Johnny Raakvat se mense

Johnny Raakvat se mense, my mense! Dit is David Kramer en sy orkes (Howard Links en Gammie Lakay) en die groep kitaarspelers uit die res van die land. Weens omstandighede buite my beheer moes ek vanjaar se Karoo Kitaar Blues misloop by die KKNK in Oudtshoorn en so amper amper was dit weer so by die Baxter in Rondebosch. ‘n Verstandige heer het egter op dag van die opening meer as twee handevol kaartjies gekoop en een het in my besit beland.

My verwagtinge was hoër as hoog, want die hoop artikels op my lesenaar (genoeg om ‘n boek van saam te stel) het dit vertoning met elke moontlike loflied toegedig, dan praat ek nie eens van die op die radio en televisie nie. Was dit moontlik dat ek na al die hoera nog steeds my sitplek in die tweede ry van voor, reg in die middel, positief sou verlaat.

David Kramer en regisseur Jan Horn het die Karoo platgery op soek na die “mite” van die beste kitaarspeler in die land, Johnny Raakvat, en die verskuilde talent op die kleinste en mees afgeleë dorpe en plase.

Min dinge kan my mond laat oophang, veral nie as ek weet wat om te verwag nie, maar toe Tokas Lodewyk die verhoog betree en begin speel het my bek letterlik oopgehang. Ek het geweet Tokas kom van ver, maar ek het nie ‘n benul gehad van hoe ver nie. Sy Karoo Blues uit Richmond se wêreld is opruiend en Tokas se spontane draaie en swaaie het beide die gehoor en die orkes laat swoeg om by te bly. Tokas is later die aand vir die soveelste keer toegejuig toe hy die riel begin trap met Kramer wat saam dans.

Jy dink dinge kan nie beter raak nie as Kramer die Mouers-gesin bekendstel. Ma Siena en pa Jan stap al aan in die jare en maak hul verskyning in hul beste Sondag-klere. Siena lei met haar eie komposisies en pa Jan speel ondersteuning, terwyl dogter Magdalena die sang behartig. Langs my het die trane gerol en die uwe het self gesukkel om te keer dat die kraan lek.

Die Jaers-broers (Jan & Jakob) het hul bokke in die Kammies-berge vir ‘n paar dae in iemand anders se sorg gelos om die stad se mense te kom vergas met hul eie komposisies wat gelei word deur Jacob se blikviool.

Dit is egter Hannes Coetzee wat my na my asem laat snak het. Soos almal in die gehoor was ek beïndruk deur sy pluk-en-knyp styl, die manier waarop hy ‘n wysie met ‘n lepel laat uitgly en sy liedjie van die haantjie en die hennetjie. Tog het ek gewonder hoeveel mense in die gehoor die formaat van die musikant voor hulle kon peil. Sy musiek spreek van ‘n kompleksiteit wat jy nie op elke hoek en draai sien nie en hopelik is dit nie die laaste keer wat ons vir Hannes Coetzee van Herbertsdale hoor nie.

Na my mening is daar nie ‘n musikant in die wêreld wat Afrikaanse kultuur so kan vasvang in musiek soos David Kramer nie. Met Karoo Kitaar Blues het David vir ons kom wys waar die wortels nou eintlik lê.

Die aand is afgesluit met ‘n gesamentlike komposisie vn Kramer en Coetzee. Die res van die groepie het saam gedans, behalwe oupa Jan wat eenkant gesit het en Magdalena se baba gesus het. Die staande ovasie in ‘n stampvol Baxter was die minste wat ons vir David en kie kon doen.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar