Noudat die stof oor die kampioenskap in die afdeling vir buisraammotors in die Suid-Afrikaanse ABSA-veldrenkampioenskap gesak het, het Evan Hutchison en Achim Bergmann se kampioenskapsoorwinning ’n Button-agtige voorkoms gehad.
Maar teen daardie tyd het Hutchison en Bergmann egter reeds die algehele sowel as die Klas A-jaers- en navigatorskampioenskappe gewen. Hutchison het die jaar op nog ’n hoogtepunt afgesluit deurdat hy ook die Klas A7-titel in die Suid-Afrikaanse Sasol-tydrenkampioenskap gewen het – ’n unieke prestasie.
Die naaswenner in die algehele sowel as die Klas A-kampioenskap is eers in die RFS-Magalies 400 beslis. Hul oorwinning in dié laaste byeenkoms van die seisoen het Nick en Ryan Harper in die Atlas Copco-BAT buite bereik van Shameer Variawa en Siegfried Rousseau (Total-Porter), wat weens ’n koppelaarprobleem ver agter klaargemaak het, geplaas.
Die volgorde in die Klas A-kampioenskap het ook verander danksy die wyse waarop veldrenpunte bereken word. Hier het Naeem Moosajee (Tyre Rack-Jimco) die derde posisie in die jaerskampioenskap voor Variawa en Mike Whitehouse in die Regent Racing-BAT ingeneem.
Mathew Carlson, wat in die navigatorsitplek vir Whitehouse was, was derde onder die hulpjaers en voor Rousseau en Mohammed Moultson wat vir die grootste gedeelte van die seisoen langs Moosajee gsit het. Moultson het egter die laaste twee renne misgeloop.
Die Harpers en Whitehouse/Carlson was die enigste buisraammotorspanne wat elke ren regdeur die seisoen van begin tot einde voltooi het.
Klas B is regdeur die seisoen deur die Kaapstadse jaers Derrick du Toit en Ian Pienaar in hul Orange Tree-BAToorheers. Dié twee het die kampioenskap ver gewen ten spyte van die feit dat Pienaar, wat nou uitgetree het, een beenkoms misgeloop het.
Deursettingsvermoë het vrugte vir die Makenete-broers Keith en Andrew afgewerp, wat tweede in hul Zarco Lite was, terwyl Johan de Klerk in nog ’n Zarco Lite die derde plek in die Klas B-jaerskampioenskap ingeneem het. Steve Harris, wat deur die seisoen vir Simon Beckett en vir Du Toit in die navigatorsitplek diens gedoen het, het De Klerk se hulpjaer, Louis Pretorius, in die navigatorskampioenskap geklop.
Die Klas P-stryd het reg tot die wenstreep in die laaste byeenkoms gewoed toe die verdedigende kampioene, Johan en Etienne Bezuidenhout (Adenco-BAT) ’n oorwinning op net die regte oomblik losgejaag het om ’n agtereenvolgende kampioenskap te beklink. Die naaswenner in die jaerskampioenskap was die KZNse jaer Don Thompson wat drie verskillende navigators in die verloopvan die seisoen gebruik het.
Thompson het Johan van Staden geklop wat saam met James Rossouw (KEC-BAT) hul eerste oorwinning van die seisoen in die RFS-Magalies 400 gehaal het. Rossouw was die naaswenner in die navigatorskampioenskap terwyl die ongelukkigstes David en Gary White (Ruwacon-BAT) was wat ’n triestige tydjie in die laaste beenkoms gehad het en vierde en derde onderskeidelik in die jaers- en navigatorskampioenskappe was.
bydrae: Charmaine Fortune
