AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Motor
Musiek
Sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Verhale
Wenke
DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek
|
Stuur jou resensie vir ons by ![]() The GiftMet: Cate Blanchett, Hilary Swank en Keanu Reeves The Gift is miskien nie nog ´n Sixth Sense nie, maar daar is geen rede om te kla oor die sterbelaaide rolverdeling in dié bo-natuurlike riller nie. Selfs al weet jy wat die kinkel in die kabel gaan wees, is dié heerlike, grillerige moordraaisel boeiend en onthutsend - ´n skaars belewenis in hierdie dae van goedkoop sensasie, emmers vol bloed en binnegoed en oordrewe spesiale effekte. Regisseur Sam Raimi bring bo-natuurlike elemente effektief by en gebruik sy spelers, gelei deur Cate Blanchett, vernuftig. Raimi, die regisseur van die afstootlike 1982 gru-fliek The Evil Dead en sy twee opvolgers, sowel as die briljante 1998 drama A Simple Plan, illustreer sy uitsonderlike gawe vir die vertel van sterk, ontstellende, realistiese verhale wat die bo-natuurlike ontgin. Blanchett, die Australiër wat vir ´n Oscar genomineer is vir haar titelrol in 1998 se Elizabeth, lewer ´n skitterende vertoning as Annie Wilson, die ma van drie jong kinders wat onlangs weduwee geword het en ´n bona fide siener is - die "geskenk" van die titel - en haar karige pensioen opgee om kaarte te lees vir die minder konserwatiewe inwoners in haar klein dorpie in die Amerikaanse Suide. Onder dié wat Annie besoek vir voorspellings en vriendelike raad is die mishandelde vrou Valerie Barksdale (Hilary Swank), wat getroud is met die rowwe, macho Donnie (Keanu Reeves), en ´n geestelik onstabiele motorwerktuigkundige Buddy Cole (Giovanni Ribisi), ´n geteisterde siel wat ´n donker familiegeheim dra. Ongelukkig is elke "geskenk" nie ´n seëning nie. Sommige dorpenaars vermoed dat die boodskappe in Annie se kaarte bloot ´n kullery is, of nog erger, Satan se handewerk. Wanneer die ryk, beeldskone, seksueel losbandige Jessica King (Katie Holmes) vermoor gevind word nadat sy vermis geraak het, begin haar aangerande liggaam Annie deur haar gesigte teister. Omdat daar so min leidrade is wend Jessica se pa, haar verloofde (Gary Kinnear) en Sheriff Pearl Johnson (J K Simmons) hulle teësinnig na Annie. Sy word gedwing om die donkerste dieptes van haar gawe te ondersoek en ´n wêreld te betree waarvan sy nie eers in haar wildste nagmerries kon droom nie. Billy Bob Thornton en Tom Epperson, die skrywers van die draaiboek wat eens op die rak beland het, was ook verantwoordelik vir Carl Franklin se 1991 One False Move. Hulle skets en skakel die een verdagte na die ander uit, maar die werklike moordenaar is nie te moeilik om uit te ken nie - hoewel die finale kinkel minder voorspelbaar is. Die ware gawe in The Gift is Blanchett se buitengewone vertolking. Haar gewortelde intelligensie en subtiliteit hou die rolprent aan die gang wanneer dit dreig om uitmekaar te val. Sy beeld Annie se teenstrydige houding teenoor haar buitengewone magte oortuigend uit. Keanu Reeves moet ook genoem word omdat hy hier die beste spel van sy loopbaan lewer. Hy is so oortuigend as die boosaardige skurk Donnie dat mens wens dat hy wil wegkom van die mooiseun-rolle af en bly by die vertolkings wat bietjie meer van hom verg. |