense mooi tot verhaal kan kom, is hy al om die hoek en die spinmerke op die sypaadjie stille getuienis van sy vroeëre teenwoordigheid.

By die Waterfront soek Oom Hansie na parkering en sien dan ´n gaatjie raak. Hy steur hom nie aan die karwag in die pad van die ou Peugeot bakkie nie en druk die bakkie se neus vernuftig tussen twee blink viertrekpenisse in. Die karwag probeer nog wegkom, maar sy gekneuse tone is ´n effense belemmering.

Anderkant die derde ry karre hoor hy nog die laaste “djoumase…” en verlaat dan die toneel, op pad na Emily. Binne-in die sentrum begin ´n soektog na Emily wat proporsioneel gelykstaan aan die Ingelse se pogings om Generaal De Wet te vang (Byna in die lyn van die Poskantoor se TV advertensie op soek na George). Oom Hansie se soeke blyk egter meer suksesvol te wees, want hy loop hom vas in die persoon wat hy soek. Letterlik.

Daar waar die groot man in die restaurant se ingang staan, kyk hy Oom Hansie op en af, sy oë net-net te lank op die vellies en rugbykouse. (Hoewel die gemiddelde mens dit nie as betaamlik sou beskou nie, is die Oom immuun hierteen.) Oom Hansie ruk die flenter papier uit sy bosak, vergelyk die foto met die gesig voor hom en glimlag dan breed.

“Mirrag ou Pieter”

“Goeie middag” dan huiwerig “Waarmee help ons?”

Oom Hansie druk sy vinger teen die koerantskeursel “Ekke sien jy sê hier in die koerant dat die plaaslike kokke maar swak is en nie kan kosmaak nie”

Die vraagteken op die arme man se gesig sprei tot by die kort, grys hare “Wel, ek het eintlik bedoel…”

Oom Hansie val hom in die rede “Ou Pietman, ek wou net kom sê, as jy en hierdie Emily ooit in my geweste kom, moet julle maar daar by my kom eet. Ou Siena se pap en wors is uit die boonste rakke man.” Die Oom gesels so lekker hy lê sommer teen een van die reusagtige kleipotte wat by die ingang op tafels staan. “Ek sien mos jy is ´n man wat lekker kan weglê .”

Die Oom word senuagtig in die rede geval “Wees versigtig asseblief meneer …”

“Oom Hansie”

“Oom Hansie. Asseblief, daardie kleipotte is twintigduisend rand…”

Toe die kleipot die vloer tref, spat die stukke bo-oor die reling tot onder op die grondvloer, maar Oom Hansie is al teen die trappe af en uit by die glasdeure. Hy is nie seker nie, maar hy kon sweer hy hoor iemand skreeu “djoumase …”

skrywer: Bert van der Walt

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply