Foute in papegaai-opleiding

Inleiding
Kom ons wees eerlik. Met die oorvloed inligting op die net, biblioteke, handleidings en self video’s wat vandag beskikbaar is oor hoe jy jou papegaai moet oplei, het papegaai eienaars steeds probleme daarmee. Dis net asof daar iewers iets verkeerd is – kry dit net nie reg nie. Waarom sou dit die geval wees? Die rede is, al word daar stiptelik nagevolg wat jy geleer word, begaan die papegaai eienaar steeds ʼn hele paar opleidingsfoute.

Onder verskyn ʼn paar van die mees algemeenste foute wat papegaai eienaars begaan wanneer hulle die papegaai oplei. Vermy die tipe foute en minder spanning sal tussen jou en jou voël kind in opleiding bestaan.

Te veel hoë of laeverwagtinge
Baie papegaai eienaars koop ʼn papegaai nadat hulle gesien het hoe daar ‘n goed opgeleide papegaai toertjies op TV uitgevoer het en besluit dat dit wonderlik sal wees om ook so ʼn spesiale papegaai te besit. Alhoewel dit waar is dat papegaaie wonderlik troeteldiere uitmaak, moet jy onthou hulle moet eers makgemaak word, wat nog van opleiding ontvang. So wanneer die papegaai eienaar huistoe gaan vind hy nie die papegaai waarop hy gehoop het nie. Skielik is hierdie vooropgesteldebeeld daarmee heen. Wanneer dit by mak maak en opleiding kom, aanvaar die meeste mense dat dit ʼn maklike taak is. Al is papegaaie baie intelligent neem dit steeds die regte kennis, vermoëns en regte gesindheid om die papegaai op te lei. Enige onrealistiese verwagtings sal enige eienaar frustreer en ʼn gesindheid uitdra wat ongelukkig ʼn nadelige uitwerking op die papegaai sal hê. Opleidingsessies sal dan nie veel vrug lewer nie.

Die papegaai veralgemeen
Alhoewel papegaai opleidingsadvies altyd op eie waarneming en ondervinding gebaseer word, sal daar advies wees wat glad nie vir jou spesifieke papegaai sal werk nie. Die meeste advies gaan gewoonlik gepaard met ʼn waarskuwing dat papegaai van mekaar verskil en elkeen reageer anders op opleiding. Nietemin, nadat daar waargeneem word hoeveel sukses professionele opleiers en ander papegaai eienaars bereik, vergeet die eienaars hierdie belangrike klousule en is onaangenaam veras wanneer daar nie dieselfde reaksie van hulle papegaaie afkomstig is nie. Moenie vir hierdie fout val nie. Probeer jou papegaai as ʼn individu sien, soos ʼn kind, en jy sal merk hoe hulle verskil van mekaar soos jou kinders.

Onmiddelik begin met makmaakproses en opleiding
Indien jy nie daarvan oortuig is dat jou papegaai, wat jy aangekoop het, reeds makgemaak en toertjies kan uitvoer nie, moenie dadelik daarmee begin nie. Jy kan verseker daarvan wees dat jy met bloeiende vingers gaan sit. Die rede? Omdat jy te gou familiêr met hom probeer word. Spandeer tyd saam, leer mekaar ken voordat jy verwag om met hom af te wys. Hy moet leer om jou te gehoorsaam. Deur met hom interaksie te hê is jy reeds besig met die nodige opleiding om hom na jou hand te leer.

Slaan en skree op jou papegaai
Sommige papegaai eienaars gebruik beide positiewe druk en straf met opleiding. Niks positief gaan of sal bereik word deur op jou papegaai te skree en of te slaan tydens opleiding, met die om die papegaai sover te kry om jou te gehoorsaam nie. Jou papegaai sal nie die doel agter jou optrede verstaan nie, en sal net bedreig en bang voel. Jy mag dit dalk regkry om hom vol vrees jou onderdanig te wees, maar hy sal ongelukkige en vol spanning word wanneer hy jou stem selfs hoor. Hy sal nie die wonderlike papegaaimaat wees wat jy van die staanspoor begeer het nie.

Ten slotte
Mishandelde papegaaie is gewoonlik die wat ʼn mens geen beheer oor kan hê nie. In plaas daarvan dat jy jou papegaai opleiding gee gaan jy met ʼn neurotiese papegaai sit wat glad nie ʼn plesier sal wees nie.

