Verwag die onverwagte

Daar is eenvoudig niks gewoon aan die geheel nuwe, vernuftige Suzuki SX4 nie. Die motor is beslis nie net nog ‘n mededinger in die C-segment nie.

Die nuweling is nie net treffend ongewoon nie, maar tree toe tot ‘n uiters mededingende marksektor met ‘n lewenstyl-gerigte pakket wat uniek in die klas is.

As die vlagskipmodel wat in Junie 2008 die bekendstelling van Suzuki Auto Suid-Afrika aanvoer, is die SX4 die eerste voertuig in dié marksektor wat aan kopers ‘n vars kruisdoelontwerp bied.

Net dit behoort reeds as genoeg aanmoediging te sorg vir motorkopers wat op soek na ‘n sportiewe, aktiewe motorervaring is.

Op die SX4-naamplaat is die ‘S’ ‘n afkorting vir ‘sportief’, terwyl die ‘X’ na die motor se kruisdoelontwerp verwys.

Die ‘4’ is egter nie ‘n aanduiding van vierwielaandrywing nie. Hoewel ‘n vierwielaangedrewe weergawe van die SX4 wel in sommige lande verkoop word, is dié model nie hier beskikbaar nie.

Die buiteontwerp en -besonderhede van die kopdraai-SX4 benadruk doelbewus ‘n lewenstylrigting wat gewoonlik eerder met sportnutsvoertuie verbind word.

Maar in hierdie geval word dié elemente doelbewus verbind aan die ratse houding van ‘n passasiersmotor. Die kombinasie skep ‘n werklik unieke, individuele modelreeks wat ‘n geheel nuwe motor-nis beset, eerder as om net die gewone trant te volg.

Die SX4 verskyn dus as ‘n uiters veelsydige voertuig wat werklik praktiese voordele soos ‘n hoër grondvryhoogte en ‘n effens hoër sitposisie bied – maar sonder om die ratsheid en bestuursplesier van ‘n gewone luikrugmotor in die wiele te ry.

Met ‘n trotse, individuele voorkoms wat die koppe laat draai, en ‘n kajuit wat veelsydig, ruim en volledig toegerus is, is die SX4 universeel aantreklik. En tog is dié nuweling besonder geskik vir die SA-lewenstyl.

Net een, volledig toegeruste weergawe van die SX4 word plaaslik beskikbaar gestel, hoewel kopers steeds tussen weergawes met ‘n vyfgang-handratkas en ‘n elektronies beheerde, outomatiese viergangratkas kan kies.

Die sportiewe oogmerke van die SX4 word weerspieël in die kruisdoel-luikrug se moedige viersilinderenjin van 2,0 liter, wat met elektroniese meerpunt-brandstofinspuiting toegerus is.

Dié geesdriftige eenheid koppel uiters mededingende kraglewering aan ‘n klasbeste wringkragsyfer. Maksimumkrag word as 107 kW by 5 800 r/min aangegee, terwyl die wringkragpiek op 184 Nm by net 3 500 r/min te staan kom.

Die enjin plaas die klem op ‘n plat wringkragkurwe by lae tot medium-enjinsnelhede, wat nie net verbysteekvermoë bevorder nie, maar ook verrigting in alledaagse bestuursomstandighede baat.

Die SX4-handratmodel kan in net 9,4 sek van 0-100 km/h versnel, met ‘n topsnelheid wat 184 km/h beloop.

Maar daar is gelukkig geen haas om ‘n draai by die vulstasie te maak nie: Suzuki se brandstofverbruiksyfer vir die gekombineerde siklus beloop 8,4 l/100 km vir die handratmodel, terwyl die outomatiese weergawe met 9,5 l/100 km net effens dorser is.

Ondanks die Suzuki SX4-kruisdoeler se pasaangee-voorkoms bly dit ‘n besonder lekker motor om te bestuur.

Dit is onder meer as gevolg van die uiters stram onderstel, wat puik hantering, beheer en reaksies bevorder. So sorg Suzuki dat beide buitelewe-fanatici en motorgeesdriftiges die SX4 eweveel kan geniet.

Die SX4 se dinamiese karakter word verder versterk deur die motor se puik ABS-sluitweerremstelsel, wat met remskywe voor en agter toegerus is. Die stelsel bied ook elektroniese remkragverspreiding en elektroniese noodremhulp.

Die SX4 sal in SA as Suzuki se handelsmerk-ambassadeur optree deur onteenseglike bewys te lewer van die maatskappy se naam vir uitsonderlike gehalte en ‘n ongeëwenaarde waarde-aanbod.

Dié kenmerke is veral opmerklik in die puik monteergehalte en die tasbare gehalte van die afwerkings, die verfyning van die motor en die aggressiewe prysstrategie – dit ondanks die buitengewoon hoë vlak van standaardtoerusting en die waardetoegevoegde kenmerke van die SX4.

Suzuki se vlagskip bied besondere gerief en weelde as standaardtoerusting – wat heeltemal indruis teen die uiters mededingende prysstruktuur. Die SX4 2.0-handratmodel kos R163 900 en die outomatiese weergawe R176 900.

Vir daardie prys kry die SX4-bestuurder alles wat die hart begeer. Die luikrug se standaardpakket sluit onder meer kragstuur, elektriese ruite, elektriese kantspieëls, ‘n geïntegreerde MP3- en CD-klankstelsel met stuurwiel-gemonteerde hulpkontroles, togsnelheidbeheer, ‘n volledig outomatiese klimaatbeheerstelsel, en selfs sleutelvrye toegang en aansit.

Die veiligheidspakket is eweneens volledig. Dit skop af met ses lugsakke – twee voor, twee aan die kante en twee gordynsakke.

Suzuki se allesomvattende Suzuki Complete-program sorg dat die SX4-eienaar naverkope-diens van die hoogste gehalte sal ontvang. Daaronder tel ‘n diensplan van ses jaar/90 000 km, tesame met ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km.

Buitendien sluit die Suzuki Complete-pakket ‘n padbystanddiens in wat vir die hele waarborgtydperk geldig bly. ‘n Fabrieksgeïnstalleerde Altech Netstar Sleuth-opspoorstelsel is eweneens standaard, maar kan opsioneel teen ‘n maandelikse premie geaktiveer word.

Lewer kommentaar

Leave a Reply