Geheime papegaaitaal – Deel I

Inleiding :
Alle papegaai-eienaars wil graag hulle papegaaie se lyftaal reg verstaan. Soos die mens boodskappe uitstuur met lyftaal, so doen die papegaai dieselfde. In die natuur kommunikeer hulle deur ‘n komplekse taal wat bestaan uit verskeie liggaamshoudings met gepaardgaande vokale klanke.

Om te verstaan wat die boodskap is wat hulle probeer oordra aan jou moet verskeie faktore gekombineer word, soos hul onmiddellike omgewing, wat aangaan rondom die papegaai en wat sy emosies op daardie oomblik is.

Sommige geluide en houdings hang van die grote van die papegaai af. Terwyl nie alle papegaaie hierdie lyftaal dieselfde toepas nie, as jy oplet na jou papegaai, sal jy hulle beter begin lees.

Kom ons kyk na ‘n paar van die klanke wat ons een of ander tyd teë sal kom. Die reeks bestaan uit vier dele en sal oor ‘n tydperk met julle gedeel word. In die volgende drie gedeeltes wat volg sal ons voortgaan om meer te wete te kom omtrent hierdie belangrike onderwerp.

1. Grom :
Wanneer ‘n papegaai hierdie gromgeluid maak, wat byna soos ‘n hond s’n klink, sal hy vergrote pupille hê en die vere agter die nek rys. Hiermee gee hy te kenne dat hy nie genader, opgetel en gepla wil wees nie en waarsku sou jy volhou met jou pogings, jy waarskynlik gebyt gaan word! Dit beteken dat jy nou moet terugstaan en hom moet uitlos vir ‘n ruk lank voordat jy weer ‘n poging aanwend om hom te nader.

2. Spin :
Die geluid klink baie soos ‘n kat wat tevrede by jou lê en spin. Saam met die geluid is daar geen vergrote pupille, sy vere is in ‘n ontspanne posisie effens gelig. Hierdie posisie, met of sonder die geluid, dui tevredenheid aan.

3. Klapgeluid met snawel :
Wanneer ‘n papegaai die klapgeluid met sy snawel maak dui hy aan dat hy bedreig voel. Dit word ook gebruik as ‘n teken wanneer hy ‘n speelding, sy maat of spesiale persoon, of sy onmiddellike spasie, beskerm. Wanneer die geluid gehoor word, sal hy waarskynlik sy nek vorentoe rek en selfs een poot oplig. Hierdie is ‘n duidelike beskermende teken wat gebruik word om enige indringer af te skrik. Pasop vir die gedrag, want die moontlikheid dat jy gebyt gaan word is ‘n gegewe.

4. Klap met die tong :
Hierdie klap met die tong geluid word nie onder klein papegaai gebruik nie, maar wel deur baie van die groot papegaaispesies. Dis ‘n baie duidelike geluid wat met die tong gedoen word en hiermee dui hy aan dat hy vriendelik wil wees, moontlik selfs nog opgetel en gekrap wil word.

5. Gekners op snawel :
Indien jy al gehoor het hoe ‘n persoon onder druk op die tande kners, sal jy hierdie snawel wat ‘n knersgeluid maak maklik identifiseer. Wanneer ‘n papegaai tevrede, ontspanne en veilig voel, sal hy die onderste gedeelte van die snawel teen die boonste deel kners. Dit is oor die algemeen ‘n tyd wat hy wil gaan slaap en sal ook gehoor word wanneer hy slaap. Daar word beweer dat dit ‘n skoonmaak van die binnekant van die snawel is, maar dit betwyfel ek.

6. Afvee van die snawel :
Daar is twee redes, dalk meer, waarom hulle die snawel skoonvee. Die eerste is net logies dat daar na ete kos aan sou vassit, of ‘n los donsie, en hulle netheid wil behou deur hierdie gebaar uit te oefen.

Die tweede rede is veel interessanter. Dit vind plaas wanneer daar ‘n tweede papegaai sy verskyning maak. Die een wat sy snawel afvee, lig die indringer in dat hy sy onmiddellike persoonlike gebied, of spasie, betree en terug moet staan. Dit is nie ‘n aggressiewe gebaar soos die grom geluid, of klap met die snawel nie, maar bly ‘n waarskuwing. “Moenie te naby kom nie, want as jy dit doen gaan ek woedend raak.”

7. Wanneer hy hyg : Hierdie is die laaste teken waarna daar in die eerste reeks gekyk word en hou verband met klimaat, vermoeienis en/of baie ongemak. Daar is verskeie invloede wat die direkte oorsaak daarvan is dat ‘n papegaai sal hyg. Wanneer hy oorverhit is deur homself in die verkeerde omgewing te bevind, raak hy oorverhit en sal hy vinnig begin hyg. Sou hy wegvlug vir gevaar, of vlieg as hy nie daaraan gewoond is nie, sal hy hyg omdat hy ooroefen is. As die papegaai geweldig senuweeagtig word deur homself in ‘n gevaarlike situasie te bevind, is sy reaksie om te hyg vir ‘n kort tydperk, of totdat die gevaar verby is. In hierdie oomblikke moet hy kalm gehou word en verseker word dat hy weer veilig is.

Om mee af te sluit :
In die maand wat volg wil ek voorstel dat jy uitkyk vir hierdie tekens in jou papegaai en hul betekenis leer ken. Stel jou daarop in om hulle versoek te respekteer en daarvolgens op te tree. Na alles is dit deel van bou aan julle verhouding. Volgende keer kyk ons na verdere tekens soos die kop van kant tot kant toe te beweeg, nies en nog meer.

Geniet die nuwe uitdaging en maak die lewe hierdeur vir julle albei makliker.

 

skrywer: Francien Mare

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Terug pieng: Voëls – Roekeloos
Lewer kommentaar

Leave a Reply