Roekeloos.co.zaRoekeloos.co.za

AFDELINGS

DIENSTE

TEKEN IN/UIT op Roekeloos se weeklikse nuusbrief!

Webwerf bepalings en voorwaardes

Marika
Ek moet bieg dat ek nie vreeslik lus was vir hierdie storie nie. Boonop sukkel ek my as af om die vermaaklikheidsentrum in die inkopiesentrum op te spoor tussen hordes mense wat almal op die laaste minuut wil kersinkopies doen. Na ´n paar groot tannies met winkelsakke oor my geloop het kom ek uiteindelik op die regte plek uit, net om weereens moed te verloor. Op die verhoog is daar ´n lang blondine wat maklik ´n Springbokslot sal laat kort lyk; lyk alles behalwe na ´n vyftienjarige uit die voorstede. Ek was net reg om my selfoon uit te pluk en te begin skel toe ek die CD-uitstalling eenkant sien; MARIKA.

Dis amper onmoontlik om die jong dame op film vas te vang, want sy staan nie vir ´n oomblik stil nie. Alle kleure en geure sit en staan vasgenael en kyk na die akkels wat sy op die verhoog uithaal, selfs die sekuriteitswag langs my sê aanhoudend in ´n gebroke Xhosa-Engels Wow! She is good. She is good. ´n Beter kompliment kan ´n meisie uit Durbanville nie kry nie.

Roekeloos: Waar en wanneer is jy gebore?

Marika: Kaapstad, 1985.

Roekeloos: Wanneer het jy die eerste keer gesing?

Marika: Ek sing al van kleins af, maar dit was my pa wat besluit het ek is goed genoeg vir die verhoog. Die eerste keer het ek egter stage fright gekry. My pa het my egter weer laat probeer. Op 10 het ek begin sanglesse neem.

Roekeloos: Beoog jy om sang eendag jou loopbaan te maak?

Marika: Beslis! Ek is mal oor sing. Na skool wil ek dalk na die Waterfront Theatre School gaan vir verdere opleiding.

Roekeloos: Is daar enige iemand in jou familie wat musikaal is?

Marika: My oupa het in ´n boere-orkes gespeel, maar dis ook al.

Roekeloos: Bespeel jy enige instrumente?

Marika: Ja, ek is mal oor die klawerbord.

Roekeloos: Hoe gaan dit met jou skoolwerk?

Marika: Dis nie maklik om skool en ´n sangloopbaan saam te doen nie, maar ek doen my beste.

Roekeloos: Het jy darem vriendinne?

Marika: O ja, ek het ´n klomp baie goeie vriendinne.

Roekeloos: Help die "bekendheid" om jou gewild te maak op skool.

Marika: Nee, glad nie. My vriende is ware vriende.

Roekeloos: Kêrels?

Marika: Nee! Nee! Nee!

Roekeloos:Wat was die hoogtepunt in jou lewe tot dusver?

Marika: Toe ek in Junie by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap vir Uitvoerende Kunste in Krugersdorp aangewys is as algehele wenner in my kategorie en toe ek daarna in die VSA weer wen.

Roekeloos: Het jy darem borge wat uithelp met al die reis en vertonings?

Marika: Nee, ons moet alles self betaal.

Roekeloos: Van wie se musiek hou jy?

Marika: Popmusiel. Tina Turner en Cher is my gunstelinge.

Roekeloos: Hoekom?

Marika: Hulle is al ´n geruime tyd op die verhoog en het hulle merk gemaak in musiek oor die jare. Ek hou ook van Britney Spears en die ander, maar hulle moet hul nog self bewys.

Roekeloos: Jy doen meesal covers op die oomblik. Sing jy enige oorspronklike musiek?

Marika: Daar is 4 oorspronklike liedjies op my nuwe CD (Take it or leave it).

Roekeloos: Sing jy in Afrikaans?

Marika: Ja, maar nog baie min. Heel moontlik sal ek dit meer in die toekoms doen wanneer ek beter materiaal tot my beskikking het. Die ou Afrikaanse liedjies is veels te trekerig. Ek hou egter van die nuwe goed wat Sonja Heroldt doen.

Roekeloos: Wat is die aakligste plek waar jy al opgetree het?

Marika: In Stellenbosch in ´n mall. Mense het verbygeloop asof niks gebeur nie. Na drie liedjies wou ek van die verhoog afklim.

Roekeloos: Wie is jou rolmodelle en wie sou jy graag wou ontmoet?

Marika: Tina Turner en Tina Turner

Roekeloos: Waarvan hou jy?

Marika: Dans. Ek hou ook vreeslik baie van skryf.

Roekeloos: Waarvan hou jy nie?

Marika: Sport

Roekeloos: Wat is die coolste ding wat jy al ooit gedoen het?

Marika: Paragliding saam met my pa by Sun City. Ek sal dit oor en oor en oor doen.

Roekeloos: Wat is die beste advies wat iemand jou al ooit gegee het?

Marika: Aanhou, Uithou en soms jou mond hou.

Gunstelinge:
Akteur/Aktrise: Richard Gere en Meg Ryan
Fliek: Coyote Ugly
Uithangplek: Tygervallei/Canal Walk
Kos: Pizza en McDonalds
Skrywer: Francois Bloemhof

volgende blad

© 1997 - 2004, Roekeloos.co.za, bydraers, skrywers en kunstenaars. Roekeloos.co.za besit kopiereg op alle inhoud vir die doel van publikasie, tensy anders aangedui. - LET WEL: Die sienswyses hier uitgespreek en die grafiese materiaal wat hier vertoon word reflekteer nie noodwendig die mening van Roekeloos.co.za nie, maar slegs die van die betrokke skrywer, bydraer of kunstenaar.

© 2008 Roekeloos.co.za   Die maatskappy
Alle regte voorbehou!

My Life
Boek
Bill Clinton
My Life