 

skrywer: Francien Mare

Help
“My pappegaai is ‘n jaar en ses weke oud en lyk soos ‘n donskuiken. Ek het agter gekom sy penvere is uitgetrek. Ek het hom poeier gegooi omrede ek gedink het dat hy dalk myte het. Ek het hom ook op ‘n reeks Terramycin poeier in sy drink water gesit wat hy vir ses dae moes drink. Ek gee ook vir hom Pals Parrot Tonic en daar is nog geen verbetering in my pappegaai se voorkoms nie. Boka gesels en speel soos gewoonlik maar lyk kroeserig. Help asseblief”
– Amanda

Francien Mare: “Hi Amanda,
Die heel eerste vraag wat ek wil stel is die volgende: – Wie het die poeier wat jy gebruik en ook die medikasie wat hy ontvang voorgestel? Jy noem nie watter tipe papegaai dit is nie. Ek hoop eerlik dat jy ‘n veearts besoek het en hy verantwoordelik is vir wat jy toedien. Daar is sekere reëls wat ‘n mens stiptelik moet nakom met papegaaie en sou jy dit nalaat kan dit noodlottige gevolge hê. Ek bekommer my eerlik omdat hy op die huidige ouderdom geen vere het nie en omdat jy sê dit lyk asof sy penvere uitgetrek is. Veronderstel dit sou die geval wees dat hy self uitpluk moes jy lankal reeds hierop gereageer en hulp gekry het by ‘n veearts. Die gevolgtrekking waartoe ek kom is dat hy of al sy vere uitpluk, daarom dat hy net donsies oorgehou het, en/of hy het een of ander tipe virus opgedoen. Wees seker van die moontlikheid dat hy myt het voordat jy behandeling daarvoor toepas. Neem hom asseblief vir ‘n tweede opinie indien jy die papegaai reeds by ‘n veearts gehad het.net om dubbel seker te maak wat aangaan sal wys wees. Laat weet ons hoe hy vorder en raad wat veeartse jou gee om te volg.
Sterkte”

Help
My papegaai Aäron is nou 3 maandjies oud. Hy het ‘n krapperige borsie, kompleet asof hy slym in sy keeltjie het. Wat kan dit wees, en is dit ernstig? Wat kan ek doen of vir hom gee. Dankie vir die pragtige raad oor papegaaie.
– Christel Kriek

Francien Mare skryf: “Christel, dit klink vir my na een of ander ontsteking wat hy opgedoen het en die beste raad hiervoor is ‘n veearts.”

Help
Ek wil net weet hoekom ‘n papegaai sy kop baie skud, wat die rede kan wees?
– Nellie Visser

Francien Mare: “Haai Nellie, die rede hiervoor is gewoonlik dat daar een of ander irritasie aan hulle ore kan wees, of daar iets aan sy neusgate is wat hy probeer uitkry. Maar dit klink vir my eerder asof daar fout is aan sy ore. Weereens wil ek voorstel dat jy hom veearts toe neem vir behandeling.”

Deon Diedericks:
Ek het gehoor hulle gaan nou vliegduiwe met papegaaie begin kruis … sodat hul kan rigting vra as hulle verdwaal.

Help
Hi, ek hoop jy kan my help. Ek het so maand terug vir Fiona gekoop (sy was toe 14 weke oud), intussen pas sy baie goed by die huis aan, en geniet die aandag. Die probleem is net, sy het net met my verloofde “gebond”. Sy weier om na my toe te kom, om op my hand te klim ens. Sy het net oë vir hom. Selfs as ek te naby aan die hok is, skuif sy anderkant toe. Enige voorstelle/idees wat ek kan doen om haar gerus te stel dat ek haar nie wil seermaak nie? Ek wil net liefde en aandag gee!
– Melani Joubert

Francien Mare skryf: “Hallo Melani. Ongelukkig het jy vergeet om vir my te sê watter tipe papegaai, Fiona, is. Ek glo nie die tipe probleem is al hier bespreek nie en ons gaan net so vinnig hieroor gesels. Daar kan verskillende redes wees vir die tipe gedrag, maar kom ons veronderstel dat sy ‘n wyfie is en nie ‘n mannetjie nie. As dit ‘n wyfie is gaan sy eerder belangstel in jou verloofde. Ja, die natuur is maar onvoorspelbaar. Nogtans kan jy haar liefde en vertroue wen deur, wanneer jou verloofde nie tuis is nie, meer aandag aan haar te gee. Maak seker dat jy haar nou en dan iets waarvan sy hou gee om te eet. So bietjie bederf. Wees geduldig en volhard met liefde en jy weet mos liefde oorwin alles. Dat hy/sy wegtrek na die anderkant van die hok laat my wonder of jy nie dalk uit despiraatheid teen die hok geslaan het, omdat sy niks met jou te doen wil he nie. As dit die geval is, het jy haar vertroue geskaad en sal jy hard daaraan moet werk om haar vertroue te wen. Moet nooit vinnige gebare met jou hande naby haar of die hok maak nie. Praat rustig, al voel jy nie so nie. Gee vir haar ten alle tye kos en water, maak haar hok skoon en doen hierdie dinge terwyl jy aanhoudend met haar gesels. Herhaal jou naam, dalk ‘n troeteldier se naam, sodoende leer hy woorde ken. Moenie moedeloos raak nie, wees geduldig en dinge behoort reg te kom. Laat weet asseblief hoe jy vorder.”

Help
Dit is regtig lekker om alles omtrent pappegaaie te kan lees. Ons begin nou maar leer en wil een groot hok van bykans 2 hektaar bou, maar is nie seker wat se tipe draad om te gebruik nie. Hoop julle kan ons help.
– Gerrie Marhee

Francien Mare: “Dagsê Gerrie. Dit klink asof jy groot planne het om met papegaaie te broei [dit sê / vra ek net :-)] . Ek kan nie voorgee dat ek op hoogte van sulke sake is nie, dis nou hokke bou, maar ek neem aan dit moet ʼn fyn ogiesdraad wees waarin jou papegaaie ten alle tye veilig en nie bedreig word of voel nie. Onthou altyd dat hulle veilig moet voel waar hulle veral moet broei, anders sal jy nie suksesvol wees daarin nie. Die beste raad is om papegaaibroeiers in jou omgewing op te soek en na hulle raad te luister, dalk nog te volg. Sterkte met hierdie groot taak en laat weet gerus hoe jy vorder. Sterkte voorentoe.”
(ps. stuur foto’s – red)

Help
Baie dankie vir Francien Mare se oulike en afgeronde artikels oor papegaaie. Ek het dit gewldig genoet. Ek het noudie dag in die blommewinkel by Sanlamsentrum gesien hoe baie aandag en liefde die eienaar vir sy 2 papegaaie gee wat hy elke dag werk toe vat. Hulle is werklik soos kinders. Delilah, Anne-Marie Botha se papegaatjie is ook vir my te fraai. Op ‘n stadium hier in Randburg het baie papegaaie in die lug rondgevlieg, swiepend en krassend van tuin tot tuin en in hoë bome gesit en roep. Hulle het dus ontsnap, ek dink nie die eienaars het hulle ooit weer teruggevind nie.
– Annora

Francien Mare: “Hi Annora, dankie vir die terugvoering. Ek is bly dat jy die artikels geniet het en hoop dat jy dit tot hulp gevind het. Ja, dit gebeur ongelukkig dat sommige papegaaie ontsnap en gewoonlik omdat hulle vlerkvere nie geknip was nie. ʼn Mens raak so geheg aan jou voëlkinders en dit kan baie hartseer uitskakel as hulle net reg hanteer word. Somtyds is dit tog moontlik om hulle weer te vang deurdat hulle honger word. Hulle is nie selfversorgend nie sal reageer as kos aangebied word. Dit was al suksesvol om hulle te vang wanneer hulle natgespuit word en dan nie kan wegkom nie. Tog bly dit ʼn hartseersaak wanneer sulke dinge gebeur.”

Help
Ek wil asb weet of dit verkeerd is as jou papegaai baie op die vloer speel? Die tye wat hy nie in sy hok is nie, speel hy op die vloer. Moet hy liewers bo-op sy hok sit? As ek hom bo- op sy hok sit, vlieg hy af en ek is bang hy kan homself seermaak.
– Gail von Waltsleben

Francien Mare skryf: “Hi Gail, dit is ʼn goeie vraag wat jy vra, want daar is baie mense wat hierdie vraag vra. Hulle wil weet waar trek ʼn mens die streep – hoe besluit jy waar jou papegaai die meeste van sy tyd moet deurbring? Bo-op of buite die hok? Kom ons kyk na ʼn paar redes wat positief en wat negatief is.
Positief
Wanneer jou papegaai buite sy hok rondloop, op die grond in die huis, is dit goeie interaksie met die gesin. So leer hy die huis ken en vrees nie wanneer hy na ʼn ander vertrek geneem word nie. Onthou dat hy vreemd is en op hierdie rondloop eskapades van hom raak hy vertroud met sy omgewing.
Dis terselfde tyd oefening wat hy kry, want hulle is geneig om ʼn bietjie te vet te raak as hulle nie ʼn gesonde dieet ontvang nie. Daarom gee dit hom ʼn geleentheid om in oefening te bly.
Wanneer hy verbind geraak het met sy mens-maat, sal hy jou volg waar jy gaan. Welkom of nie – hy sal daar wees.
Negatief
Jou papegaai kan deur te veel buite die hok te wees begin honger ly, veral as hy nie self weer in sy hok kan kom nie. As dit nie toeganglik is nie, sal hy heeldag ronddwaal sonder kos en water. Daar moet altyd voorsiening gemaak word vir byvoorbeeld ‘n leer by die deur waarteen hy op of af kan klim. So leer hy om in ‘n mate onafhanklik te wees. ‘n Eienskap wat hulle in elk geval sal probeer uitleef.
Ook kan dit gevaarlik wees as daar ander troeteldiere in die huis is. Onthou die papegaai is nuut in die gesin en die ander is nie gewoond aan hierdie nuweling nie. Hy kan beseer, of gedood, word deur rander wat wil speel of hom as ‘n bedreiging sien.
Omdat hulle nie so groot is dat hulle altyd in sig is nie kan hulle deur die huismense per ongeluk doodgetrap word. Dink aan die hartseer wat volg op hierdie oomblik.
Hulle is van natuur nuuskierige voels en knibbel gedurig aan iets wat hulle oog vang. Kragdraad is altyd iewers sigbaar en kan hulle lewe kos as hulle daarby uitkom. Veral as daar nie betroubare toesig is nie. Dit gebeur dalk net dat daar gif of iets rondle en hulle is by dit.
Wanneer die ander troeteldiere se kos uitgedeel word sal hulle eerste reaksie wees om te kyk wat daar vir ete is. Hy is nou vyand en die aanvaller is beslis vinniger as jy en dit kan sy dood wees.
Ten slotte
Wat my aanbetref is dit goed dat hy sy tye kry wat hy buite sy hok moet wees, maar wanneer daar iemand is wat omgee en weet om toesig te hou. Speeltyd is belangrik met sy mens-maat en kuier net so ook. Hulle moet aangemoedig word om saam met jou tyd deur te bring.
Dit is nie nodig dat hy net bo-op sy hok sit nie, nee. Wanneer hy bo-op sy hok sit en jy weet hy gaan af vlieg, moet hom nie daar plaas nie. Soos jy tereg noem sal hy homself seermaak wanneer hy teen ʼn harde oppervlak vas vlieg of net hard op die grond te lande kom. Gewoonlik is dit die borsbeen wat breek die oomblik wat hy die grond tref.
As hy dan wil uit, en nie tyd maak vir sy eet tye nie, moet jy hom binne hou. Vertel hom hy moet eers ʼn bietjie eet en rus en later kom hy weer uit. As hy by jou waar jy TV sit en kyk is, leer hom om homself met ʼn speelding besig te hou. Hulle raak gou verveeld, maar word later moeg en sal as dit donker is begin stil raak waar hy by jou sit. Sorg net dat jy ʼn rustige uitwerking op hom het en dan ook tye wat hy met en by jou kan speel. Ek vertrou dat jy hiermee beantwoord is op jou vraag.
Ek nooi jou uit, en enige ander wat vrae het, om met vrymoedigheid julle vrae te stel en ons beloof, om so ver moontlik, van hulp te wees met julle voëlkinders.”

Help
Hi daar, ek het ‘n eclectus baba van 12 weke en wil graag weet tot op watter uoderdom moet hy gevoer word? Die papegaai lyk vir my vanmore baie swak en ek is bekommerd wat nou?
Baie dankie vir die mooi artikel oor leer jou pepegaai praat.
– Ungela Wagner

Francien Mare skryf: “Hallo Ungela
Jou papegaai is nog baie klein en moet daagliks drie maal per dag gevoer word met baba kos beskikbaar by troeteldierwinkels. Moet glad nie dink om te verminder aan voedsel voordat hy tenminste 16-17 weke oud is nie. Soos hy ouer word moet jy sorg dat daar ‘n bietjie vrugte en groente ook in sy hokkie is sodat hy belangstelling kan begin toon in self eet. Jy sal opmerk dat hy nie meer vanaf sy teelepel of spuit wil eet nie en dan kan jy sy middagete uitskakel en net by soggens en saans bly.
Teen die 16de week sal hy met tye weier om babakos te eet en sorg jy maar net dat hy ander kos het waaraan hy kan peusel. Hou hom dop en as hy nie sterker word nie, neem hom na ʼn veearts om hulp. Sterkte en geniet jou papegaai.”

