|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
Liefdes Driehoek
Liefling jy
Laat my dink aan al die denkers in my
Maar liefling hy
Laat die kind binne my
Absoluut vry
Liefling by jou
Wil ek oud word soos wyn
Maar liefling by hom
Voel ek jonk en klein
Soos 'n feetjie fyn
Koor:
Regs of links
Sal ek kyk, of blindelings
Net vergeet van dink
Net droom en skink
Nog 'n bottel van die lewe drink
Ek sien jou op my horison
Elke tree vooruit beplan
Hy verblind my soos die son
My voete voel verlam
Jy laat my veilig voel
As jy praat weet ek wat jy bedoel
Hy maak alles in my woel
Alles in my bly oorspoel
Koor:
Regs of links
Sal ek kyk, of blindelings
net vergeet van dink
net droom en skink
nog 'n bottel van die lewe drink
Mitzi Kaalsen
Danabaai
As alles om my swart raak
En die lewe een te veel raak
Dan klim ek in my drome en ry na Danabaai
Ek sien myself daar op die strand
'n groot glimlag, al is ek rooi gebrand
Ek is weer 10 en terug op Danabaai
Ek kan nie sê ek wou verander
Eerder dieselfde bly, brander na brander
Ek en ouma en oupa op Danabaai
Maar Oom Johnny is weg en Oupa ook
Dis net hulle foto's wat by ons spook
Ek mis ons almal saam op Danabaai
Danabaai geliefde strand van my
Danabaai waar al my kindwees bly
As ek maar net die tyd kon terugdraai
Sou ek weer 10 wou wees op Danabaai
Saam het ek en sus in jou golwe baljaar
Nie besef ons is nie vir ewig bymekaar
En dat jou golwe eendag kwaai sou raak, Danabaai
Maar intussen het ek groot geraak
En kol-kol het geliefdes bygekom en weggeraak
Net jou suisende stem bly dieselde Danabaai
Waar het alles dan skeef geloop?
Ek was vol planne, ambisie en hoop
Ek wens ek was weer 10 op Danabaai
Gehardloop agter ma en pa
Met Spokie die hond agterna
As ek maar kon 10 bly op Danabaai
Danabaai geliefde strand van my
Danabaai waar al my kindwees bly
As ek maar net die tyd kon terugdraai
Sou ek weer 10 wees op Danabaai
Mitzi Kaalsen
Aan die "In-groep"
Elke woord sny deur my hart
Elke glimlag kerf dieper aan die smart
Liewe vriendin weet jy dan nie
Hoe jy my seermaak nie?
Soos 'n hond staan ek nader aan jou
Lek dankbaar aan die hand wat jy uithou
Net om later weer weg te skram
Van jou sarkasme wat verlam
Sê my wat om te verander in my
Om jou goedkeuring te kry?
Hoe oorkom ek verwerping
Die vrees van eenkant staan
Buite die glimlaggende kring
En ek wat sluk aan 'n traan
Wat moet ek anders dan maak
Sodat iemand my wil deelmaak?
Mitzi Kaalsen
Ek mis jou
My hart 'n groot grys gat
waar strome eens kon vloei
nou net brandend en seer
verlange het alles weggeskeur
Arms van tyd loop stadig
om en om en om
elke arm vorentoe
bring jou gouer terug na my toe
Ek mis jou
Net om jou met my oë te raak
jou oor en oor te liefkoos met 'n glimlag
om jou wese te bemin met my stem
jou teenwoordigheid in te asem
Dis niks,
en tog is dit
alles vir my,
want ek mis jou
Mitzi Kaalsen
Outyds Versus Romantiek
Jy glo nie in simboliek
Ons sal saam oud raak
Gereformeerd, Protestants of Katoliek?
Is dit ek wat teen tendens moet waak?
Wat van verlowing?
Dis net 'n ring, sê jy
Sal dit meer geluk bring?
Sonder of met, jy bly vry
Is dit ek wat outyds raak?
Is dit jy wat nie gebind wil wees?
Wat maak 'n ring dan saak?
Ons wil mos altyd saam wees?
Bygesê: Blomme is geldmors vir jou
Is dit ek wat outyds raak?
Verjaarsdag geskenke moet ek jou van onthou
Moet ek teen tendens of romanse waak?
Mitzi Kaalsen
Die Affair
Speel-speel het ons begin
nie gedink dit sou lank hou
flirt-flirt, oge vir mekaar gemaak
vingerpunte perongeluk geraak
hy was my keerwal
ek wonder nog oor haar
die storm in ons het vurig geraak
die listige golwe het die keerwal gekraak
my lyf wou joune wen
my siel wou joune tem
om wat daaruit te kry?
'n merkie in my kerfstok sny?
Dis toe jy al jou grense verloor
en al jou ander liefdes vermoor
dis toe dat ek my hart kon gee
my keerwal vergeet het in die see
Mitzi Kaalsen
ongetiteld
Ek lewe, ek weet
net soms raak dit te veel
van enige iets is nie goed
genoeg is ek as niemand anders hoor
jy my as ek saans huil
is vir swakkelinge
Dood wink soms gretig
wil ek nader gaan
ek dan hel toe ma?
Hoekom is alles so donker
ek is bang vir jou
wil ek hê, om langs my te lê
jy vanaand in haar arms
van depressie oorval my soms
wil ek dood wees
asseblief lief vir my
- Mitzi Kaalsen
Verbode
Wat as ek sou toegee
Wat as ek sou ja sê
Sou jy my dan nog wou hê
Of sou jy my wou weggee
Ek droom saans jy bemin my
Jou wese verdrink my gees
jou drange oorspoel my vlees
en ek en jy is vry
jy weet ek mag nie toegee
jy weet ek mag nie ja sê
ek wil jou nog steeds hê
al sê ek nee, nee, nee.
- Mitzi Kaalsen
ongetiteld
Daar was eens 'n roepstem binne my
na liefde, om bemin the wees
en toe kom hy
en begin my soos 'n boek lees
Maar toe hy eindig by die laaste bladsy
maak hy my toe en sit my neer
en dof van pyn word die roepstem binne my
ek wens hy lees my weer
- Mitzi Kaalsen
Onthou
(opgedra aan Riaan Grobler)
Ek sien jou naam
die aande, rooiwyn, poësie, my hart
wat jonk en warm klop
Ek sien jou woorde
opgedra aan my...
Onthou jy nog?
Onthou jy nog?
Die sterre buite helder,
ons siele wat honger uitskree
na mekaar...
Onthou jy nog?
Maar alles het stil geraak
en dood gegaan
middeljare wink nou vir my
Tog ek onthou
Jou naam verewig in my bloed, want eens
het jy hoog geraak op my...
- Mitzi Kaalsen
Grootmens Hartseer
Orals om my is dit nag
Waar is al die kinderlag?
Winter is dan tog so koud
Wat is met my fout?
Nêrens is daar liefde meer
Lande vol gesaai met seer
Erens moet daar liefde skuil
Miskien in die trane wat 'n grootmens huil
Hartseer en niemand kan my troos
Hartseer, wat my so sag liefkoos
Hartseer, die minnaar van my hart
Hartseer, met pyn en seer en smart
As jy dan eendag na 'n sprokie soek
Kyk in jou kleuter storieboek
Erens is 'n prins en 'n spierwit perd
Wat is drome in 'n grootmens wêreld werd?
Ek sou so graag nog 'n kind wou wees
Met ma wat vir my 'n sprokie lees
Niemand, niemand, niemand wat my seer kan maak
Met soete soete drome aan die slaap raak
Hartseer en niemand kan my troos
Hartseer, wat my so sag liefkoos
Hartseer, die minnaar van my hart
Hartseer, met pyn en seer en smart
- Mitzi Kaalsen
|