Nadat sy verklee het in iets meer gemaklik, klim sy haastig in haar Mustang. Bewerig van benoudheid stel sy die GPS in op Noord. Ver Noord. Dis reg Noord, die veilige opsie … stroomop … doen wat sy nog nooit gedoen het nie. Selfs die wyse manne het ‘n ster nodig gehad om hulle te lei, Noord.
Terwyl die musiek oorverdowend lawaai, glimlag sy en vee die traan af met die agterkant van haar hand en lag wrang vir haarself in die truspieëltjie. Dan praat sy hardop met haarself. “Hoeveel opsies het ek? Nee! Ek moet weg!” dink sy hardkoppig. Sy kyk nie links of regs nie, jaag net voort na noord. “As ek ver genoeg Noord gaan, sal ek weer by Suid uitkom? Haha!”
Hoeveel keer kan mens opgee en van rigting verander? Sy begin weer in trane uitbars! Maar glimlag steeds. Miskien sal sy omdraai, weer Suid gaan? Genoeg is genoeg! Sy jaag voort op die onpersoonlike hoofweg onbewus van die kilometers wat verbysnel en die verkeer om haar.
Geluksfontein? Moet ek dan dalk Oos? Sy draai af en dit word ‘n grondpad met die son wat bloedrooi agter haar wegsink oor die grasieuse bergreeks. Oos, daar waar die son opkom, met beloftes vir ‘n nuwe begin elke dag, die vars reuk van dou op die gras.
“Dis reg, Oos, ” onthou sy … soos die ongelooflike sonsopkoms 4:40 vm. op Amanzimtoti strand. God se Oos in volmaaktheid, het sy gedink. Sy onthou die geluid van golwe wat al hoe nader kruip. “Ek het nog opgespring en net in die lou skuimwater ingehardloop! Haha. Tot agter die branders my ‘happy place gekry’.” Die mooiste koeëlronde oranje bal wat net bo die water hang , Oos.
Sy wonder of die stadsjapie Wes, nog ingekruip lê en wag vir hul wekker. Die prente is al vir ag jaar in haar geheue ingebrand, goeie tye, net die goeie tye. Maar sy sal nooit kan onthou wat haar strand toe gelei het daardie oggend nie. Dit maak nie saak nie.
Die grondpad raak ondraaglik! Sy kom tot stilstand en strek eers. Soos haar arms boontoe strek besigtig sy weer die merke op haar arm. Dit was seer! Onnodig! Krag is net ‘n voordeel as jy jouself kan betoom en selfbeheersing toepas. Sy staar na die merke waar Wes haar speels aan haar arms opgetel het. Hy het nie besef hoe sterk hy is en watter uitwerking dit op haar brose arms sal hê nie. Is dit wys om altyd sterk te wil wees? Nee wat. Sy kry moed en draai om en sien die natuurprag- die goue kol rus swaar op die berg. Yslike berg. Massief. “Dis reg, Wes …”
Haar gedagtes voer haar terug na onder by die rivier … starend na die water wat kabbel oor die klippies tussen die asemrowende Kransdans aan beide kante.
Hulle het vroeg opgestaan, die krans uitgeklouter tot bo, met voete wat gevaarlik van die krans af hang, uitasem. Daardie aand die sterre besigtig wat verskyn oor die afwagtende predatore van die bosveld.
Miskien moet sy ook op die berg gaan klim soos Moses om die wet te ontvang? Rigting ontvang? Maar gaan my geliefdes dan ook rebelleer en ‘n goue kalf bou? “Nee. Ek moet terug! My mense het my nodig! Nee Wes!” Sy is verward en besluiteloos.
Swaarmoedig draai sy terug huis toe. Huis toe? Ja weer Suid. Sy raak verward om die grootste raaisel op te los. Diep ingedagte … Wat is ‘n huis wonder sy? Die Koning van die heelal se huis is nie uit baksteen of klip nie … dis mense.
Skielik hardloop ‘n duikertjie oor die stowwerige grondpad en sy probeer uitdraai sonder om haar gunsteling voertuig op te foeter, maar tref steeds die duikertjie wat geen idée het wat ‘n Mustang, kar of mens is nie. Eindelik kom sy tot stilstand en hoor die duiker huil soos ‘n pasgebore baba. Baie skril geluid, sy klim stadig uit en stap terug tussen die stof.
Daar lê hy. “Dis jou skuld! Hy het dit nie verdien nie!” Verwyt sy haarself. Sy buk af, sit haar hand op sy bors, en besef daar is niks wat sy kan doen nie. Hulpeloos! Net so hulpeloos as toe die onderste helfte van my liggaam verlam was in die silwerskoon plek met vreemde mense in maskers. Ek mag nie sien wat hulle doen nie, dus die skeiding van 20 cm op my bors. “Ek is veronderstel om lam te wees, maar ek voel hoe die koue lem my drie lae van epidermi skei, ek wil opstaan en weghol! Ek kan nie, ek kan nie my voete voel nie!” Bloed spuit, die maskermense lag daaroor, die vreemde man hou my hand stywer vas en sê ek MOET kalmeer, my hartklop is te vinnig, biep biep biep (ek haaaaaat daai geluid). Eindelik is my tweeling verlos, my twee welpies wat ek nie voor gevra het nie, maar aan my geskenk is.
Die duiker kan ek nie SO los nie. Hy huil, hy gaan dood, stadig. Ek sal hom help, die eerbare ding doen. Ek bid saggies, en vra genade, en verlos hom van sy smart deur een skoot deur sy klein skedeltjie. Onmiddellik. Sy draai hartseer om en stap na haar voertuig.
Die voertuig wil egter nie vat nie, brandstof is nodig “Dammit! Dis my verdiende loon! Ek was nalatig deur te dink ek gaan myself vind. Jou selfsugtige draak!” uiter sy die woorde hardop. Sy begin hoogs ontsteld Suid stap op die grondpad na niks.
Met selfevaluering kyk sy net grondwaarts en tel haar voetstappe in haar hoë hakke wat haar nog altyd laat beter voel het. Maar nou is hulle ‘n las! Sy begin redeneer … “Is ek dan regtig net ‘n hindernis vir myself? Moet ek altyd weggaan? Moet ek altyd ‘n verskoning kry hoekom ek nie sterk genoeg is nie? Moet ek altyd mense seer maak wat te naby aan MY kom? Jy is mal!”
‘n Stofwolk in die duister beur reguit op haar af. Sy het nie meer opsies nie. Sy sien ‘n groot figuur sy verskyning maak deur haar trane. Deur die stof gewaar sy rooi ligte van die BMW. Sy is vernederd en woorde ontgaan haar. Die man steek sy hand uit: “Aangenaam. Ek is Wes. Is dit jou Mustang daar agter?” ‘n lang stilte volg . “Dis OK meisiekind. Ek sal jou nie seermaak nie. Waar is jou huis?”
Sy neem baie lank om te antwoord, staan net versteen, starend na die blou-oog man wat haar laaste opsie is. “Uhm … Is jy regtig Wes?” vra sy met ’n skaam glimlag en traan in die oog. Die stof bedaar en die man sien die meisiekind voor hom in die volmaan op haar … kaalvoet, hoë hakke in die hand, mooiste somersrokkie, maar verlore, moeg, moedeloos, hulpeloos … “Waar is jou huis meisiekind? Ek belowe ek sal jou nie seermaak nie. Is jy dors? Honger? Jy het ver geloop as dit jou Mustang is.”
Sy draai om en hardloop blindelings weg! Noord! Hy haal haar vinnig in en vang haar, tel haar op en plaas haar saggies op sy passasiersitplek. Hy fluister: “Jy is OK. Ek sal jou huis toe vat. Hier is vir jou koue water. Waar is jou huis?” weer hierdie ongemaklike lang stilte.
“Dis my af naweek … Ek moet Noord gaan, maar ek verkies Wes.”

(foto Matthias Ripp)

Hierdie is voortreflik gepen. Knap gedaan. Jy bind die leser end-uit.
Goed geskryf!
Oulik!
Puik Jurika, hou so aan:-)