Die Franse Revolusie

revolusie, (ook rewolusie) is ’n opstand teen die staat wat tot ’n algehele ommekeer in die bestaande stelsel lei

Die grondliggende oorsake van die Franse Revolusie (1789-1795) was buitensporige belastings en feodalisme, wat die middelklas (bourgeoisie) daarvan weerhou het om deel van die regering te wees en die laer klasse in armoede gehou het. Boonop was voedseltekorte aan die orde van die dag.

feodalisme, die oorheersende maatskaplike stelsel van die Middeleeue in Europa waarvolgens landhere grond aan vasalle geruil het in ruil vir dienste.

Die aristokrasie en geestelikes het geen belasting betaal nie. Die koning het meeste van sy geld verkry van die buitensporig hoë belasting op boere. Die staat was feitlik bankrot vanweë die oorloë waarby Frankryk betrokke was. Voor 1789 was Frankryk feitelik ’n absolute monargie met bykans al die mag in die hande van die koning wat oor die sogenaamde goddelike reg van konings beskik het. Hy het regeer met behulp van ministers wat hy na willekeur aangestel en afgedank het. Voltaire, Denis Diderot en Jean-Jacques Rousseau het die idee van ’n revolusie by die Franse teweeggebring. Verteenwoordigers van die middelklas stig die Derde Stand en dring aan op demokratiese hervormings. Op 10 Junie 1789 word die Nasionale Vergadering gestig deur die Derde Stand. Lodewyk XVI se reaksie is om troepe na Versailles te stuur. Op 14 Julie bestorm Parysenaars die Bastille. Die val van die Bastille is beskou as die einde van die ou era. Die revolusie versprei deur Frankryk en die boere brand herehuise en kastele af.

Versailles, ’n stad in Frankryk wat veral bekend is vir die Versailles-paleis oorspronklik opgerig deur Lodewyk XIII in die 17de eeu, maar daarna uitgebrei deur Lodewyk XIV tot die koninklike hof wat 15 000 persone gehuisves het, waarvan 3 000 permanent in die gebou gewoon het

Bastille, ’n groot gevangeniskasteel in Parys. Dit is aanvanklik in 1370 opgerig as ’n gewone gebou met twee torings. Later is nog torings en hoë mure opgerig en die vesting met ’n grag omring. So baie gevangenes is verkeerdelik hier in die geheim aangehou dat die Bastille ’n simbool van onreg geword het. Die val van die Bastille word as die begin van die Franse Revolusie gesien. Die gepeupel het die tronk op 14 Julie 1789 aangeval en na ’n paar uur se woeste gevegte is die gebou oorgeneem en die goewerneur doodgemaak. Daar is die volgende dag begin met die afbreek van die gebou. Vandag staan daar ’n bronspilaar met ’n vryheidsbeeld op die plek.

Die adel word afgeskaf in Frankryk in 1790 en in 1792 word Frankryk tot republiek verklaar. Op 21 Januarie 1793 word Koning Lodewyk XVI tereggestel met ’n valbyl, later gevolg deur sy vrou Marie Antoinette. In Julie van daardie jaar neem die ekstremistiese revolusionêre groep, die Jakobyne, die mag oor in Frankryk. Gedurende die skrikbewind van die Jakobyne van September 1793 tot Julie 1794 word sowat 17 000 mense onthoof en 300 000 in hegtenis geneem. Maximilien Robespierre, ’n sleutelfiguur in die skrikbewind is self in Julie 1794 onthoof. Die Direktoraat bestaande uit vyf lede het die mag in Frankryk oorgeneem in 1795. In 1799 werp Napoleon Bonaparte die Direktoraat omvêr en neem die mag oor.

Die gees van die revolusie is opgesom deur die slagspreuk: “Vryheid, Gelykheid en Broederskap” (Frans: Liberté, égalité, fraternité). Die vlag van die revolusie was blou, wit en rooi.

Die Franse Revolusie het ’n uitwerking op die hele Europa gehad en het die weg gebaan vir demokrasie. Belangrike hervormings was die skeiding van staat en kerk en die afkondiging van talle regte soos die reg op persoonlike vryheid, persvryheid en die gelykheid van alle mense voor die wet.