|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
Verlange
In die ritsel van die blare in die wind,
Hoor ek die stem van dae lank verby.
Soos van 'n moeder na haar kind
Met haar tere troos die hart verbly.
Die stem dring deur die stilte van die nag.
Na die siele wat in eensaamheid moet lewe
En die siele op die môrester moet wag.
Waar die riete in die najaarsbries staan bewe.
Laat die dag dan kom met al sy skoonheid.
Van lentekleure in die bossies en die bome
Met sonskyn blinkend op die sagte lower.
Dan smag ek na die velde, vêr en wyd,
Na die helder aande by die donker strome.
Waar die skalkse maanlig alles saggies tower.
FA Moll
(FA Moll is oorlede in Desember 1989. Die gedigte is geplaas namens sy seuns Pieter en Kiewiet Moll.)
Vertroosting
Deur die stilte van die gure aand.
Ruis die eentonige lied van die wind
In die klanke altyd roepend, klaend,
Soos die eensame siel wat nie rus kan vind.
Veraf klink die heilige simfonie van die nag.
Sugtend deur die see van groene lower.
Eindloos in sy veraf klag.
Wat alle rede tot gewyde eerbied tower.
In die ruising vind my siel sy weerklank.
Teen die verre kalmte van bepeinsing.
Wat my aanspoor tot 'n groter strewe.
Staar ek blindelings na die sware wolkebank.
Of sien ek die lig se laaste deining
Sien ek die wese van 'n beter lewe.
FA Moll
(FA Moll is oorlede in Desember 1989. Die gedigte is geplaas namens sy seuns Pieter en Kiewiet Moll.)
Heilige Ster
Hoog verhewe in sy ruime hemelsbaan
Rus die aanster teen die swart fluweel
Stadig begin hy deur verligte velde gaan
Om te wink na 'n wêreld wat die wonde heel.
In die korte ure van die lange nag
Bly staan hy as teken van die tyd.
So stil en rustig, immer maar op wag.
Oor die pols van die hemel, vêr en wyd.
So bly daar in my verdriet net een as lig
Wat my lei deur donker paaie heen;
Om af te stuur op gans 'n beter oord.
Immer is die liefde besig my op te rig,
Al sou ek ook in diepe swye ween
Sonder 'n traan of een enkele woord.
FA Moll
(FA Moll is oorlede in Desember 1989. Die gedigte is geplaas namens sy seuns Pieter en Kiewiet Moll.)
Lewenskennis
So menige salige siele
Verkeer in die waan
Hul het die geheim ontdek
Om te weet waar hul staan.
Daar is slegs een waarheid
Hoe vêr hul ook mag soek,
Niemand kry tevredenheid
Op die donker straat se hoek.
Hoe vêr het hul gedwaal
Geen mens sal dit ooit weet.
Nooit kan hul dit begryp,
Al is daar in die arbeid sweet.
FA Moll
(FA Moll is oorlede in Desember 1989. Die gedigte is geplaas namens sy seuns Pieter en Kiewiet Moll.)
Die Enkeling
Hy het gekom
Uit die niet tot hier
Net hy alleen.
Geen sterfling ken sy perk
Of grens van gees.
Hy het net gekom, geen vriend of krans versier
Sy self en so alleen
Vol moed en sterk
Sou sy taak moes wees.
Hy het gesien
Soos in 'n spieël
Die weerga van sy roem.
In sweet van arbeid
In trane van sy rou.
Hy het net gesien
In 'n draaikolk soos 'n wiel
Die oordeel en die doem.
Die lewenswyses byt
Maar hy onthou.
Hy het verstaan
Wat die versugting was
Die sug van die lewe
Vêr bo die verstand
Is meer as net die mens.
Hy het net verstaan
Waar hy allenig was
Sonder lig omgewe
Maar tog, dié Hand
Vervul die grootste wens.
FA Moll
(FA Moll is oorlede in Desember 1989. Die gedigte is geplaas namens sy seuns Pieter en Kiewiet Moll.)
'n Groot Figuur
Met sy invloed wat so wyd kan strek
Tot die einde van sy liewe land
Met sy woorde ongetel
Sleur hy almal aan die hand.
Die wat volg, kan sien
Hul glo dit wat hy beplan
Deur te sien wat hy bedoel
Terwyl hy weet wat hy kan.
FA Moll
(FA Moll is oorlede in Desember 1989. Die gedigte is geplaas namens sy seuns Pieter en Kiewiet Moll.)
Die Woestaard
Aan die sypaadjie van die lewe
Vêr van die kern van gesag
oor menseregte,
tref ons hom in sy eie ryk
Sonder sidder of bewe
Vertrap hy ook dié Gesag.
Menige straatgevegte
Het sy ontembaarheid laat blyk.
FA Moll
(FA Moll is oorlede in Desember 1989. Die gedigte is geplaas namens sy seuns Pieter en Kiewiet Moll.)
Ontwaking
Statig rys die klanke van 'n wydingslied
Deur die donker blare in die wind
Met die suiderlig wat weereens laafnis bied
Aan ons almal wat ons pad moet vind
Nou begin die frisse somersmaande
Met 'n stemming van gewyde diens
In die soelheid van die lente-aande
Klink die melodie van vreugde en offerdiens.
Die blomme pryk in glorie op die gras
As teken van vandag se grootse heiligheid
Al sprekend van die smart wat was
Elk treetjie as teken van nuwe skoonheid
Laat ons dan staan om weer te kyk
Na al die blomme om ons heen
Na al die prag wat nimmer wyk
Selfs al sou die blomme ween.
FA Moll
(FA Moll is oorlede in Desember 1989. Die gedigte is geplaas namens sy seuns Pieter en Kiewiet Moll.)
Bepeinsing
Stilswygend sterwe nog 'n dag
Met donker skadu's om my heen
En die duister van 'n ander nag.
Bring in die rus die seën
Menig sterfling moet nog wag
In sonskyn of in reën
In die Gewer van sy Krag
Van die hoogste Hand ontleen.
Baie moet daar nog gaan
Elk met sy smart en kruis.
In die floue lig van die maan
Tot in Sy lank begeerde huis.
Met soveel werk nog ongedaan.
Selfs by die sagte windgesuis
Verkeer ons almal in die waan
Dat oor ons hoofde lof sal ruis .
FA Moll
(FA Moll is oorlede in Desember 1989. Die gedigte is geplaas namens sy seuns Pieter en Kiewiet Moll.)
Bolandse Herfs
Daar waar somergroen en lewe eens gepryk het
Met sonlig in groen plantasies en blommeprag,
Lê die kolle as teken van 'n tyd wat verstryk het
Blare en takke wat in najaarswind versmag.
Die groot simfonie van wind en bloeisels en blare
Het verander in 'n treurlied van 'n kale twyg
Teen die pers-rooi décor van 'n onverwagte mare,
Waar dit alle note van lewe moet verswyg.
Eentonig klink die wysie van die wind.
Deur die ruimte van die bossies in die veld.
Waar nou die skynsel van die lig gaan sterf.
My siel smag ook om eendag rus te vind,
Maar nooit by die valse geklank van geld,
Want daar sal my gees vir ewig nog swerf.
FA Moll
(FA Moll is oorlede in Desember 1989. Die gedigte is geplaas namens sy seuns Pieter en Kiewiet Moll.)
Swerwersdroom
Na die ruimtes roep my siel vandag,
Waar die velde nog die gees regeer.
Sonder die bande van 'n verpligting
Van nietighede rondom my heen.
Selfs by die grootsheid van die somernag
Sink ek net ter aarde neer.
Niemand luister na die diep versugting
Geen sterfling hoor my as ek ween.
Kom teenspoed teen my aangesweef,
Sal ek nooit iets nog begeer
Van mensehulp in die vêr verskiet.
Laat my daar in die nag alleen.
Dan weet ek, niemand wat nog leef
Sal hom ooit na my paadjie keer
En my 'n lank-begeerde handjie bied,
Want elkeen moet sy eie lot beween.
Dan wil ek altyd maar 'n swerwer wees
Met die prag van najaarvelde in gesig
En die bloue hemel daarbo my paleis.
Met wolkestapels soos marmerbeelde.
Daar is plek vir my vermoeide gees.
In die glans van die suiwer sterrelig,
Wat teen die bloue najaarshemel wys
Na die rykheid van onbekende somerweelde.
FA Moll
(FA Moll is oorlede in Desember 1989. Die gedigte is geplaas namens sy seuns Pieter en Kiewiet Moll.)
|