Quintus van Rensburg het onlangs die geleentheid gehad om 'n paar vrae aan Christina Landman te stel.
Quintus van Rensburg: U is bekend as ´n kampvegter vir vroue en iemand wat meer as gereeld op ander se tone trap. Indien dit u keuse was, waarvoor sou u egter bekend wou wees?
Christina Landman:Ek sou graag twee dinge met my lewe wou gedoen hê voor ek vreedsaam sterwe. Die eerste is om te help om godsdiens van sy onderdrukkkende elemente te bevry. Dit beteken dat ons die taal waarin ons oor godsdiens praat, en ook ons diskoerse oor godsdiens moet verander. Dis lekker om hierdie debatte in die pers te voer en selfs kans te kry om dit te inisieer.
Die tweede ding is om soveel godsdienstige mense as moontlik se verhale op te teken. Met ons geselsgeskiedenis skryf ons nie net mense se verhale neer nie, ons probeer ook om mense so heler te maak. Die persoon moet beter oor hom- of haarself voel deur aan die geskiedenis deel te neem.
Quintus van Rensburg: Met die publikasie destyds van The Piety of Afrikaans Women het u reeds tekens getoon dat u moontlik u tyd vooruit is. Dink u Afrikaanse vroue het intussen meer bygekom en dink u die Afrikaanssprekendes is oor die algemeen meer vatbaar vir die idee dat hulle hul eie etiese besluite kan neem?
Christina Landman:Ek sien iets interessants in my berading. Ek sien Afrikaanse vroue in huwelike en verhoudings ingaan met sterre in hulle oë. Hulle sien uit na ´n verhouding vol gelykheid en sharing en al die ander nuwe mites waarin vroue deesdae glo. En hulle dink dat hulle hulle eie seksualiteit kan definieer of kortom, om te sê wat vir hulle lekker in die bed is. Uiteindelik vind hulle uit dat dit net hulle is wat ´n nuwe siening van vroue het - die mans dink nog steeds vroue moet die huis hou en nie vrae vra oor waar hulle die nag was nie. En min mans weet of gee om oor vroue se lekker, en wat in seks vir vroue lekker is. So, ek dink Afrikaanse vroue het verander, maar die mans is nog nie reg om regtig met hulle gelyke partners te wees nie.
Is ons reg om ons eie etiese besluite te neem? Nee en ja. Nee, ons is eeue eties dom gehou en aanhoudend terugverwys na die etiese reëls van duisende jare gelede, asof daar net een etiek was wat dwarsdeur bybelse tye geheers het. En die oomblik wanneer mense soos ek oor etiek praat, word ons voorgehou as losbandig.
En tog ja ook, ek dink mense wil nuut oor etiek begin dink, want telkens as iemand iets oor seks sê, is dit in die pers. Van al die werk wat ek probeer doen, word ek net oor seks aangehaal. Dit laat my dink dat mense graag oor seks wil praat, en net ´n geleentheid daarvoor soek. Ek sal maar daardie geleentheid wees, al weet ek nie meer van seks af as die gemiddelde Afrikaanse vrou nie.
Quintus van Rensburg: Ons het seker al genoeg bybelversies gekry om ´n Bybel te publiseer elke keer as u die nuus haal. Dit blyk dat die soort Calvinisme wat in Suid-Afrika bedryf word bestaan uit "tien van die" en "twintig van daai" en as jy nie puntsgewys daarby kan hou nie is jy verdoem. U mening hieroor?
Christina Landman:Elke samelewing het maar sy fundamentaliste wat mense op hulle stomme domme manier met Bybelversies boelie. Hulle is nie so baie nie, maar hulle vat baie plek vir hulleself. Ek sou wou sien dat kerke ´n plek word waar mense spiritueel groei en intelligenter word, eerder as dat hulle daar geleer word om mekaar met bybelversies aan te rand.
Quintus van Rensburg: Sommige mense raak redelik warm onder die boordjie by die aanhoor van u naam. Hoe voel u oor kritiek wat na u kant toe geslinger word en kry dit u soms onder?
Christina Landman:Een feminis het lank gelede gesê: "I need the struggle more than a lover". Miskien is ek ´n bietjie so: ek kan nie sonder hierdie debatte en die hitte van kritiek klaarkom nie. Ek het egter myself lank gelede ´n heerlike ding aangedoen: ek het myself daarvan bevry om te probeer om mense se kritiek te beheer. Ek kan nou na hulle stories en kritiek kyk en daaruit afleidings maak oor hoe godsdienstige gedrag lyk. Miskien word die lewe vir ons almal ´n bietjie beter as ons verstaan wat godsdiens aan en vir ons doen.
Eintlik beslaan die pers en die debatte daarin maar omtrent 2% tot 3% van my dag. Die res gaan in studente en navorsing in. Mense beheers nie my selfbeeld nie. Ek weet hoe werk verbale geweld en kan die deur daarop toemaak. Dit kom nie by my woon nie. Suid-Afrika is ´n laboratorium vir iemand soos ek wat godsdienstige gedrag bestudeer. So, ek dink ek kan voordeel uit die debatte trek sonder dat dit my of my dag oorheers.
Quintus van Rensburg: Wat maak u warm onder die kraag?
Christina Landman:As iemand op my kind skree.
Quintus van Rensburg: Wat is u beste eienskappe ..... en die slegste?
Christina Landman: Ek dink nie aan myself as iemand met goeie en slegte eienskappe nie. Ek het shifting identities. Ek probeer die "goed" in elke situasie uitruik. Ek berei my goed op situasies voor, maar verwyt nie myself indien ek "sleg" vaar in een nie.
Quintus van Rensburg: Wat het Christina Landman gedryf om te kom tot waar sy vandag is en wat laat haar elke oggend uit die bed opstaan? Het u enige rolmodelle (gehad)?
Christina Landman:Ek is baie nuuskierig oor alles, veral dinge wat met godsdiens te doen het. En as ek mag sê, ek werk baie gedissiplineerd en geweldig hard. Seker 15 of 16 uur op ´n dag. Ek het ses grade gehad voor ek 30 was. Toe ek jonger was, het ek party nagte glad nie gaan slaap nie. Ek lees omtrent 3 nuwe boeke elke dag en skryf ongeveer 10 000 woorde, deesdae ongelukkig meestal in Engels. Ek dra altyd boeke en skryfpapier saam met my en voel "skuldig" as ek nie twee of drie dinge gelyk doen nie.
My rolmodelle sedert my kinderjare was vroue wat depressief geword het omdat hulle nie met hulle volle potensiaal aan die lewe kon deelneem nie. Wat my gedryf het, was om nie soos hulle te word nie en uit daardie ellendige voorstedelike bestaan te ontsnap.
(Askuus dat ek sulke fancy goed oor myself sê. Dis regtig vir my ´n verleentheid. Ek wil maar net daarmee sê, ek dink nie goed uit my duim uit om ander mense mee te irriteer nie. ´n Klomp werk en begronding lê agter alles, al mislei die nie-kerktaal wat ek gebruik mense miskien.)
Quintus van Rensburg: Het u al Roekeloos.co.za gelees en, indien wel, wat was u eerste gedagtes daaroor?
Christina Landman: Nee, maar ek gaan nou.
Gunstelinge:
Sport: Ek het vroeër maratonne gehardloop en dit baie geniet. Nou stap ek vroeg saans.
Drank: Ek drink nie alkohol nie, maar wel te veel koffie.
Kos: Ek glo die Here het klaar kos gemaak, ek hoef nie ook kos te maak nie. Ek sny net kos.
Musiek: Johannes Kerkorrel en om self orrel te speel.
Fliek: Ek kyk meestal films wat in my 12-jarige seun se smaak val. Nou die dag wou ek myself bederf en het toe Romance gaan kyk - en my verstom aan die diskoerse oor vroulike seksualiteite daarin, maar ander mense sal dit waarskynlik te pornografies vind.
TV-program: Ek kyk al wat ´n komedie is. Dis my ontspanning. Ek is versot op die kort, komiese sin wat optimaal kommunikeer. Ek kan nooit genoeg daarvan kry nie.
Boek: Daardie laaste boek van Koos Kombuis.
Skrywer: Naas Koos, seker André P Brink.
Vakansieplek: Enige plek in Afrika.
© 1997 - 2004, Roekeloos.co.za, bydraers, skrywers en kunstenaars. Roekeloos.co.za besit kopiereg op alle inhoud vir die doel van publikasie, tensy anders aangedui. - LET WEL: Die sienswyses hier uitgespreek en die grafiese materiaal wat hier vertoon word reflekteer nie noodwendig die mening van Roekeloos.co.za nie, maar slegs die van die betrokke skrywer, bydraer of kunstenaar.
© 2008 Roekeloos.co.za Die maatskappy
Alle regte voorbehou!