AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Diere
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Kook
Motor
Musiek
sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Tuin
Verhale
Webcams
Wenke
DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek
|
Dagboek Kunstefeeste Musiekdagboek Teaterdagboek Swaar Metaal LaunchAmelia MulderDis Vrydagaand, 30 Maart en byna tweehonderd mense pak die Hidden Cellar op Stellenbosch vol. Dis die bekendstelling van K.O.B.U.S! se langverwagte nuwe CD, Swaar Metaal. Onder die skare is lede van die pers, heelwat nuuskieriges en dan die lojale ondersteuners, of Volk van Main, meestal geklee in swart en tatoeëermerke. Almal maal afwagtend rond totdat daar teen skuins voor elf 'n wit wolk by die verhoog uitspuit en Francois, Theo, Paul en Pierre soos fenikse uit die rook verrys. Hulle trek weg met die harde, murgsnydende metaal van "Doodstraf" en die toon vir die aand is geskep met angstige kitaarsnare, rollende dubbelbaspedale en wurgkeelvokale. Nog harsingskuddende snitte van die nuwe album volg, o.a. "Witman", "Tienerangs" en "Huigelaar". Die skare gaan bos. Sommige onthutsde K.O.B.U.S!-virgins ontsnap verdwaas buitentoe vir 'n bietjie vars lug. Almal is dit eens: Hierdie is K.O.B.U.S! in oortreffende trap - harder en meer onheilspellend as ooit tevore. Die doodskiskinders is in ekstase - hulle was lank genoeg in hibernasie en erg tevrede om uiteindelik uit hul walgwaentjies te kruip vir dié geleentheid. Ander is minder in vervoering maar hulle gesiggies helder vinnig op toe die eerste note van die ou gunsteling, "Die Hoenderman", opklink. Die skare raak wild toe Hannelie, die opblaaspop, haar verskyning maak. Sy wriemel wild rond in Francois se bekwame hande. Saam speel hulle 'n voyeuristiese liefdesspel, gekomponeer om te skok en uit te lok. Net meer as 'n uur later is alles verby en peul natgeswete lywe by die deur uit om hulself te gaan troos met 'n lafenissie in De Akker. Gemoedsrus is nog 'n nagrus ver so vir nou sal drank moet doen. Almal is geraak, of jy nou 'n fan is of nie. Swaar Metaal is voorwaar onbeskaamd, onbetaamlik - harde metaalmusiek.
|
Musiek |