(deur Babs van der Merwe)

Sersant Botha storm die vertrek binne en steek in sy spore vas.

Hy sien die vrou in die stoel, haar kop effe vooroor. ‘n Bos ongelooflike mooi hare hang oor haar gesig. Eers as hy nader gaan is hy seker dat sy dood is.

“Soek die res van die huis deur en plaas iemand by die agterdeur. Die slagoffer is reeds oorlede,” dra hy vinnig sy bevinding oor.

Hy bekyk die jong vrou van nader. Daar is ‘n skietwond op haar bors en baie bloed by beide die ingang en uitgang van die koeëlwond.

Hy kyk in die vertrek rond. Dit getuig van ‘n leefruimte – ‘n mandjie met handborduurwerk staan langs die rusbank.

In een hoek naby die kaggel, is ‘n skryfburo waar ‘n boek ooplê. Daar is ‘n vulpen op die oop boek, so asof daar nie lank gelede in die boek geskryf was nie.

Ben Botha glo daaraan om eerste indrukke onmiddellik neer te skryf. Hy weet maar te goed dat die geharwar wat volg wanneer die res van die forensiese span opdaag. Dit laat maklik belangrike waarnemings tydelik vervaag.

Ben hou van die woordkuns en spandeer meer tyd by die skryfburo, versigtig om aan niks te raak nie.

Hy neem foto’s met sy selfoon sodat hy die vertrek kan sien soos die oorledene dit gesien het onmiddellik voor haar dood. Dan 180⁰ van links en na regs, sodat hy later weer alles in die vertrek kan nagaan wanneer hy tuis aan die saak aandag gee.

Hy kyk na die boek waarop die pen lê en merk dat dit ‘n A5 notaboek is.

Later blyk dit dat die vingerafdrukke wat in die vertrek gekry word die van die oorledene en twee ander persone is. Die een stel vingerafdrukke is die van die huishulp. Die ander stel, vind hulle uit, is die van ‘n vriend, wat volgens die huishulp en die bure, gereeld daar gekuier het.

Die huishulp was ten tye van die moord uitstedig en die vriend het ‘n waterdigte alibi. Dis ‘n raaisel wat hoe later hoe vreemder raak.

Na die vingerafdrukke geneem is, tel Ben die notaboek op en blaai daarin. Die notaboek is skynbaar as joernaal gebruik. Die joernaalinskrywings kan moontlik lig werp op die motief vir die moord – wat tot dusvêr nie duidelik is nie.

1996-05-02
Vandag het ek jou krag gesien en besluit om dit te gebruik. En nog later het ek jou swakhede ontdek en besef wanneer ontbloot, word dit ‘n ander krag. Vanmiddag, na baie wyn en lekker kos, intelligente geselskap met spontane mondelingse tweegevegte begin ‘n bykans onwerklike verhouding, dink ek. Skielik was ek net van jou bewus. Jy en ek het net oë vir mekaar gehad. Jy het uitsluitlik met my gepraat. Jou openlike erkenning van jou begeerte het my onverhoeds gevang.
Ek besef ek is ongeneeslik romanties.

(Geen datum)
Dit is Saterdag, ek sit alleen by ‘n vuur, televisie afgeskakel, brei en konsentreer – roep met gedagtes en wese tot jy wonder bo wonder skakel. Jy nooi my om dinge te doen wat ek nog nooit eens oorweeg het nie. Maar nie voor jy my verplig om my gevoelens te erken, besef ek wat werklik aan die gebeur is nie.

Dis ‘n laa-aang naweek. Ek is nie seker wat jy van my verlang nie, indien jy wel iets van my wil hê. Jy sê ek moet jou tyd gee, asof ek iets van jou wil hê of verwag. Ek verstaan nie, maar vra nie vrae nie – wil ek dalk nie weet nie? (Later) Ek is nou spyt dat ek nie gevra het nie.

1996-05-08
Ek smag na jou. Miskien sien ek jou as ‘n vervanging van dit wat ek verloor het en nie kan terugkry nie. Dat jy my wil hê! En tog, en tog. Noudat ek weer aan vroeër vanaand dink, kan ek nie glo wat jy alles gesê het terwyl ons tussen ‘n hele groep gaste was nie! Ek kan skaars glo jy het jou begeerte so duidelik gewys. Ek onthou dit graag, al onthou ek miskien meer as die werklikheid. Elke oomblik vandat jy oor jou gevoelens gebieg het is spesiaal. Die nag in jou geselskap was glad nie lank nie.

1996 05 09
Vanoggend het ons die son tegemoet gery, die lug stadig sien verkleur. Toe ons later in mekaar se arms lê, beskuldig jy my dat ek besig is om verlief te raak, so asof jy dit nie wil hê nie. Ek was só bang om te erken en dat my erkenning jou sal verdryf. Uiteindelik het ek maar erken, selfs al het ek gevrees dat ek jou kon verloor. Hoe teer het jy my toe vasgehou, van agter met jou hande op my borste. Om te skryf oor ons twee hou my geduldig, laat my glo in die toekoms. Ek hoop jy weet dat jy belangrik geword het vir my.

1996 05 10
Baie laat word ek wakker –
Slaap is net nog ‘n woord.
In hierdie toweruur
kom eksotiese skoonheid
gelouter deur vuur
uit modder, spinnerakke van onsekerheid,
skares van vyande
sirkels van vriende.
Maar gou, soos altyd,
wen ek die stryd.
Mag die oorwinning bly
deur heel die dag
ongeag die drogbeelde van die nag
wat niks respekteer of waardig ag.

1996 06 12
Só lank het ek niks geskryf nie. Die dae was sonder deinings en ek het aan jou afwesigheid gewoond geraak. Maar skielik wil jy praat. Aanraking is taboe – vermoed ek instinktief – jy wil praat. Ek sit op die mat by jou voete, raak net per ongeluk aan jou. Jy vertel van jou lewe. Ek besef dat jy baie verloor het. Ek luister en wonder oor wat jy verkies om te vertel en dit wat jy nie vertel nie. Jy eindig met jou voorneme om sekere dinge uit te sorteer, maar gee dit nie name nie. En dan sê jy, sal ons saam wees. Jy sê nie wat jy bedoel nie, en weer vra ek nie, gryp die hoop, want ek kan as ek wil. (Ons altwee weet dat dromers met ‘n gewete, selde hulle drome waarmaak. Nogtans, die bittersoet wete dat wedersydse liefde sonder ‘n toekoms pynlik is en oneindig soet, maak dit nie bevredigend nie.) (God, is daar ‘n plek waar al hierdie dwase, vrugtelose menslike begeertes opgehoop word? Tel opofferings, of moes ons om te begin, nooit begeer het nie? Vergewe my Heer, ek ken die antwoord, maar wees asseblief geduldig en genadig met hierdie nikswerd kind van U!!)

Nag liefling. Maar voor ek gaan – ek het gevoel ek moet in die Bybel lees – maak dit lukraak oop, soekende na lig ten opsigte van ons verhouding. Dit val oop by Hooglied. Ken jy die hooglied van Salomo? Ek sal dit graag een of ander tyd aan jou wil voorlees. (Binnekort is dit vier jaar later en ek het dit nog steeds nie vir jou gelees nie en sal moontlik nooit. Ek besef dat ek verstaan het wat ek graag wou glo en die deel ignoreer het wat sê “wat is dit dat julle die liefde wakker maak en aanvuur voordat die tyd daarvoor ryp is”.)

Wonder wat sy bedoel het. Praat sy van die vriend wat gereeld hier gekom het? BB

1996 07 03
Vandag het jy niks persoonlik gesê nie, beteken dit dat alles verby is? Ek sterf ‘n duisend dode tot ek jou weer sien. ASSEBLIEF moenie weggaan nie!
Hou my vas, praat met my, met woorde, jou oë, jou hele dierbare gesig.

Hoekom het sy so lank niks geskryf nie?  BB

2001 04 01
Gister was moeilik. Na ‘n lang tyd is jy weer voor my deur. Maar wanneer jy so afgetrokke en beswaard is, wil ek jou vashou en troos tot alles weer goed is. Ek het soveel om aan te bied, jy hoef maar net te vra. Ek het jou so gemis, jou soene en tere aanraking. Ek het jou passie gemis.

Laat ons liefhê
Laat ons groter wees as ons eie-ek
Laat ons waarlik liefhê
soos individue, sonder inagneming van ouderdom,
skoonheid, passie of seks,
of met wonder oor wat gebeur het
of sal gebeur.
Laat ons waarlik liefhê.

2001 04 05
Ek het jou tog geskakel, al het ek my voorgeneem om jou nooit weer te skakel nie.

2001 05 01
Dit was wat ek moes doen. Jy is terug by onverwagse uitnodigings en oproepe. Ons gaan saam na ‘n verjaardagviering waar niemand vrae vra oor wie saam met wie is nie. Dit was ‘n baie aangename aand totdat jy my vra of ek jou liefhet, en ek antwoord dat ek jou steeds liefhet. Blykbaar verstaan jy met steeds dat daar moontlik ‘n einde ook impliseer word. Die argument wat volg versuur die atmosfeer, ongeag my pogings om te verduidelik wat ek bedoel het. Ek wens ons kon weggaan iewers waar ons liefde ongehinderd kan blom, al is dit vir net ‘n paar uur.

2001 05 10
Toe jy vandag skakel kon ek eers nie glo dat jy my soveel vertrou dat jy selfs jou geldelike probleme met my kon bespreek nie. En natuurlik help ek jou, want ek glo jy sal jou woord hou en elke sent terugbetaal. Ek vertel niemand nie want ek vertrou jou.

2001 06 05
Ek neem ‘n vriendin se uitnodiging aan en bring die naweek in die bosveld deur. Kwaliteit ure om ‘n harde-kool vuur is ‘n lafenis. Later sit ek alleen en tuur in die vlamme tot ek my pen en papier nadersleep.

2001 07 05
Ek is opgewonde oor jou onaangekondigde inloer. Dit voel asof ons mekaar daagliks beter leer ken. Skielik het jy vandag uitgevra oor my veiligheid. Jy het verlig gelyk toe ek vertel dat ek ‘n vuurwapen het. Ek dink jy gee regtig om.

Kom ons droom,
gee voor –
weg met die werklikheid.
Laat ons liefhê, dit sê en dit selfs glo,
al is dit vir ‘n uur of ‘n dag.
Dit is beter dat mens liefgehad het
as dat mens nooit die liefde geken het nie.
Dit is beter om jouself te gee
as jaloers alles vir jouself te hou.
Onaangeraak, verkrimp dit, word klein,
beperk tot een klein verstand.
Dis hoekom ek lief het en nie skroom om dit te erken nie,
en aan ander erken dat ek lief het en steeds verlief is.

Om lief te hê maak jou nie armer nie maar ryker en jy het meer om te deel.

2001 07 31
Jy sou ‘n paaiement kom betaal en het nie opgedaag nie.

2001 08 05
Jy skakel nie meer nie. Is jy bang dat ek vir die geld sal vra, was jou gevoelens so oppervlakkig.
Ek moet leer om uit doodloopstrate te bly.

Skielik voel ek koud, moeg en oud,
hoor nie ‘n enkele noot of akoord
wat ‘n melodie in my gees kan begin –
die lig word yl en min.
Hoe kom ek uit hierdie donker gat.
Ek is van vertwyfeling en hartseer sat.
Van gister se liefde is nie ‘n enkele vonkie oor.
Verraad, verwyt en beskuldiging alleen te hoor.

Was die motief tog maar passie ?  BB

2001 08 10
En nou het jy tog geskakel. Ek wag vir jou.

2001 09 09
Jy sal nou-nou voor my deur wees en ek moet besluit of ek uit die doodloopstraat uitdraai of nie. Wonder wat jy gaan sê as ek beken dat ek ons mondelingse ooreenkoms opgeneem het. Jy weet reeds dat ek sterk is en by ‘n besluit kan bly. Ek het bedoel wat ek gesê het. Ek sal sorg dat jy nooit weer ‘n ander vrou sal bedrieg en inloop nie. EN EK IS NIE BANG VIR JOU DOODSDREIGEMENTE NIE.

Ben maak die boek toe. Dit was die laaste inskrywing. Hy begin ingedagte in die vertrek rondkyk, op soek na ‘n toestel wat moontlik vir die opname waarna die oorledene verwys het, gebruik is.

Dan sien Ben die skootrekenaar. Hy maak dit oop en merk dat die oorledene besig was om haar e-pos na te gaan. Hy sien daar is ‘n elektroniese rekening van ‘n selfoonmaatskappy. So, sy het ‘n selfoon gehad. Sy kon dus die gesprek in verband met die lening op haar selfoon opgeneem het! Hy skryf die selnommer neer en begin soek na die selfoon. Hy skakel die nommer toe hy nie dadelik die selfoon sien nie. Hy hoor niks.

‘n Dame hou gewoonlik die selfoon in haar handsak en vergeet dikwels om dit uit te haal wanneer sy tuiskom. Hy gaan soek na die slaapkamer. Soos die forensiese span reeds rapporteer het, lyk dit nie asof roof die motief was nie, want niks is uit plek nie. Ook dié vertrek vertel van ‘n geordende bestaan.

Ben sien die nota onder die spieëltafel se glasblad. “Kyk die brief in die boonste laai”.

Ben maak die laai oop en daar is die koevert. “Wie dit mag aangaan” Hy fotografeer dit met sy selfoon voor hy dit uit die laai haal en oopmaak.

Daar is ‘n duidelike verklaring in die koevert met talle bykomende feite. Al wat hom nou te doen staan is om die verdagte op te spoor.

Moenie die liefde verraai nie.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar