Forum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling. Digters Anoniem ...
MY LIEFLING
Jy's soos 'n skat wat deur God geskaaf is om vorm
te vat in die holtes van my binneste.
Jy's nuut langs die palm van my hart.
Jy maak my mal en jy laat my bewe.
Jou reuk wat jy op die kussing van my bed agter laat,
leun swaar teen my lyf wat smag na jou teenwoordigheid
net om 'n innerlike vrede in my te laat posvat.
Ek wil jou langs my he, binne my he en vir altyd by my hê
- Petro Roosendaal
DANS VAN DIE NAG :
My hart is gebrandmerk met jou vol en heerlik
gestalte in die maanlig.
Ek dank God vir jou liefde, en ek weet,
dat ek niks of niemand, ooit so sal kan lief hê,
soos ek jou lief het nie.
Nie net oor die sterkheid van jou gesig en liggaam nie.
Selfs nie eers die krakies wat lui om jou mondhoeke hak
of jou sieligheid en grasie nie,
maar oor dit wat jy is en altyd sal wees.
Jou teenwoordigheid laat 'n kranksinnigheid in my posvat.
'n Onverklaarbare guur wat so sterk is dat dit vir
daai oomblik 'n pynlikke obsessie raak.
'n Obsessie om te doen wat ek voorheen nog net oor gedroom het.
Iets intens - iets warms.
Terwyl ons dans gly my hande oor die artistiek van jou liggaam.
In ekstase oor wat ek in jou lees, besoek ons mekaar se liggame.
Jy fluister in my ore terwyl jou lippe
roekeloos oor my bewerige gelaat jaag.
Ek het alles beleef want elke oomblik saam met jou 'n
reistog deur poorte van die Hemel. Jou liefkosing is soet terwyl
jou aanraking my meevoer op nog 'n reis na 'n paradys terwyl
jou soene nat spore van herinnering oor my agter laat.
Jou liefde sal ek vir niks in die lewe prys gee nie.
- Petro Roosendaal
SING VIR MY :
Sing vir my saggies. Vertel my waar gaan ons heen
Want dis net jy wat die kille nanag,
Gekruisig deur 'n sterwende son sal kan besweer, wat my soektog na jou liefde sal kan laat verweer
Sing my deur die skemer dood na daar waar die mis ons saam kan weef. Want dis die blou maan wat deur die venster van my hart 'n waserige soeklig oor jou laat leef.
Sing vir my hoe ek jou hart kan annekseer.
Hoe ek elke gedeelte van jou liggaam , siel, vrese en sal kan beheer. Hoe kortsigtig ook al. Ek vra jou mooi sing vir saggies, sing vir my weer.
Sing vir my oor dit wat jou pla. Wil jy werklik alleen aan alles dra. Want as ek weet sou ek dalk kon verstaan wat alles in jou wêreld omgaan
Sing vir my waar ek moet loop krap waar sal ek iets uit die stowwerige rakke van jou verlede kan haal. Want ek wil iets wys raak iets hoopvol iets wat sin maak
Sing vir my hoe ek jou hart kan annekseer. Hoe ek elke deel van jou liggaam siel en vrese sal kan beheer . Hoe kortstondig ook al. Ek vra jou mooi, sing vir my saggies. Sing vir my weer.
- Petro Roosendaal
SAGGIES
Ek het jou saggies voel gly oor die bulte wat die wonderlike belofte van my vrouwees vertoon.
Jou oe het gedreig om my iets te vertel, maar ons het vertrek op die reis van ons passiwiteit.
'n Onnosel obsessie wat ons meegevoer het na 'n opskure stranddorp om ons klein liefdes bestaantjie daar te loop voer
Ons het onsself verloor op 'n repie wit strand langs 'n paar groen hellings en rotsblokke waaronder ek later my liefde vir jou sou kon begrawe sodat die golwe dit met tyd plat kan slaan en meesleur deur die toonlose gedruis van die see waar dit verswelg sal word.
Die een groot brander na die ander het op ons afgestorm en hulself met 'n gedonder teen die rotes te pletter geloop.
Onder Gods hemel het hulle woedend opgespring en met die afkom- slag gegryp na dit wat binne my tot sy bereik is.
- Petro Roosendaal
'N GEBED :
Jy maak jou oë toe en bid vir iets om die alleenheid te besweer of dat jy net nog een maal daar kan wees om die donker met my te deel.
Want ek het jou lief en ek sal nooit kan ophou om jou lief te hê nie
Die laaste maal toe ek jou gesien het was die tekens reeds daar.
Jou oë was leeg en net so koud soos 'n beroofde skulp en ek het besef dat die einde skaamteloos besig is om sy slopingswerk te doen.
Dit wat tussen ons oor was, het begin verdwyn en ons twee se wêreld saam sal ook nou vergaan - vergaan.
Maar wat dan van die brandende leemte in my siel. Hoe lank sal dit duur voordat die tempels van 'n veragtelike hoop, dat alles iewers eendag sou regkom gaan lê, of voordat die dwaasheid van my kinderagtige drome binne my sou plat val?
