Johnny Nash is die week oorlede in die ouderdom van 80 jaar. Indien jy die opskrifte moet glo was sy loopbaan beperk tot een liedjie “I Can See Clearly Now”. Hy het egter ’n spesiale aandeel in ons gedeelde musiekgeskiedenis gehad.

Hy het reeds verskeie treffers agter sy naam gehad teen die tyd wat “I Can See Clearly Now” verskyn in 1972 op die album met dieselfde titel. Die eerste een, “A Teenager Sings the Blues”, reeds in 1957. Dit is egter in 1965, wanneer Nash verhuis, dat hy ’n belangrike ontdekking maak. Nie lank nadat hy in Jamaika aankom nie woon hy ’n partytjie by. ’n Onbekende band verskaf die aand se musiek, Bob Marley & The Wailing Wailers. Nash bied vir, nie net Bob Marley nie, maar ook Bunny Wailer en Peter Tosh elkeen ’n platekontrak aan.  Die res is geskiedenis.

Saam met “I Can See Clearly Now” op die album is vier reggae-komposisies uit die pen van Bob Marley: “Guava Jelly”, “Comma Comma”, “You Poured Sugar on Me”, en oorspronklik spesiaal vir Nash geskryf, “Stir It Up”.