Geheime papegaaitaal – Deel III

Inleiding:
In die Eerste Deel van die reeks het ons lyf taal wat handel oor verskeie liggaamshoudings, bewegings en vokalisering bespreek. Soos grom, spin, klap met snawel, klap met tong, snawel afvee en hyg.

In die Tweede Deel bepreek ons lyftaal soos beweeg van kop van kant tot kant, nies;, vergrote pupille, mooimaak en vlerke uitsprei met oop snawel. Ek vertrou dat jy reeds van hierdie lyftaal met jou papegaai kennis gemaak het, maar ook dat jy instaat was om te verstaan wat die mededeling was en reg gereageer het daarop. Indien jy dalk die eerste of tweede deel nie gelees het nie, maak seker dat jy opvang, want daar is so baie wat jy kan leer.

In die Derde Deel gaan ons slegs vier liggaamsbewegings bespreek wat die volgende is: – Vlerk houdings in die algemeen, hang van vlerke, klappende vlerke;, lyf en vlerke wat bewe en vlerke wat trillend is. Ons gaan ook kyk na die houdings van stertvere, wipsterte, ook van kant tot kant bewegings en sterte vere wat oopgesper word.

Dis van groot belang om te alle tye te besef dat papegaaie indiwidue is, maar hierdie lyftaal, gedragsvorme van sit en beweeg met sekere dele van hul liggame sowel as vere, met of sonder geluide, skep alles saam ‘n baie komplekse taal wat elke spesie verstaan. Alhoewel hulle by hulle soort spesie bly, sal daar van tyd tot tyd met ander spesies kontak gemaak word. Hierdie lyftaal is in werklikheid wêreldwyd. Daar mag meer gereeld spesifieke liggaamshoudings of vokalisering in sekere spesies gesien word, maar in geheel, as jy die lyftaal verstaan as ‘n geheel, sal dit maklik wees om te bepaal wat die papegaai probeer oordra. Dit maak nie saak of dit ‘n budgie of macaw is nie. Anders as die mens, gebruik hulle almal dieselfde dialek, miskien hier en daar ‘n ander “aksent” wat eie aan ‘n spesie is.

Kom ons begin by die vlerkbewegings en dan die sterte met hul onderskeie bedoelings.

1.    Hangende vlerke:
‘n Jong papegaai, net na hy gespeen is, se vlerke hang. Hierdie verskynsel is normaal, omdat hy nog nie geleer het hoe om sy vlerke teen die lyf te hou en die postuur van ‘n volwasse voël kan handhaaf nie. Wanneer ‘n papegaai klaar gebad het sal hy in ‘n ontspanne houding ook die vlerke laat hang om hulle droog te kry en lug deur die vere te sirkuleer.
Wanneer hulle oorverhit is sal die vlerke hang en na buite weg van die lyf gehou word in ‘n poging om af te koel en weer meer lug deur te sirkuleer. As hierdie houding te lank aanhou moet jy vinnig ‘n daadwerklike poging aanwend om hom te verkoel, omdat hulle nie sweet nie en nie goeie beheer oor liggaamstemperatuur het nie. ‘n Papegaai gaan vinnig dood as gevolg van oorverhitting.
Hangvlerke kan ook die boodskap van “siek voël” oordra. Wanneer die papegaai op sy stok plaasneem met vlerke wat hang, maar andersins natuurlik optree, is dit moontlik dat hy net die dag “af voel”, maar hou hom dop vir enige ander simptome van siekte. As die papegaai laag op sy stok sit met hangende vlerk, of onder op die bodem van sy hok sit met sy vlerke wat afhang, is dit ‘n baie siek papegaai en het onmiddellike mediese sorg nodig. Onthou altyd dat voëls baie vinnig doodgaan.

2.    Klappende vlerke:
Hiervoor is daar twee redes wat ‘n papegaai sy vlerke klap as hy nie anders as besig is om te vlieg nie.
As een of albei vlerke na mekaar in ‘n skerp, flikkerende beweging geklap word, is die papegaai vererg of kwaad. Dit kan ook verwys na iets wat hom bedreig laat voel, of dat hy op daardie oomblik nie sy sin kry nie.
Soms gebeur dit dat ‘n veer uit sy plek uit skuif, wat vir die papegaai irriterend kan wees. Die papegaai sal sy vlerke heftig klap om die vere reg geskuif te kry. Direk hierna sal hy begin mooimaak aan die veer wat uitgeskuif het, sowel as die rondom. Sou jy so ‘n veer opmerk aan ‘n mak voël kan jy versigtig aanbied om tot hulp te wees met die regstelling daarvan. Die beste metode om dit te doen is om die voël op jou vinger of arm te laat staan, en met ‘n vinnige, onverwagse beweging jou arm te laat sak, wat hom dwing om sy vlerke te klap om balans te behou. Hierdie skielike klap van sy vlerke sal gewoonlik die probleem oplos.

3.    Trillende liggaam en vlerke:
Hierdie is vir my altyd ‘n wonderlike ervaring. Wanneer jy opmerk hoe sy liggaam se vere en die vlerke begin tril, of bewe, moet jy weet hy is baie opgewonde, of vol afwagting. Hierdie bewende vere is veral opsigtelik aan sy liggaam, by die borsvere veral. Hierdie is ‘n positiewe reaksie, maar ook negatief. Hiermee sal hy ook ‘n begeerte na iets beklemtoon. My African Grey, Louis, raak so opgewonde as ek voor sy hok staan, sy vere en vlerke begin bewe en hy sal van sal kos uit sy bak uitgooi. Alles net om my aandag daarop te vestig dat hy wil uitkom na my toe.
Wanneer hy sy gunstelingbeloning, of kos sien wat hy dalk lank nie gehad het nie, sal hy ook so reageer. As sy mens-maat ‘n tyd lank weg was sal hy met die bewende vere reageer om sy blydskap te toon wanneer hy terugkeer. Ek het al gesien hoe opgewonde hulle raak wanneer daar gery word, aangesien hulle dit geniet.
Daar is dan ook verskeie negatiewe invloede wat hierdie bewende vere veroorsaak. Senuweeagtigheid, onsekerheid en vrees kan hul liggaamsvere laat bewe. Al vertrou hulle nie hul situasie waarin hulle hul bevind, of persoon waarmee betrokke is nie, sal hierdie invloede ook die bewendevere veroorsaak. As daar skielik ‘n hond te voorskyn kom wat hy nog nooit gesien het nie, sal hy aan die bewe gaan alhoewel hy veilig in sy hok toegemaak is.
Wanneer ‘n negatiewe ondervinding die direkte oorsaak was dat sy liggaamsvere bewe moet jy in ‘n sag strelende stem met hom gesels en rustig probeer maak. Moenie hom probeer optel nie, behalwe as daar ‘n baie hegte band tussen julle bestaan nie, want hy sal met ‘n aanval reageer.
Dit gebeur ook dat die papegaai jou attent daarop wil maak dat daar iets is wat hy wil hê. As jy byvoorbeeld iets eet wat hy met jou wil deel sal hy ‘n geluid maak en sy liggaamsvere sal begin bewe. Hierdie is ‘n manier van kommunikasie waar hy sê, “Ek wil ook daarvan hê.”
Die heel logiese verduideliking vir hierdie toestand is dat hy koud kry daarom dat hy bewe. Bogenoemde vertolkings van die lyftaal veronderstel dat hy hom in ‘n gunstige omgewing bevind. ‘n Koue papegaai moet sonder versuim dadelik warm gemaak en gehou word. Temperature wat skielik verander en versuiming daarvan om hom korrek te versorg kan siekte veroorsaak gevolg deur die dood.

4.    Heftige klapbewegings met vlerke:
Hierdie gedrag is baie soos die gewone geklap van vlerke, maar sterker, ernstiger bewegings. Dit is soms ‘n beweging wat langer as gewoonlik duur. Sou jy opmerk hoe die papegaai aan sy stok of speelding vashou en so hard en vinnig moontlik die vlerke klap vir langer as ‘n minuut, is hy net besig om sy daaglikse oefening te doen. Die gebaar word veral deur ‘n papegaai wie se vlerke geknip word gedoen en nie geleentheid kry om te vlieg nie. Hy geniet die gevoel van vryheid wat dit verskaf. Die meeste geniet hierdie gedrag, maar daar sal wees wat dit nie uitvoer nie.
Hulle gebruik ook hierdie as dreigendehouding, maar nou met ‘n oop snawel, sou daar ‘n indringer in sy gebied te voorskyn kom. Hiermee waarsku hy die indringer dat hy sal aanval as die “bedreiging” nie padgee nie.

Kom ons kyk nou na wat die boodskap in hierdie stert houdings beteken in hulle lyftaal en hoe daarvolgens opgetree moet word.

1.    Stert op en af wip:
Merk jy dat die papegaai se stert op en af wip terwyl hy praat of sing, is daar geen rede tot kommer nie. Al wat gebeur is hy behou sy balans. As jy egter opmerk dat sy stert elke keer wat hy asem haal, op en af beweeg, is dit moontlik dat hy besig is om siek te word. Sou die wip stert saam met enige ander siek simptome gepaard gaan moet hy onmiddellike mediesehulp ontvang. Dis heel waarskynlik dat hy asemhalingprobleme en infeksie ondervind.

2.    Uit sper van stertvere:
Wanneer die papegaai die stertvere oopsper soos ‘n waaier, met of sonder oop vlerke en die snawel oop, of toe, is dit ‘n direkte indikasie van misnoeë en woede. ‘n Aggressiewe houding gewis, dreigend wat dit ook al is wat sy woede en misnoeë veroorsaak met ‘n byt sal aanval. Die rede dat die stertvere oopgesper word kan wees dat die papegaai nie meer, of langer, wil deelneem, of hê, met die persoon betrokke op daardie oomblik nie. Soos altyd is dit beter om terug te staan totdat hy weer beter voel en rustiger geraak het wanneer jy hierdie houding waarneem. Wanneer die vlerke oop is, sy snawel ook, word die mate van aggressie verhoog.

3.    Waai van stertvere:
Wanneer ‘n papegaai kort waaiende bewegings met sy stertvere maak, is dit gewoonlik ‘n teken dat hy gelukkig is. Wanneer sy gunsteling mense kom, is dit nie vreemd om hierdie gebaar waar te neem nie. Dis egter net die een gebaar deur die stert van links ‘n regs te skud wat aandui dat iets of iemand die papegaai gelukkig en tevrede laat voel.
Dit kan ook die indikasie wees dat iets aan sy agterlyf vassit. Dalk ‘n bietjie mis wat aan sy vere sit en hierdie beweging behoort dit los te kry. Baie het die manier om hul stertvere heen en weer te swaai net na hulle gemis het.

Ten slotte:
Ek vertrou dat hierdie lyftaal bewegings interessant was en jy bekende bewegings uitgeken het. Wees paraat om op te tree soos wat hulle van jou verwag en geniet hulle.

In die Vierde Deel, sal ons kyk na ses verdere houdings, geluide; sit houdings; blaf; byt; vokalisering soos sing of fluit; en kosopbring gedrag. Ek is daarvan oortuig soos wat jy hierdie geniet tot nou toe, gaan die volgende inligting ook tot groot hulp wees. Onthou dat al die lyftaal bedoel is vir beter kommunikasie, verhoudingsbou tussen jou en jou papegaai, as jy hom tot die uiterste toe wil geniet.

Teen die einde van die reeks sal jy met gemak “gaai-taal” kan lees en natuurlik verstaan.

Wanneer jy ‘n pappegaai gaan koop, kies een met blink oë. Pappegaaie kry maklik ooginfeksie so maak seker jy koop ‘n gesonde voël. Die pappegaai moet ook oop neusgate hê. Vuil neusgate is ‘n teken van asemhalingsprobleme.

 

skrywer: Francien Mare

 

wenk: Hoe groot moet my papegaai of ringnek se hok wees? Die voël moet sy vlerke daarin kan sprei en kan rondklouter sonder om teen al die ander goed in sy hok te stamp.

Sluit aan by die Gesprek

3 Kommentare

  1. Haai Pappegaai boere hoekom trek my pappegaai sy vere uit, hy kry vrugte groente en sy ander gewone saad. Op watter ouderdom kry hy sy ringe hy is al amper 'n jaar oud en het nog geen ringe nie

    Groetnis

    Ina

  2. Hi Ina
    Moet net nooit te veel saad voer nie, maar kyk na verskillende tipe kos wat ons voorgestel het om hom daarmee ook te voer. Hulle kry vanaf die ouderdom tussen 1½ en 2 jaar eers hulle ringe en dan is dit slegs die mannetjie wat die ring dra. Neem hom veearts toe om te kyk wat hy nodig het om hom te help met sy vere uitpluk probleem.
    Groete
    Francien

  3. Terug pieng: Voëls – Roekeloos
Lewer kommentaar

Leave a Reply