|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
Middag in die biblioteek
In die biblioteek is net ou mense
ou boeke
ou protespoësie
my graadvoog en haar kinders
en ek natuurlik.
Ek hou nie van my rooi naels nie,
ook nie van my rooi wange
of my vet vingers nie
ek hou nie
van protespoësie nie.
Wel, nie die gewones nie.
Ek hou nie van kabarette
oor Reënboognasies nie,
ek hou nie van die Mills & Boon rak nie
ek hou nie van die vuilgroen mat nie.
Tog spandeer ek baie middae hier
in hierdie godverlate tempel van
out-of-date kennis en verouderde taal
want waar anders gaan mens heen
om die tyd te verdwaal?
Lené Booysen
Dis Mei
dis koud buite
donker oggende, warm lakens
anys beskuit
warm asems op die spieël
en teen die ruit
verkluimde duiwekuikens
'n fratsbui reën miskien
my ma in haar japon
die grond wat kreun
die winter kom
Lené Booysen
Herfs is my ma
Herfs is my ma
wat voor 'n skemer kombuisvenster
beskuit knie.
Herfs is my ma
wat oor 'n laslappiekombers buk
en nog blokkies aan stik.
Herfs is my ma
wat kla oor die stinkhout se blare
en dit self opvee.
Herfs is my ma
skraal soos die vroegoggende
in haar beertjie-kamerjas as sy groet
voor ons skool toe gaan.
Lené Booysen
28.04.08
The protest
ingehandig deur eksamennommer
80022201940024
in 'n onbekende jaartal,
maar heel waarskynlik post-nuwe SA
is blou en rooi,
maar hoofsaaklik 'n
gevolglike pers
linodruk
van twee lyfies wat aan mekaar klou
'n kartonboks tussen hulle met
"Only God can save us now"
en massas massas agter hulle
wat almal betoog
teen die groot gevaar
die black death van moderne tye
teen AIDS
asof hul voetgestamp, hul
inkdeurdrenkte gesigsuitdrukkings
van protes
nou eintlik iets gaan maak.
Lené Booysen
Kuns is nutteloos
Slurp groentee uit
fine china cups,
luister cello concertos
van Elgar in die tuin
dis so so mooi
soos jy.
Lees al die classics,
Oscar Wilde, Homer
deur Alexander Pope vertaal,
moeilike poems
uit Auschwitz
se swart en gal aangehaal,
kan skets en skilder,
klavier speel
naaldwerk doen,
hare is perfekte bolla-lengte;
maar bieg nou: ek stik
in hierdie selfopgelegte korset se engte
vir al my sogenaamde kultuur
en intellek
kon ek maar netsowel
'n agtergrondskets gewees het
in een van al daai Jane Austens
waarvan ek al so baie gelees het.
Lené Booysen
Terug
Vier ure, dalk vyf,
miskien nog meer;
al tydsberekenend
weef ons tussen
baie mielielande deur.
Die dorstrek deur Karoo
is lankal verby
ons wag nog net vir Kroonstad
om verby te skuif
en na dit,
die huis.
Moeg van sit, en seer van lyf
pyl ons deur die Vrystaat
op die lang, reguit pad
vier ure nog, dalk vyf.
Lené Booysen
Gedig
Die stem in my kom sê gereeld
vir my Jou Slet
jou Ding
en ja, daar is hartseer in my are
soos nikotien
dit laat my sing
op Terugverbeel se snare
op Lankonthou se asem
op vier-jaar-oud se maat
ek sien die prentjies daagliks
op die agterkante van my retinas
maar nou ja, dis laat
as die bokkievrou met jou kuif speel
en ek wil net sê
vat haar, vat haar vas
en moenie los nie.
Ek moor die stem deesdae uit
van as tot as
en ek vind wonderbaarlik vrede
in al die plekke waar daar eenkeer
wroeging was.
Lené Booysen
Mongool
Maak vir my
'n erdepot
en verf wit duiwe
skeef daarop.
Trek groewe vir
my bloed daarin
kom laat ons sing
kom laat ons sing
kom dat ons 'n somer
offer bring
trek groewe vir
my bloed daarin
en soen my op
my breë voorkop
en maak vir my
'n erdepot.
Lené Booysen
Mikroskoop
gereduseer tot minder as niks
en nóg minder
tot ek die hoekstene atomies
kan waarneem
maar selfs dan sien jy daar's eintlik
net nog 'n klein heelal
wat onverklaarbaar en duister
om homself kantel
nog raaisels om wetenskaplik op te los
of religieus te ignoreer
en so groot as wat ek is
raak als vir my uit fokus
want wat is ek dan meer as 'n halwe chromosoom
wat ronddryf in die endoplasma van die Groot Selstruktuur
kleiner as niks op hierdie oggend
van denkbeeldige blaar disekteer
Lené Booysen
|