Geheime papegaaitaal – Deel II

In die Eerste Deel was verskeie aspekte van die papegaaitaal sowel as vokalisering bespreek. Onder andere, gromgeluide, wat vermaning was om nie nader te kom nie, spingeluid, wat tevredenheid getoon het, klapgeluid met snawel, wat weer ‘n direkte verwysings is dat hulle bedreig voel; klapgeluid met tong, deur net sommige papegaaispesies gedoen word en ‘n behoefte te kenne gee dat hy aandag soek; kners op snawel, wat sy tevredenheid toon; snawel wat afgevee word beteken, of hy hou dit skoon, of sy gebied afsper teen ‘n indringer en die hyggeluid wat oorverhitting of ongemak bekend maak.

Ek vertrou dat julle die afgelope tyd op die uitkyk was na die betrokke lyftaal en geluide van jou papegaai en presies geleer het wat hy aan jou probeer verklap. Soos ons deur die reeks beweeg, sal jy meer bewus gemaak word van hulle omgangsvorme en daarom meer van sy taal verstaan soos jy hulle dophou. Dit sal daarom ook ‘n hegter band tussen jou vere-kind en jouself bewerkstellig.

Elke liggaamshouding en geluid geuiter is deel van sy gesprek met jou. Papegaaie het ‘n geweldige komplekse taal in die natuur om dit vir ander papegaaie moontlik te maak om te besef wat hulle behoeftes is, weet waar hulle gebied is en wanneer ander oortree. Die lyftaal is presies wat ons in ons huise met hulle ondervind en as ons ‘n daadwerklike poging aanwend om hulle taal te verstaan, sal interaksie veel makliker wees en beide partye gelukkig.

Na alles is dit ons behoefte dat hulle ons taal sal leer “praat” en is dit nie te veel gevra om in ruil hulle taal te verstaan nie. Laat ons dus begin met die volgende reeks lyftaal en geluide in die tweede reeks.

Die kop van kant tot kant beweeg
Die beweging van die papegaai is dat sy kop in ‘n egaligebeweging van kant-tot-kant beweeg word. Dit is veral die groot spesies wat die beweging gebruik en nie kleiner papegaaie nie. Dit is ‘n gebaar van opgewondenheid, of dat daar na aandag gesoek word. Hierin is geen indikasie van ‘n dreigement nie, maar meer ‘n uitnodiging na pret en plesier met sy maat.

Nies
Soos mense nies hulle ook. Daar is irritasies wat hul neus binnedring wat tot die genies aanleiding gee. Hulle nies ook om die neus skoon te hou. Dis daarom normaal as daar ‘n paar keer op’n dag genies word. Sommiges sal verskeie keer na mekaar nies, byna asof hulle een of ander aanval ondervind. Daar is daarom geen rede tot kommer hieroor nie, behalwe as daar tekens van ongesteldheid sigbaar is. Sou jy agterkom dat daar ‘n afskeiding is moet jy besorg raak. As jy agterkom die papegaai herhaal die genies, laag sittende op die stok, gebukkend op albei sy voete en nie soos gewoonlik eet nie, neem hom sommer dadelik na ‘n veearts vir toetse om vas te stel dat alles reg is.

Flitsende pupille
Hierdie teken wat met hul pupille gedoen word lyk asof die pupille uitsit, vergroot, en dui aggressie, genotvollevreugde of plesier aan. Jy moet die situasie onderskei om te bepaal wat die rede vir sy flitsende pupille is. Indien die papegaai kwaad is, moontlik met sy snawel oop en stert oopgesper, is sy boodskap “Moenie nader beweeg nie, staan dadelik terug!” In die situasie voorspel dit net moeilikheid met ‘n byt daarmee saam. As daar moontlik nog ‘n persoon, ‘n ander voël of troeteldier naby is, sal hy sy misnoeë hiermee te kenne gee.

Sou hy egter sy geliefdepersoon, gunstelinghappie of ‘n voël van die teenoorgestelde geslag sien, verander sy liggaamshouding radikaal. Hy flits die pupille, buig laag met die voorste gedeelte van sy liggaam, lig sy vlerke effens en pof sy vere op as gevolg van opgewondenheid. Hiermee nooi hy dit wat hom opgewonde maak om asseblief nader te kom.

Oor die algemeen gebruik hulle die flitsende pupille wanneer hulle seksueel volwasse geword het om ‘n potensiële maat te lok. In die geval is die gebaar nie ‘n waarskuwing van ‘n byt wat mag plaasvind nie, maar plesier of opgewondenheid. Dit kan gebeur wanneer daar met spraakopleiding begin word dat hy sy pupille vergroot juis omdat hy aandagtig luister na wat jy leer. In die situasie wys dit dat daar goeie vordering met jou opleiding gemaak word.

Soos in die meeste gevalle moet daar op die geheelbeeld gelet word om die regte vertolking van die liggaamshouding en vokalisering te kan maak.

Mooimaak van vere Papegaaie is skoon kreature. Daagliks word die vere mooigemaak en daar word gepoog om elke veer met sorg te hanteer. Die metode is om die veer, van waar dit uit die vel uitkom, tot op die punt, met die snawel reguit en skoon te maak in die proses. Die vere is gevorm deur klein miniatuur veeragtige stukkies met klein hakkies aan een kant. Hierdie hakkies hou die veer in geheel in fatsoen en gereed om te vlieg.

Elke papegaaispesie het ook ‘n olieklier aan die punt van die stert. Hierdie olie word deur hulle aangewend om die vere waterdig sowel as blink te hou. Jy sal opmerk dat daar vinnige heen en weer bewegings deur die kop oor hierdie klier gemaak word. Die olie word aan die snawel gewend wat dan weer versprei word, ook word die kop op die manier besmeer. Terwyl hierdie ‘n vreemde beweging is dink baie dat daar fout is wanneer hierdie gebaar vir die eerste keer opgemerk word. Tog is dit normaal en is hy besig om sy daaglikse taak te verrig.

Daar word soms gedink dat hulle ‘n probleem het of dalk luise het. Hierdie taak is normaal en is daar geen rede tot kommer nie. Wanneer hulle mooimaak is hulle gewoonlik rustig en voel hulle veilig. As daar meer as twee papegaaie bymekaar is sal daar opgemerk word hoe hulle mekaar in die taak bystaan, veral plekke waar dit moeilik vir hulle is om by te kom. Papegaaie wat alleen is en nie daarvan hou om saggies gekrap te word aan die nek en kop nie, sal gedurig hul koppe teen die hok, of speelding skuur, om van die waslagie om elke nuwe veer ontslae te raak. Mak papegaaie geniet om sy geliefde eienaar se hare mooi te maak, maar daar moet glad geen nadelige middels aan die hare wees wat hulle gesondheid mag benadeel nie. Skoongewaste hare is ‘n vereiste.

Die mooimaakproses sluit ook die voete en elke toon in. Hulle spandeer baie tyd om elke voet met tone skoon te maak. Selfs hierdie is normale prosedure. Mooimaak is nie dieselfde as vere uitpluk of vere wat gekou word nie. Hulle sorg daarmee vir hulle vere. Wanneer vere gepluk word, verwyder hulle gesonde vere, of byt hulle dan middeldeur.

In die tyd wat nuwe vere tevoorskyn kom sal jy klein, wit vlokkies opmerk waar hulle plaasneem, of aan die lyf. Wees nie besorg hieroor nie, aangesien dit deel is van die verwydering van die waslagies wat die nuwe vere bedek en die nuwe vere vrylaat om deel te vorm van ‘n gesonde veredos. Sommige papegaaie geniet hulp hierin, maar hy sal jou vinnig inlig of jou poging welkom is al dan nie. Dit kan ‘n gevoelige situasie wees en as jy te rof daaraan vat sal hulle seerkry en jou byt.

Rek en Strek
Net soos ‘n mens geniet om te rek, so ook papegaaie. Juis omdat hulle ‘n leeftyd op hulle voete deurbring geniet hulle om hulle bene en vlerke te rek. Dat dit aangenaam moet wees vir hulle moet gewis wees, omdat hulle die gebaar kan uitrek met tye. Een voet en die teenoorgestelde vlerk word saam gerek wat help om hulle balans te behou. Hul bloedsomloop word verbeter en hulle verfris hul liggame. Veral na daar geslaap was en soms deur die dag word daar gereeld gerek. Hierdie is n gebaar van tevredenheid.

Vlerke oopgesper, Snawel oop
Wanneer jou papegaai sy vlerke wydoopsper en sy snaweloopmaak, is dit duidelik dat hy vreeslik bedreig voel. Sou die gevoel van bedreiging voortduur, of deur ‘n mens of ander voël veroorsaak, sal hy byt. Sy boodskap is duidelik. Los hom uit totdat hy beter voel.

Om mee af te sluit
Ek vertrou dat julle hierdie reeks oor papegaaitaal geniet het en dat jy die nuwe kennis tot julle albei se voordeel aanwend. Hiermee sal daar beter interaksie plaasvind tussen julle twee. Hou aan om jou papegaai dop te hou vir die nuwe tekens, sowel as die vermeld in die Eerste Deel. Jy behoort teen die tyd reeds ‘n verbeterde verhouding met hom te hê en hom beter verstaan. In die volgende aflewering van die reeks, bestudeer ons lyftaal wat vlerke insluit, hangvlerke, vlerke wat klink asof hulle drom slaan, en bewendevlerke.

Geniet die ondervinding met jou voël-kind.

 

skrywer: Francien Mare

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Terug pieng: Voëls – Roekeloos
Lewer kommentaar

Lewer kommentaar