|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
Die Summerse van Glen Etive
(Mag ek jul vertel van 'n plaas
Waar die bobbejane vandag nog raas?)
Vier ou Summerse woon al vir 'n ewigheid op die plaas
Warm of koud knetter die vuur gesellig in die Doverstoof
Daar op die plaas waar hulle hul lewens vir mekaar afsloof
Dit terwyl die bobbejane gesellig in die rivierbos raas
Op 'n dag was daar net drie Summerse wat woon op die plaas
Toe broer Juwie, oorgewig en vet, die hoogste tol moes betaal
Die krisis was groot want die ruiter was skielik uit die saal
Dit terwyl die bobbejane gesellig in die rivierbos raas
Drie ou Summerse woon al vir 'n ewigheid op die plaas
Die pad na die kerkhof was lank reeds toegegroei en is oopgesnoei
Toe die kis in die graf afsak, het die melkkoei weemoedig geloei
Dit terwyl die bobbejane gesellig in die rivierbos raas
Op 'n dag was daar net twee Summerse wat woon op die plaas
Toe broer Annerries, krom en oud, op Kaap toe is vir behandeling
Hy het weggeteer terwyl die patattaranke skroei sonder waterleiding
Dit terwyl die bobbejane gesellig in die rivierbos raas
Twee ou Summerse woon al vir 'n ewigheid op die plaas
Die familie het swaar gegrawe om 'n laaste rusplek te gee
Wat van die susters gaan word, het niemand mee vree
Dit terwyl die bobbejane gesellig in die rivierbos raas
Op 'n dag was daar net een Summers wat woon op die plaas
Toe suster Gesie se oë deur dokter Braam is toegedruk
En die tyding gee, dat die kok van formaat, is finaal weggeruk
Dit terwyl die bobbejane gesellig in die rivierbos raas
Een ou Summers woon al vir 'n ewigheid op die plaas
Vir tannie Hannie, die ou generaal, so intens was die verlange
dat sy ook gou gesterf het onder die familie se vreugdesange
Dit terwyl die bobbejane gesellig in die rivierbos raas
Geen ou Summers woon teenswoordig op die plaas
So het een hele geslag het een-vir-een uitgesterf
En die gras en bossies het gegroei, oor die eens trotse werf
Dit terwyl die bobbejane gesellig in die rivierbos raas
Vier ou Summerse lê rustig in die kerkhof op die plaas
In 3 grafte was hulle weggesit- oom Juwie, oom Annerries, elk in eie een
En die susters is begrawe - so was hulle ook tot in die dood een
Terwyl die bobbejane gesellig in die rivierbos raas
Terwyl die bobbejane gesellig in die rivierbos raas
Is die vraag van 'n liefdevolle Vader:
My kind, my kind wil jy nie ook eendag kom nader?
Soos die vier ou Summerse wat rustig lê in die kerkhof op die plaas
- Emile de Villiers
|