Met al die kennis van goed en kwaad waaroor die mensdom deesdae beskik gaan dit heel waarskynlik nie meer baie lank wees voor ons die Ewige Lewe in ‘n botteltjie op ‘n rak in Walmart kan koop nie, reg langs die flentertjies saffraan en ewe onbekostigbaar. Dit is dus vir my ‘n totale raaisel waarom, in ‘n samelewing waar manne in wit jasse mensore in ‘n Petri-bakkie groei en koeie kan kweek wat hektoliters melk per dag produseer, ek steeds verplig is om my swaargelaaide inkopietrollie soos ‘n lafhartige skeepskaptein te verlaat net om weg te kom van ‘n dwerg wat haar verbeel sy is ‘n regte mens en op en af in Spar se gange loop. My suspisie groei daagliks dat daardie miniatuur inkopietrollietjies van die begin af nie net vir kinders bedoel was nie.
My ma vertel dat ek destyds in Oudtshoorn al skandes gemaak het met my patologiese afkeer van dié subspesie. Ons is een keer per maand Oudtshoorn toe vir inkopies, al die pad vanaf Calitzdorp vir myle op die sementpad, en het sonder uitsondering Fem Fashions besoek waar ons broderie anglaise rokkies op sig gevat het. As ek van karma geleer is saam met die Heidelbergse Kategismis sou ek nie anders kon as om tot die gevolgtrekking te kom dat ek in ‘n vorige lewe Satan self was nie. Hoe anders verklaar ‘n mens die statisties onwaarskynlik verskynsel dat ek by elke besoek gekonfronteer is met Oudtshoorn se enigste (hopelik!) prikkelpopdwerg reg voor die ingang van Fem Fashions? Rustig nou, Isabella, die wêreld is ‘n logiese plek. Miskien was sy die eienaar of bestuurder van die boetiek (met PW aan bewind?), of dalk het sy net gehou van mooi aantrek. My vermoede is dat sy daagliks daar gaan inloer het om te sien of hul nuutste popklerereeks al op die (onderste) rakke is.
As ongeïnhibeerde tiener het ek glo tegelyk begin hardloop en gil sodra ek haar sien en indien sy betyds wegspring kon moeder my vang voor ek heeltemal dekompenseer ónder in Baron van Reede-straat. Wat ek die beste onthou is haar voetjies soos hoefies, en natuurlik die haarkapsel. Groot. Geteaze. Skrikwekkend. Jare later het ek ‘n paniekaanval gekry in die kultuurhistoriese museum in Adderleystraat toe ek die uitstalling van lotusvoete daar sien. Ek is bibberend en snakkend na asem uit by die deur sonder om die besoekersboek te teken en moes ‘n blommeverkoper betaal om my kinders wat ek in die House of Horrors agtergelaat het, te gaan uithaal asseblief.
Na die laaste drie maande se gebeure begin ek meer en meer glo dat die heelal saamsweer om my te ontbloot as die dwerghater wat ek sedert kindsbeen is. Ek het vir jare voor die onderstaande insident nie ‘n enkele een gesien nie en ewe skielik verskyn hulle oral, kompleet asof ‘n reuse nes van die goed uitgebroei het met die onlangse warm weer.
‘n Wyle terug woon ek en ‘n vriendin ‘n uitvoering by – onskuldig, naïef en heeltemal oningelig. Noudat ek weer daaroor dink wil ek juis die datumstempel op my kaartjies gaan bekyk. As dit na die 1ste April is oorweeg ek sterk om die aangeleentheid by die Ombudsman vir Verbruikersregte aan te meld. As farmaseutiese maatskappye gedwing kan word om ‘n waarskuwing op hul boksies relatief skadelose blymaakkonkoksies aan te bring omdat daar ‘n skrapse kans is dat jy jouself kan ophang twee weke nadat jy die pilletjies begin sluk het, behoort ek te kan aandring op ‘n voortydige waarskuwing gedruk op die program, of miskien in die vorm van ‘n helder banier by die ingang. Iets basies soos “Die solis in hierdie uitvoering is ‘n dwerg” sal my meer as tevrede stel.
Gelukkig het die halwe glas swaelgefortifiseerde rooiwyn wat ek voor die tyd ten duurste in die foyer gekoop het my bors laat toetrek en ek kon nie skree toe hy met tuxedo en strikdas op die verhoog verskyn nie. My vriendin, wat my lank genoeg ken om te weet van my onderskeie fobies en fetishes, het voorgestel dat ek probeer fokus op die aanskoulike tjellis (langs die olifant), regs van die dwerg. Dit was egter net effektief tot hy begin sing het. Ek het in my handsak gekrap op soek na ‘n sianietpil, maar moes tevrede wees met ‘n pakkie Clorettes waarvan ek handevol gelyk in my mond gestop en kompulsief gekou het in die hoop dat die geluid van my klappende kake die skrikwekkend pragtige, maar totaal en al onvanpaste stem, sal uitdoof, ter wille van my liefde vir Bach.
Heelwat later die aand op Bohemia se stoep het ek besef dat geen hoeveelheid goeie of swak wyn toksies genoeg is om die neuronnetwerke uit te wis wat onbeheersd begin vuur by die aanskoue van ‘n dwerg nie. Ook nie om die toenemende skade aan my psige en siel, aangerig deur herhaaldelike blootstelling aan beelde van wesens wat ek gewoon nie kan eien as deel van my spesie nie, te herstel nie. Die hoop beskaam egter nie en ek vertrou dat die Mediese Navorsingsraad ruim sal begroot vir navorsing gerig op die suksesvolle eliminasie van die FGFR3- geen defek. Intussen koop ek aanlyn.
(Bogenoemde is nóg fiktief, nóg ‘n filament van die skrywer se verbeelding, maar verteenwoordig haar werklike standpunte en opinies)
(foto Portret van die dwerg Morgante deur Agnolo di Cosimo)

Ek sal nie vandag kan opstaan by my lessenaar nie. Ek dink ek het gepiepie van die lag.
Jy is vrek snaaks! Dankie vir hierdie insig.