deur Charles Perraut
Baie ver weg in ’n mooi klein dorpie het daar eenkeer ’n liewe dogtertjie gewoon. Haar mammie was baie lief vir haar en haar ouma het haar ’n sonstraaltjie genoem. Haar ouma het vir die dogtertjie ’n fraai kappie gemaak, en na ’n rukkie het almal in die dorpie haar Rooikappie genoem.
Eendag het haar mammie koekies gebak en vars botter gemaak. Toe roep sy die dogtertjie en sê: “Rooikappie, neem hierdie koekies en die pond botter vir Ouma. Sy is siek.”
Rooikappie het toe alles in ’n mandjie gepak en begin aanstap na die dorpie anderkant die bos, waar haar ouma gewoon het. By die rand van die bos kom sy ’n ou wolf teë. “Goeiemôre, Rooikappie,” sê hy en hy kyk om na die houtkappers wat daar naby werk. As hulle nie daar gewees het nie, sou hy haar dadelik opgeëet het.
“Goeiemôre, meneer Wolf,” sê Rooikappie, want sy was glad nie bang nie.
“Waarheen gaan jy?” vra die wolf.
“Ek gaan na my ouma toe,” sê Rooikappie, “en ek neem vir haar lekker koekies en vars botter, want sy is siek”
“Waar bly jou liewe ouma?” vra die wolf.
“Anderkant die bos langs die meul,” sê Rooikappie.
“Dan gaan ek ook vir haar kuier,” sê die wolf. “Gaan jy met die boonste pad, ek gaan onderom, en dan kyk ons wie is die eerste daar.”
Die wolf het natuurlik die kortste paadjie gekies, en dit was nie lank nie of hy klop aan die ouma se deur.
“Wie’s daar?” roep die ouma.
“Dis Rooikappie, Ouma,” antwoord die wolf in ’n fyn stemmetjie, “ek het vir Ouma vars botter en koekies gebring.”
“Druk op die knippie, dan gaan die deur oop,” roep die ouma uit haar bed uit.
Die wolf druk toe op die knippie en hy gaan in. Daar spring hy op die bed, sluk die ouma in, sit haar slaap-mussie op en kruip in die bed in. Nou wag hy net vir Rooikappie.
Rooikappie stap toe nog al die tyd met die paadjie deur die bos. Daar ontmoet sy ’n ou tannie wat langs die pad sit.
“Hier is vir tannie ’n stukkie brood,” sê sy en sy gee vir die tannie van haar padkos.
“Dankie, Rooikappie,” sê die tannie, “jy is ’n liewe kind. As jy die jagter langs die pad kry, sê vir hom ek sê daar is wild in die bos.”
Rooikappie stap toe verder en by ’n blink waterpoel kry sy die jagter.
“Goeiemôre, meneer Jagter,” sê sy. “Die tannie langs die pad sê daar is wild in die bos.”
“O so,” sê die jagter. Hy sit sy oor teen die grond om te luister en toe sit hy ’n nuwe pyl in sy boog.
Eindelik kom Rooikappie by haar ouma se huisie en sy klop aan die deur.
“Wie’s daar?” roep die wolf.
Toe Rooikappie die growwe stem hoor, dink sy “Arme Ouma is baie verkoue. Haar stem is glad hees.”
“Dis Ouma se Rooikappie,” antwoord sy. “Ek bring vir Ouma vars botter en koekies.”
“Druk op die knippie, dan gaan die deur oop,” roep die wolf. Rooikappie doen dit toe.
“Sit die botter en koekies op die tafel en dan kom help jy my opstaan,” sê die wolf. Hy het sy kop mooi onder die deken weggesteek.
Rooikappie sit toe haar mandjie neer en gaan na die bed toe om haar ouma te help.
“Maar, Ouma,” sê sy, “hoekom is Ouma se arms so lank?”
“Om jou beter vas te hou, kind,” sê die wolf.
“En hoekom is Ouma se ore so lank?”
“Om jou beter te hoor, kind!”
“En hoekom is Ouma se oë so groot?”
“Om jou beter te sien, kind!”
“En hoekom is Ouma se tande so groot?”
“Om jou beter op te eet, kind!” sê die wolf.
Hy wou net opspring en Rooikappie gryp, toe vlieg ’n by by die venster in en steek hom op sy neus.
“Eina!” skree die wolf. Die jagter hoor hom toe skree en hy hardloop gou tot by die huisie en skiet die wolf met die nuwe pyl. Hulle haal toe weer die ouma uit en almal was bly omdat die jagter Rooikappie gered het.