- Petro Roosendaal
LANDSKAP
Ek wens jy kan die landskap skildery in my gemoed begryp.
Een waar die golwe met 'n moeë afgetrokkenheid na die see terug draai en die vuil skuim na sy blou ooptes toe terug roep.
As jy mooi kyk sal jy sien hoe die flentertjie wit strand hier voor my 'n spiraal vorm wat besig is om te verdrink onder die nuut gebore golwe wat alles binne my kom weg spoel het en terug sleep die oop see in.
'n troostelose see onder die bleek platform van mis en die nors, strak rotsbanke. Hier en daar is 'n honger meeu wat veg teen die nag wat besig is om toe te slaan terwyl sy krop nog leeg is.
Jy staan roerloos in 'n vreemde spatsel sonlig met jou gesig na die helder hemel gedraai asof jy iets vir God wou se terwyl die toonlose gedruis van die see jou stem inhalig vir hom self ingepalm.
Die wind het teen die skemer hemel kom hang en suur 'n kreet van verlatenheid oor die see uitgeroep en soos iemand wat vasgevang is in 'n onverklaarbare luim het die see 'n boog van skuim teen 'n rots vas geslinger sodat dit lyk of daar 'n mantel van branders om jou breë skouers gehang word
- Petro Roosendaal
VLUG :
Vandag wil ek vlug. Vlug na dit wat vaal, eentonig en oninteressant is. Dis al waar ek nou wil wees.
'n verlatenheid met geen ingewikkelde komplikasies nie. Ek soek na 'n opskure strand dorpie langs die kus.
Oos of wes dit maak nie saak nie.
Solank dit 'n plek is wat by min byval vind. 'n wegkruipplek
Daar waar die draaikolke rotsagtig is met niks meer as 'n paar verweerde houthuisies, 'n petrolpomp en 'n padkafee nie.
Na daar waar enkele vreedsame hengelaars, meestal aan die bejaarde kant is.
Wat nes ek opsoek is na bietjie stilte en afsondering.
Ek wil deel in hul eensaamheid en ook daar op 'n rotspunt loop sit met wyn en my eie gedagtes. Tussen die branders wat soos dreunende monsters teen die rots banke vas slaan.
Al met die waterlyn langs in die rafels van vlak branders wat besitlik om my enkels koek. Daar waar die mis jou sommer so grof kan toe vou en 'n droewe neerslagtigheid wat saam met die mis oor die see al nader aan my sluip Want wat wil ek nog hier maak?
Ons tweetjies se wêrelde saam het vergaan.
Dit behoort straks aan die verlede en wat verby is, is verby
- Petro Roosendaal
Hardstog
Onder 'n sterrehemel wat besaai lê met 'n legio blink planete kniel jy oor my.
Ek kan nie mooi onthou wat ons vir mekaar gefluister het nie, maar dit was asof elkeen van die spots bokant my aangesluit het by die melodie van my gees, wat alles ontvou het en my binneste binne gedring het.
O God, het dit nie gevoel of die Wêreld ongesiens onder deur ons gespoel het nie.
Ek het begin huil ... ja ... Ek skroom nie eers om te erken dat ek dwarsdeur jou liefkosing hartstogtelik in my binneste gegrens het, omdat dit elke opgekropte emosie van my menswees bevat het nie.
Dit wat ek ooit kon voel, ooit voor kon hoop of ooit kon droom, was alles in daardie komposisie van trane saam gegiet.
Ongeërg oor dit wat in die wêreld om my aangaan was ek 'n lyf vol cliché's, 'n siel wat nooit geleer leef het nie.
En saans as ek niks anders het om te doen as om die herinneringe van ons saamwees te loop opdiep nie, sal ek jou liefde sonder bitterheid onthou en weer voel hoe jy die lig in my nog laat brand terwyl die van jou reeds gedoof is.
En more - more sal die son sy strale weer oor my moeë lyf kom speel
- Petro Roosendaal
LAASTE :
Jy's nie meer my beminde liefling nie, want ek moes jou prys gee.
Jou beeld het 'n refrein van fatsoene in my kop geword. Intenser as ooit tevore.
Die figurante wat deur my drome, gedagtes en begeertes vee.
Maar die groewe van jou sterk gesig kan nooit wegraak nie.
Net soos wat die spore van erosie wat deur tyd op ons afgedwing word, nie maklik gevul kan word nie.
Selfs die plooitjies wat met die deurloop van die uurglas langs die blou van jou oe gehak word, kan jou nie wis van my gedagtes nie.
Dis die herinneringe aan jou wat snags as die sekel maan sy weemoed-oog deur my kamer ruite knip, die eensaamheid weer nader bring.
Wou ek dan 'n spotvoël wees wat sot genoeg is om 'n square in 'n ronde gat te probeer pas?
Maar al wat ek in elk geval gehad het om te verloor was net 'n mentality wat afgeleer het om te lag of om opgewonde te raak
- Petro Roosendaal
BESEF :
Ek wonder of jy besef wie jy werklik is. Besef jy dat jy dien as anker vir jou skepe en dat jy naas God 'n alfa en omega is.
Jy vaar die pad van die lewe en sonder ophou neem jy leiding. Ek wonder of jy besef dat skepe daagliks in jou rigting vaar. Hulle vaart stuur na die unieke beeld soos deur jou voorgehou.
En dat jou liefde en geduld verteer word soos 'n suigeling sy voeding en dat daar sonder ons nie kan nie soos die dag nie sonder die nag kan of die maan nie sonder die sterre - so kan ons nie sonder jou
- Petro Roosendaal
EK WENS EK WEET :
My lewe is 'n plat pallet. Ek weet nie wat my die pad laat byster raak het nie. Maar dis die hol kas vir my kwas wat die weemoedklanke van 'n nolstalgiese niks meer dra nie.
Blykbaar dra die Almagtige 'n mens deur sulke tye. Maar die stryd van eensaamheid voer ek alleen.
Ek bly vasklou aan 'n verslete liefde wat ek uit sentiment met my saam dra om my met 'n jeugdige optimisme te laat kraai en my innerlike in chaos te dompel. Dis die nagte wat almal alleen maak.
Dis as die geel maan skerf, droefgeestig deur die venster klim dat die eensaamheid sy opwagting maak om my, vir die res van my lewe te kom geselskap hou, met die gewaarwording van die hallusinasie waarin ek leef.
En as die weëmoedswindjie van die na-nag opstaan en iewers melancholies begin raak, word my siel 'n skrop plek vir derduisende vrese.
Dit bars en breek en donder op my af. Dit word iets wat met naals na my
toe slaan.
Selfs jou gesig hernu homself litografies in my brein.
Dis eers wanneer die nag tot ruste kom dat ek voel hoe alles binne my leeg gepluk is deur die roekeloosheid van die nagwind.
- Petro Roosendaal
GEESTESOOG :
In my geestesoog visualiseer ek nog jou gesig. Ontvang ek nog jou boodskappe en hoor ek nog hoe jou lag van uit jou maag na buite stort.
Ek kan nog jou warmte en grasieuse aanraking oor my voel, net om weer te onthou hoe jou liefde soos 'n verwoede golf in 'n onstuimige see oor my kon spoel.
Jou gesig en gelaat, soos ek jou die laaste maal gesien het, het binne my gebrand en 'n skreeuende gevoel van hoop geskep dat ek jou iewers weer sal raakloop, weer jou stem sal hoor.
Die res verwerp ek sonder dat ek besef, want my verlange na jou dwarrel deur my binneste soos 'n rustelose gees wat ek nie weet hoe om daarvan ontslae te raak nie.
Miskien sou ek later nie meer mooi onthou presies watter woorde jou of myne was nie, want dit wat ons aan mekaar gesê het, sal die nagwind mettertyd by my kom gryp en deur die vensters van die stowwerige laaikas van my geheue uitryg.
- Petro Roosendaal
JOU KLIPBEELD :
Ek voel min of meer soos 'n beeldhouer met 'n brandende gevoel om iets van jou uit klip vas te vang. Ek wil jou vir ewig laat lewe want vir my is jy so goddelik mooi.
Hierdie laaste uurtjie wat ons saam gedeel het, selfs net dit, hoe skamel ook al, is beter as niks.
Van die pynlike kanker van my wete dat jy net tydelik is, wil ek jou steel en jou so teen die epidemie van vergeetenheid vervreem.
Ek wil jou vir ewig vir my laat voortbestaan.
Dit wat alles verganklik is, vernietig sodat daar iets van jou behoue sal bly.
Jou klipbeeld sal keer dat ons nie sonder drome uit mekaar sal gaan nie.
Dit sal iets laat agterbly, meer as net ons kunsmatige wasems wat teen die venster van jou hartskamer al dunner word
Die sand het al vinniger deur die loper begin stroom om gou genoeg die bitter na smaak, die morose klanke van verlies agter te laat met die besef dat ons tyd saam so min sou wees. Hierdie ironie was die enigste druppel gal.
- Petro Roosendaal
WINTER :
Dis die Winter wat ek haat, nie vir jou nie.
Dis hy wat die flardes van ons liefde heen en weer waai.
Die kans om alles tussen ons te heg, raak al skraler. Want dit wat ons hartstog moet maak werk, het skelm begin wegkwyn.
As ek jou net kan wegruk uit die arms van die koue. Jou kan vasdruk teen my met die versekering dat jy my nog lief het, sal niks, niks ooit verander nie.
Die besef dat daar miskien more niks meer van ons sou oor wees nie, vorm 'n bitter nasmaak wat terug getregter word in 'n geur van wanhoop
Ek sou die res van my lewe daaraan kon wei, om jou te beskerm.
Om ons beide te beskut teen die groot naderende eensaamheid wat so onafwendbaar vir die einde van ons saamwees wag.