Help
Baie dankie vir hierdie wonderlike inligting aangaande pappagaaie … ek het begin met die eerste deel en kan waarlik amper my pappagaai verstaan … hy doen al die wonderlikste dinge en is ook baie meer liefdevol. Hantering het drasties verander want ek verstaan nou sy lyftaal en hy myne … nogmaals dankie.
– Elza

Francien skryf: Ons is bly dat jy baat gevind het by wat ons aangebied het oor papegaaie en so bly om terugvoering van jou te kry. Gaan aan en leer hom goed ken sodat jy net soveel sukses kan behaal met sy praat opleiding. Vertel jou vriende/kennisse van die blad sodat hulle soos jy, ook sukses met hul papegaaie kan geniet. Kom kuier maar gereeld hier en dalk vind jy nog verdere inligting wat jy positief kan toepas. Sterkte en laat weet asseblief hoe jy vorder.

Sluit aan by die Gesprek

3 Kommentare

  1. Hi, ek is Martie. Ek het ongeveer 2 maande gelede 'n 2 jarige eclectus wyfie papegaai, Rugy, gekry. Sy is pragtig en het baie goed aangepas. Ek sukkel om haar te leer om woorde te se maar moet seker geduldig wees want dit kom stadig reg. Ek werk voltyds en dit is nt ek en my seun want skofte werk wat tuis is. Sodra Ruby boop haar hok sit dan wil sy nie na my toe kom nie – ek moet elke trick probeer maar as sy eers by my sit is dit okay, Na my seun toe is dit nie 'n probleem nie – Ruby is 'n wyfie soos ek vroeer gelees het by jou artikels. Ek soek hulp hoe ek haar kan gerusstel sy kan maar na my toe kom sonder 'n gesukkel!! Met die pratery gaan dit nog bietjie stadig maar dit neem seker bietjie lank ……. Sy word baie bederf want sy kry al ons aandag – is absoluut 'n kind in ons huis. Haar vorige familie was ook baie lief vir haar – hulle was 3 van dieselfde papegaai bymekaar! Ons geniet haar vreeslik! Hoop u kan vir my raad stuur. Dankie vir die wonderlike bydrae en raad.

  2. Hallo Martie. Dis goed om te weet dat ons artikels jou tot hulp kon wees in vele aspekte. Ek wil voorstel dat jy van tyd tot tyd teruggaan en dit weer lees, aangesien 'n mens geneig is om dinge te vergeet.

    Dit lyk vir my asof Rudy verbind geraak het met jou seun. Dit gebeur telkens dat 'n wyfie papegaai makliker verbind met 'n manspersoon en natuurlik anders om ook. Maar dit beteken glad nie dat jy moet ophou om haar te probeer oorhaal na jou toe nie.

    Ek wil die volgende voorste: –

    Teen die tyd behoort jy te weet wat sy regtig baie van hou om aan te knibbel. 'n "Treat" vir haar. Probeer op die manier om haar te probeer lok en gee net elke keer iets klein, totdat sy die "bederfie" met opklim na jou toe assosieer. Sy behoort met tyd jou te aanvaar as haar mense-maat wat graag bederf. Moet net nooit moet opgee nie, haar vertroue moet gewen word en sy sal met tyd leer om jou te aanvaar.

    Moenie met haar raas nie, "pat en paai" haar totdat jy sien daar tree 'n verandering in. Alles neem tyd en baie geduld. Wat praat aanbetref moet jy net hierin volhard, herhaal dit wat jy wil hê sy moet leer, tot vervelens toe en jy sal die vrug daarvan pluk.

    Laat weet my asseblief hoe jy vorder en hoe dit met haar gaan. Sou jy enige ander hulp nodig hê, kontak ons gerus en ons help graag.

    Sterkte daarmee.

    Francien Mare

  3. Hi Francien, jamme ek het so lank geneem om te antw. Ek het vir Ruby uit die hok gelok met 'n treat en dit het gewerk! Baie dankie! Ek het vir my 'n klein bankie gekry wat ek voor haar hok sit en dan is ek gelyk met haar gesiggie, dan klim sy sommer vanself op my hand!!! Ek vertel haar op 'n rustige stemtoon dat sy nou verkeerd doen as sy hard na my pik, eintlik is dit my eie skuld want ek bly krap aan haar bakkie as sy eet …. en dit is so wonderlik dat as ek vir haar se dat sy nou lelik met my maak, dan hou sy op! Ons is so lief vir haar en geniet haar baie! Indien ek nog vrae nodig het sal ek weer vir jou kontak! Baie dankie vir jou wonderlike bydrae en die opvoeding van ons vere-kinders!
    Martie

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar