AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Diere
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Kook
Motor
Musiek
sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Tuin
Verhale
Webcams
Wenke
DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek
|
Dagboek Kunstefeeste Musiekdagboek Teaterdagboek ![]() Ek hoor jouCharnèlle de Lange"Hy's 'n ougat klong met serious talent. Nie 'n muurpapier-musikant nie. Nie 'n kombuistee-versieskrywer nie. Hy's cutting edge en honger om suksesvol te wees. Nuwe bloed. Nuwe angle. Inventive. Nie 'n copycat nie." Met dié woorde het die legendariese sangeres en liedjieskrywer Mynie Grové die bekroonde liedjieskrywer Philip de Villiers opgesom. 'n Raakvat beskrywing vir 'n jong kunstenaar wat pas met die album Ek hoor jou gedebuteer het. Die lang verwagte album bevat 13 snitte, waarvan 12 uit Philip se pen is. "Dis vir my 'n mylpaal," se hy. "Ek wou al lankal 'n CD opneem met catchy Afrikaanse popmusiek, maar het gesukkel om in Afrikaans te skryf." "Ek het in Junie 2005 op Prins Albert 'n retreat gaan doen, waar ek stil genoeg kon raak om twee baie mooi Afrikaanse liedjie-babas te ontvang: Moenie twyfel nie en Op besoek. Hierdie twee snitte word bestempel as van die sterkste op die nuwe album. Die titelsnit, Ek hoor jou, het hy geskryf toe die produksieleier van die album Harold Schenk (die sukses agter albums van Coleske en Coenie de Villiers) hom gevra het om nog 'n oorrompelende Afrikaanse liedjie te skryf wat op die radio gespeel kan word. Philip is huis toe met die opdrag en later daardie aand is Ek hoor jou gebore. "Dis 'n catchy song met betekenisvolle lirieke, waarvan enigiemand sal hou," sê hy. 2005 was 'n goeie jaar vir Philip. Hy is voltyds as lektor aangestel by die AFDA-rolprentskool in Kaapstad, waar hy die musiekdepartement bedryf. Voorts het hy as verhoogkunstenaar gedebuteer met sy produksie Hopefield, a portrait in music. Hiervoor het hy 8 nuwe komposisies binne die bestek van 3 maande geskryf: "Die muse was in 2005 baie goed vir my. Dit was seker my beloning vir wat ek in 2003 en 2004 moes verduur." In Mei 2003 is sy liefling-ouma, Mossie Roux, onverwags aan 'n hartaanval dood. Dit het Philip diep geraak. "Ek kon my ouma van enige plek in die wêreld bel en dit was altyd soos om suurstof te kry. Sy was 'n ongelooflike mens." Hy het een aand tydens 'n Laurinda Hofmeyr-vertoning in Stellenbosch inspirasie ontvang, en net daar die sielvolle ballade vir sy ouma, Jy's nie rêrig weg nie, geskryf. Drie maande later is sy pa, Pieter de Villiers, dood in 'n tromp-op-botsing op die N7 buite Kaapstad. "Dit was die mees bisarre omstandighede, wat tot dié gru-ongeluk gelei het,'' vertel Philip. Philip het nog altyd 'n moeilike verhouding met sy pa gehad. Hy het reeds in 2002, toe hy in Londen as 'n bemarkingskoördineerder gewerk het, vir hom 'n konfronterende brief geskryf. Hy het die brief nooit gepos nie, maar die liedjie Veel te redde is hieruit gebore. In 2003 het hy 'n ATKV-toekenning ontvang vir einste liedjie. Ses weke voor sy dood het Philip 'n diep, konfronterende gesprek met sy pa gehad. Sy het gereageer met die woorde: "Ek hoor jou." Hy het in November 2005 vrede gemaak met sy pa en só is die liedjie Ek hoor jou gebore. Verskeie mense in die musiekbedryf beskryf dié liedjie as die treffer wat Philip de Villiers as 'n huishoudelike naam gaan vestig. "Die liedjie is eintlik 'n gesprek tussen my en my pa, waar ons gelyktydig beaam dat ons mekaar hoor. Ek was kwaad vir my pa oor hy nie my behoeftes as 'n kunstenaar verstaan het nie. Volgens hom het ek nie rigting gehad nie, omdat ek baie rondgetrek het. Hy wou hê ek moes soos my broer wees: 'n vrou vat en op die plaas gaan woon. Hy het selfs 6 maande voor sy dood aangebied om vir my 'n plaas te koop. Ek het nog altyd my hart gevolg, en ek dink dit is die rede waarom ek die kaliber songs kan skryf wat ek deesdae skryf. My sogenaamde rondvallery het my baie verryk as 'n kunstenaar. Maar ek en my pa het uiteindelik vrede gemaak. Ek weet hy staan bankvas agter my met alles wat ek doen. Ek het onlangs 'n droom gehad waarin sy naam 'Teacher' was. Ek dink om vas te sit met iemand so na aan jou, leer jou baie van jouself. 'n Diamant kan slegs gevorm word onder hoë druk. Al is dit moeilik, is wrywing soms die beste ding om mense nader aan mekaar te bring." Philip het toe hy ses jaar oud was sy eerste liedjie geskryf toe hy die elektriese orrel bespeel het. Sy groot droom was egter om 'n klavier te hê. Die droom is bewaarheid toe sy pa 'n familie in Joostenbergvlakte uit die knyp gehelp het, deur twee skape te ruil vir hul okkerneuthout-klavier. Maar hy was vir meer as een klavier beskore. Sy ma het 'n huis in Loxton in die Karoo verruil vir 'n Pianola, wat Philip steeds besit. Sy het vier bande gebars en oor 'n hond gekry om die ding, wat 'n ton weeg en uit 1892 dateer, op die plaas te kry. Philip speel ook al vandat hy 8 is trekklavier. Hy speel trekklavier op die snit Op besoek, wat baie herinner aan Laurika Rauch se Stuur groete aan Mannetjies Roux. In 1992, toe hy 16 was, het hy die nasionale Ithuba-liedjieskryfkompetisie gewen, met 'n musiekvideo op die destydse TV1, en R10 000 prysgeld. Hy is toe met sy trekklavier na Europa en die VSA, waar hy mense op sypaadjies vermaak het met boeremusiek van Regent Straat in Londen tot in Broadway, New York, en die Franse kwartier in New Orleans. Tot baie onlangs het Philip nie gesing nie. Hy het sy sangstem ontdek met sy terugkeer van oorsee, toe hy in sy matriekjaar per ongeluk die hoofrol gekry het in die musiekspel Joseph and the amazing technicolor dreamcoat toe hy 'n duet met 'n vriendin gesing het wat te bang was om alleen te sing tydens die oudisie. Dis ook waar sy liefde vir musiekteater gebore is, wat gehoor kan word op die meesleurende snit Frail. In 2002 is hy aangewys as die beste liedjieskrywer by die ATKV se liedjiewerkskool in Kaapstad, met Veel te redde. Die musiekresensent Kobus Burger van Beeld het gesê "dis 'n moderne Afrikaanse popliedjie wat binne 'n oogwink onder jou vel inkruip. Dis die radiotreffer waarvan verskeie sangers droom en kom uit die pen van 'n belowende liedjieskrywer wat in 'n eietydse idioom skep." Die liedjie is destyds uitgegee deur Philip se eie platemaatskappy, Planet Pip Music, en het die speellys gehaal van Radio 2000 en is ook gehoor op OFM, Jozi FM en Radio Rippel. Die musiekvideo is op DKNT op kykNET uitgesaai, en is ook ingesluit in 'n dokumentêr vir kykNET oor die ATKV-slypskool. Philip is 'n ywerige beoefenaar van Koendalini-joga, wat volgens hom verantwoordelik is vir sy onuitputbare bron van inspirasie: "Dis vir my soos om daagliks in te plug by die 'Groot Kragopwekker!' My liedjies is vir my 'n vorm van my Hoogste Waarheid en hulle kom net na my toe as ek en my Skepper saamwerk."
Dalk besorg Ek hoor jou dié belowende liedjieskrywer 'n musiekprys of twee: 'n SAMA of GMT? "Dit sou fantasties wees as die album goed deur die publiek én die media ontvang word. My groot droom is om gehalte-musiek te skep wat almal kan geniet. Ek wil 'n blywende bydrae lewer met onthoubare melodieë en onvergeetlike lirieke, wat toeganklilk is vir die man op die straat," verduidelik Philip. Met vyf soliede Afrikaanse radio-treffers, mag hy dit dalk net regkry. Of om aan te haal uit Veel te redde: "Hier kom 'n ding, dis maar net die begin."
|
Musiek |