Seks in die Suburbs

‘n Man en ‘n Vrou. ‘n Ouer vrou en ‘n jonger man. Hy is pas afgestudeer en sy lek al aan vyftig. Sy’t hom opgetel (na ‘n paar glase wyn) by ‘n funksie waar hy ‘n kelner was en sy is vasbeslote om na meer as ‘n dekade se droogte weer haar seksualiteit te laat geld. Altwee is alleen. Atwee is op soek na iets soos die ander …

Maar die passie word gekortwiek deur ‘n inbreker en stuur die aand na gesprekke oor selfverdediging, swak oesjare en die Groot Griep! Gesprek is die enigste verweer teen die dreigende gevaar. Is die slaapkamer die paradys of dalk Jean Paul Sartre se hel … “Hell is other people”?

Na vele ontblotings en gepaardgaande skokke (ook ‘n elektriese een) kom hulle tot die onthutsende gevolgtrekking dat bloed kruip waar dit nie kan loop nie …

Seks in die Suburbs is geskep in opdrag van die Aardklop Kunstefees 2009. Paul Boekooi skryf in Spat, die amptelike Aardklop feeskoerant, “…die lekkerste sekskomedie op die fees…” en ook “Die slottoneel, wanneer alles bedaar is ‘n briljante ingewing”.

Die akteurs in Seks in die Suburbs is Susanne Beyers en Eben Genis. Beyers is bekend vir haar boekvoorlesings op RSG en het ook hierdie jaar in Die Ryk Weduwee gespeel. Sy was destyds ook op TV te sien in Arende en Onder Draai die Duiwel Rond en meer onlangs in Erfsondes en Binnelanders.

Eben Genis het sy verhoogdebuut in 2004 gemaak in Marthinus Basson se produksie van Maria de Buenos Aires en het daarna ook gespeel in oa. Smag, Reza de Wet se Broers en meer onlangs die acapella musiekblyspel Noah of Cape Town.

Die teks en regie is deur Francois Toerien, bekend vir sy sketskomedie produksie Die Francois Toerien Show asook aanbieder van DKNT op kykNET.

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply