Siektes, genesers en kwaksalwers

Siektes en hospitale het die manier om die ware jy en ek na vore te bring. Soms is ons grootmeneer en kordaat, maar as ons kop-eerste uit die saal gestoot word, dan kan ons met die omie saamstem wat gesê het: “Nursie, nou voel ek soos ‘n slagskaap wat alleen in die drukgang staan, nadat hy uit die trop weggekeer is, en dan staan en natmaak want wat gaan gebeur weet hy nie, maar dat dit gaan gebeur is seker.”

Vroeër jare was van die plase ver van die dorp en dan was die mediese hulp beperk tot die plaaslike vroedvrou, die doktersboek en ander rate, beproef of nie, is gebruik om siektes te behandel. Dit kon lei tot die “warm katvel op die bors” of soos die keer wat my swaer, uit radeloosheid omdat daar nie pynstillers op die plaas was nie, die skape se inflammasiepille gedrink het om sy tandpyn te besweer! Dan is daar die kruies, soos wilde-als, wat met vrug as remedie toegedien is. Hierdie kruiebos het neffens die agterdeur in die skadu van die groot appelkoosboom en op die rant van die leivoor in die leemgrond van Ceres gedy. Hierdie kruierasie het die reputasie gehad, veral by ons as kinders, om enige maagongesteldheid soos mis voor die son laat verdwyn – net die reuk was al genoeg! Witdulsies, sambuksalf, Borstol , Zink Pyn Spesifiek en ander Hollandse medisyne was ook deel van De Huys Apoteeke – ‘n bliktrommeltjie wat met heilige eerbied behandel is.

Dan was daar die medikasie wat vir enige kwaal gehelp het, van ‘n toe bors tot bysteek, van ‘n seer keel tot ‘n geswelde enkel – wat anders as “Vicks”! Die Bybel, die landswette, en “Vicks” is waarsonder geen mens kan klaarkom nie, aldus my ouma se geloof. Daarom het sy ook altyd gesê dat die drie belangrikste mense (buiten haar gesin) die predikant, polisieman en die dokter is!

Friars Balsem was netso veelsydig: gestoom vir kroep en om wonde te ontsmet. As dit nie vir die “monnik” vanmelewe was nie, sou vele gesinne met hul hande in die hare gesit het!

Deesdae gaan mense na hospitale of ouetehuise om daar te sterf. Vervloë se tyd was daar twee tot drie geslagte op die een plaas en was daar altyd een wat versorg moes word en met genoeg om te versorg! Mense kon in die bekende hul laaste dae deurbring en die dood rustig tegemoet gaan. Nie soos vandag met sy steriele geboue en die kloekende en klaende monitors, pype en sakkies en wat nog alles nie. Dit laat die ouer persoon voel dat hy/sy myle verwyder is van die bekende, en dat sy privaatheid wreed en funksioneel betree wôre met ‘n kuur wat soms erger is as die kwaal!

Ek wil vertel van oom Jacobs van Williston, sal ons sommer sê van Williston se hospitaal, want die ouetehuis had nie meer raad met hom nie. Die siektes waaraan hy gely het, het hy gehad, alhoewel die mediese wetenskap dit toe nog nie beskryf het nie. Dit was die dae toe meeste mense aan hul harte dood is, of soos mense gesê het: “Die water het oor sy hart gestoot en hy was nie meer!”

Oom Jacobs is in ‘n enkelkamer geplaas op een van daai beddens met sulke hoë tralies wat die wilde en mak diere van sy werf af moes hou. Die arme dokter moes voor saalrondte sy wit jas uittrek en eers verslag doen oor die toestand van die wyding en natuurlik ook vertel of hulle die pomp se pype kon uit trek by die “voetwelf” wat die brakwater opgevreet het. Susters en skoonmakers moes ook onder die toe nog net “ouderdom” genoem, en vandag as Altzheimer se siekte beskryf is, deurloop of saamspeel.

Weerskante langs die bed het twee groot Stuyvesant bokse gestaan met hul deksels oopgevou en uitnodigend om die enigste sondetjie van die oom, naamlik om te pruim, se gevolge op te vang. Die resultaat het my herinner aan die vertelling oor Paul Kruger, wat by ‘n adellike in Europa vir ‘n ete uitgenooi was en hoe hy sy kouseltjie tydens die gesprek geniet het. ‘n Howeling het ‘n blink gepoetsde bakkie, ‘n kwispedoor, netso effektief soos die sigaretbokse vir oom Paul neergesit. Hy het elke keer mis geskiet, altans so het dit gelyk, tot hy heel geïrriteerd opmerk dat die man die bakkie elders moet sit netnou spoeg hy daarin!

Die mediese beroep het sy eie taal ontwikkel. Ek het al gewonder of dit nie juis gedoen is om die leek, en die pasiënt, in onkunde te laat nie! Hoe verwarrend is ‘n kateder en ‘n kateter nie! Ironies dat ‘n pasiënt, as die papierwerk gedoen moet word voor ‘n operasie, “in sy eie woorde moet sê” wat die dokter hom gaan aandoen. Dit terwyl ek wonder of die dokter dit self nie sou kon doen sonder sy mediese opleiding nie! Die kommunikasielyne tussen dokter en pasiënt moet oop wees soos die volgende van getuig: Tannie Annie Boer het by geleentheid vleis by my skoonma in die vrieskas kom bêre. Die twee ou moeders het met ‘n groot gesukkel die dose na die vrieskas gedra en weggepak, dit terwyl die een se seun ‘n gewillige toeskouer was want die dokter het hom met hoë kolesterol gediagnoseer en hy mag “nou niks meer optel nie”. Dit sluit, volgens tant Annie natuurlik, swaar dose met bevrore vleis in!

Ek wonder waaraan het mense gesterf: water oor die hart gestoot, water om die enkels, ‘n stroke, suiker, maagprobleme, met permissie gesê: aambeie – al troos was die yskoue rivierwater uit die berg. Weer val die mediese terme “natuurlike” en “onnatuurlike” oorsake vir dood op. Is onnatuurlike oorsake wel sommer net aanvaarbaar omdat dit ‘n oorsaak het? Iets wat eerder van nature kom, is die wil om te lewe!

Dan is daar die voorkomende medikasie van die vroeë tyd wat opgeval het. Sommige kinders is voordat die nuwe skoolkwartaal sou begin met ‘n lepel kasterolie uit die gevreesde bloubottel “inwendig skoongemaak”. Vir die ongelukkiges het daar ‘n dosis met die tuiskoms op die plaas vir die vakansie ook gewag! Sou dit wees om al die dorp- of stadskieme van die plaas af weg te hou? Ek vermoed die filosofie was dat as jou maag gesond en sterk is, jy van nature meer gesond sal wees.

Vandag staan die wetenskap heel verbaas oor die medikasie wat uit die natuur verhaal kan word. Asperien wat van die wilgerboom se bas vervaardig word en quinien (teen swartwaterkoors) van die wattelboom!

Dan is daar ook die epidemies en pandemies wat ons landjie se mense getref het. Die uitbraak van pokke, masels en die groot griep het die land en sy mense geruk. Dit is so asof die natuur deur die pandemies wraak neem teen die vergrype van die mens teen die natuur en ook teen homself.

Die hoesmedisyne verdien besondere aandag. Dit was ook baie gewild onder die handlangers want so ‘n teug of twee het die maag ook laat warm kry – verskuilde alkoholinhoud! Alkohol is ook in boegoe verbloem as hardehout daarby gegooi is. Was dit nie ‘n juisste opmerking nie toe ‘n gesin hul huurhuis verlaat het en die volgende eienaar eers die wêreld onder hande kon neem het voordat hulle ingetrek het. Daar was onder andere ‘n beduidende hoeveelheid en verskeidenheid drankbottels wat op die erf tussen die lang grasse verstrooid gelê het. Die tuinhulp wat die grootste deel van die oggend met die insameling van die bottels besig was, se opmerking was: “Darem gesonde mense gewees dié! Kyk al die bottels en nie een medisynebottel nie!”

Die beskryfbaarheid van siektes in die volksmond maak ook ‘n wêreld vir ons oop. Witseerkeel, swartwaterkoors, bloednier, pampoenjies, versiendheid (wat nie eintlik ‘n oogprobleem is nie maar arms wat te kort is) en vallende siekte.

Ek sluit met twee woorde uit die Noordweste: skrynserig en onlekker. Skrynserig is soos wanneer jy ‘n ongemaklike skaafplek het wat nog nie ‘n blaas is nie, maar ‘n blaas is beslis is pad. Jou nuwe skoen skaaf jou en jou voet skaaf blase. Onlekker beteken presies wat die woord vir jou sê! Jy voel negatief (on)lekker! Hierdie twee woorde in die mediese wêreld sal vele diagnoses hul akkuraatheid kos en ewe vae gesondheidsorg verseker.

bydrae: Emile de Viliiers

(Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar