‘n Voorloper op die tegnologiepad

Die fondamente van die Suzuki-Motorkorporasie (SMK) berus op ‘n filosofie van tegniese standvastigheid en vernuf – kernwaardes wat vandag nog net so geldig is soos gedurende die maatskappy se beginjare.

“Suzuki se globale strategie berus op die doelwit om gevorderde, waardetoegevoegde produkte te skep waarvan ons klante hou omdat hulle ook sportief, dinamies, veelsydig, stylvol en veral waardegerig is,” sê Kazuyuki Yamashita, besturende direkteur van Suzuki Auto Suid-Afrika.

“Daarom verbeter en verfyn SMK voortdurend die allerjongste tegnologie om by ons voertuie te pas, asook om aan die spesifieke behoeftes van ons teikenmark te voldoen.”

Volgens Yamashita word dié doelwit deur middel van ingrypende navorsing, toetsing en ontwikkeling bereik, terwyl die gevorderdste produksietegnieke en die allerjongste vervaardigingstoerusting ook ingespan word.

Suzuki plaas deurlopend en onwrikbaar klem op die gehalte en doeltreffendheid van sy produkte, asook die handhawing van die maatskappy, sy personeel, en veral ook die omgewing.

In dié opsig het SMK strategiese, gesamentlike ondernemings met verskeie sleutelvennote gevestig. So het Suzuki in 1981 ‘n samewerkingsooreenkoms met General Motors (GM) gesmee, wat ‘n aantal kernsinergieë tot gevolg gehad het.

Daaronder tel die gebruik van gesamentlike hulpbronne vir die gelyktydige ontwikkeling van gevorderde tegnologieë, samewerking op die gebied van aandryfstelsel-ontwikkeling, asook globale aankope.

Dit het Suzuki en sy vennote in staat gestel om gehalteprodukte vinniger en meer kostedoeltreffend te skep en bekend te stel.

Suzuki trek ook voordeel uit verskeie ander vennootskappe, onder meer die verskaf van sy mini-motors aan Mazda, die vervaardiging van ‘n meerdoelvoertuig vir Mitsubishi Motors in Indonesië, en die vervaardiging van kompakmotors vir Fiat.

In ruil hiervoor voorsien Fiat tegniese ondersteuning vir sy dieselenjins aan SMK, terwyl bykomende dieselenjins by Peugeot-Citroën en Renault aangekoop word.

“Hierdie vennootskappe versterk Suzuki se vasberadenheid om samewerking-ooreenkomste te smee wat mekaar aanvul en dus vrugbare, doeltreffende sinergieë skep,” verduidelik Yamashita.

“Die resultaat is groter doeltreffendheid, laer ontwikkelingskoste, korter leweringstye, verbeterde tegniese insette en, uiteindelik, nog beter waarde vir ons klante.”

Dat Suzuki vasberade is om sy mees tegnologiese oplossings so te verbeter en te verfyn dat hulle prakties en gebruiksvriendelik is, kan uit vele oorde bewys word. Maar moontlik die treffendste voorbeeld is die maatskappy se hoëprofiel-betrokkenheid by motorsport.

Die fondament vir die WRC-aanslag vanjaar is gelê deur die uitstekende welslae wat Suzuki in die JWRC behaal het, hoewel die span eers in 2002 aan motorsport begin deelneem het.

Die Skandinawiese jaer Per-Gunnar Andersson het in 2004 Suzuki se eerste titel in die JWRC agter die stuur van ‘n Ignis Super 1600 ingepalm. Die aankoms van die Swift in 2006 het die tweede en derde plekke aan die fabriekspan besorg – en dít in die Swift se heel eerste jaar van deelname aan die kampioenskap.

In 2007 het die span weer die JWRC-kampioenskap verower, dié slag met die Swift. Andersson het daarmee die enigste tydrenjaer geword wat die JWRC-titel twee keer kon inpalm. Sy spanmaat, Urmo Aava, was naaswenner in die kampioenskap.

Die Swift Sport sit vanjaar die verdediging van sy JWRC-titel voort in die hande van twee talentvolle jong jaers: Jaan Molder van Estonië en Michal Kosciuszku van Pole.

Op grond van daardie welslae het Suzuki Sport, ‘n afdeling van SMK, aangekondig dat hy van plan is om aan die aksiebelaaide Wêreld-Tydrenkampioenskap (WRC) deel te neem – dié keer met ‘n vierwielaangedrewe SX4 WRC.

Die span het vir toetsdoeleindes aan die einde van 2007 aan die Franse en die Britse WRC-tydrenne deelgeneem en daarna vanjaar met hul eerste, behoorlike aanslag op die WRC-reeks begin.

“Suzuki se deelname aan die WRC-reeks met die SX4 bied aansienlike voordele vir die maak, onder meer die ontwikkel van tegniese oplossings wat uiteindelik aan gewone produksiemotors oorgedra word,” sê Charl Timms, Hoof van Verkope en Bemarking by Suzuki Auto SA.

“Daarbenewens versterk die reuse-ondersteuning wat die WRC wêreldwyd geniet, en die passie en opwinding wat dié reeks skep, Suzuki se dinamiese, sportiewe beeld.”

Terwyl Suzuki reeds geruime tyd ‘n benydenswaardige naam vir gehalte en betroubaarheid in die kleinmotor- en SNV-segmente geniet, het die maatskappy besef dat hy sy modelreeks sal moet uitbrei om aan die uiteenlopende vervoerbehoeftes en lewenstyle van sy klante te voldoen.

Juis daarom is die Japanese vervaardiger van plan om in die volgende vyf jaar ‘n rits nuwe modelle in ‘n breë spektrum marksegmente bekend te stel wat deurlopend nuwe standaarde sal stel.

Onder dié nuwelinge tel ‘n opwindende vlagskip-sedanmotor wat in die D-segment gaan meeding. Die motor sal gegrond wees op die Kizashi 3, ‘n kopdraai-konsepmotor wat die eerste keer by die 2008 New York-motorskou onthul is.

Die nuwe motor sal Suzuki in staat stel om sy hoë vlakke van ingenieursvernuf en gevorderde tegnologie ten toon te stel, en terselfdertyd die Suzuki-naam na ‘n nuwe marksegment uit te brei.

“Kizashi beteken ‘voorsmakie’ in Japanees,” verduidelik Timms. “En dit verwys na hoe dié toekomsmotor, en Suzuki se ander konsepmotors, die toekomsrigting van Suzuki se produkplanne aandui – asook die unieke mededingingsmag van die maatskappy.”

Die ontwerp van die Kizashi-reeks – wat uit die gesofistikeerde Kizashi 3-sedanmotor, die Kizashi 2-kruisdoelvoertuig en die sportiewe Kizashi-luikrug bestaan – versinnebeeld “die bewegings van ‘n dinamiese atleet”. Dit word beklemtoon deur die gebruik van fyn deurdagte stilering en gesofistikeerde tegnologie.

Die Kizashi 3 is met Suzuki se i-AWD intelligente vierwielaandrywing toegerus om die padgedrag en dinamiese vermoë van die motor te onderskraag, terwyl ‘n gevorderde V6-enjin van 3,6 liter vir oorgenoeg kraglewering sorg.

Die kragbron gebruik metaalbedekte silinders – ‘n tegnologie wat deur Suzuki vir sy motorfietse en tydrenmotors ontwikkel is, en wat massa en ruimte bespaar.

Wat omgewingsbewustheid betref, bestaan Suzuki se ontwikkelingsteiken vir sy nuwe mededinger in die D-segment uit ‘n ongekende kombinasie van dinamiese verrigting en omgewingsvriendelikheid. Die produksiemodel sal na verwagting met die laagste C02-uitlaatsyfer in sy klas spog.

Ewe omgewingsvriendelik is Suzuki se Concept A-Star, ‘n klein vyfdeurmotor in die A-segment wat eweveel klem op wêreldklas omgewingsvriendelikheid en ongewone gerief plaas.

Die produksieweergawe van die Concept A-Star sal na verwagting met ‘n splinternuwe aluminium-petrolenjin van 1,0 liter toegerus wees. Dié kragbron voldoen nie net aan die jongste Euro V-uitlaatgasstandaarde nie, maar behaal ook ‘n C02-uitlaatsyfer wat laer is as enige mededinger in die klas. Die teikensyfer is laer as 109 g/km.

Nes al Suzuki se strategiese wêreldmotors, sal die nuweling bewys dat ‘n sportiewe karakter en opwindende verrigting steeds moontlik is, ondanks uiters suinige brandstofverbruik.

Om bewus te wees van hoe noodsaaklik dit is om die lewensvatbaarheid van ons omgewing te bewaar, strek egter verder as Suzuki se bestaande en toekomstige modelle.

Dit sluit ook ‘n ‘groen’ benadering tot elke faset van Suzuki se sakebedrywighede wêreldwyd in.

SMK het die Suzuki-handves van Globale Omgewingsbewustheid in Maart 2002 gevestig. Dit is ‘n gestandaardiseerde konsep vir omgewingsbewustheid wat gebruik word om eko-vriendelike aktiwiteite by al sy maatskappye en filiale te bevorder.

Die handves is gekoppel aan ‘n ‘Groen Verskaffer’-beleid wat seker maak dat onderdele en materiale net aangeskaf word van voorsieners wat self ‘n positiewe bydrae tot omgewingsbewaring lewer.

Dit sluit in ‘n waarborg dat motoronderdele geen gevaarlike stowwe soos onder meer lood, heksavalente chroom, kadmium of kwik bevat nie. Dié beperkinge word deur die EU se 2003 End of Life-voertuighandves bepaal.

Suzuki is ook betrokke by ‘n verskeidenheid opruimingsaktiwiteite wat op omgewingsbewaring betrekking het – onder meer die bewaringsprogram wat by sy Shimokawa-toetsterrein op die Japanse eiland Hokkaido ingestel is.

Dit word verder bevorder deur die maatskappy se wye verskeidenheid sosiale opheffingsprogramme en opleidingsinstansies.

Een van die belangrikste projekte is die Suzuki-stigting, wat in 1980 ter viering van Suzuki se 60ste bestaansjaar gevestig is om wetenskaplike navorsing oor die interaksie tussen mense en masjiene te bevorder.

Ter viering van Suzuki se 80ste bestaansjaar in 2000 is die Suzuki Onderwys- en Kultuurstigting opgerig, wat finansiële steun bied aan hoërskool-leerlinge en universiteitstudente in die Shizuoka-provinsie. Die stigting ondersteun ook die sport- en leeraktiwiteite van kinders.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar