“Waar op dees aarde het ek my lipstiffie gesit? Kruip seker weg tussen die berg skoene en klere. Hou op rondstaan en mooi lyk vriendin, die hoofmaal gaan al genuttig wees dan soek ek nog my lipstiffie” kerm Anna benoud. “Jongie, daar is geen salf aan jou te smeer vandag nie. Ek het vir jou gesê die swart nommertjie sal Riaan se asem wegslaan. Toe moes jy eers al die rokke in jou kas aanpas en in elkgeval die swart een op die end aantrek.” sê Christelle verontwaardig. “Hierso, sit sommer van myne op. Bloedrooi lippe om jou pikswart rok te komplimenteer.”Anna en Christelle drafstap haastig in die gang af. ” Pasop vir die tak Christelle!” roep Anna benoud. “Vervlaks, daar gaan my sykous. Eers die gesukkel met jou swart rok en lipstiffie, dan die eerstejaars wat dink ons gebou is ´n oerwoud. As ek my hande op een van die skurke kry, gaan daar ´n geween en gekners van tande wees!”
Riaan en Jurie geniet die soete smaak van sjerrie op die menasie se stoep. Hulle wag al langer as 30 minute vir hul geselline om op te daag. “Waarom dink jy vat ons skone dames so lank vanaand? Dis al amper tyd om …..om myself te verkyk aan die asemrowendste stukkie goud van alle tye.”
Anna en Christelle staan en rondtrippel aan die oorkant van die voorportaal. Christelle probeer hard om haar asemhaling onder beheer te kry. “Jy moet diep en stadig asemhaal Christelle, jy klink kompleet soos ´n bul gereed om ´n matador aan te val.” gee Anna raad. “Waar dink jy is ons warmbloedige stukkies, dit sal my nie verbaas as twee lustige Evas hulle onder ons neuse weggeraap het nie.” babbel Anna verder.
“Julle twee lyk asemrowend belowend vanaand” sê Riaan en Jurie in een stem. “Dit was definitief die moeite werd om te wag. Jy lyk selfs mooier as in my drome.” fluister Riaan hees in Anna se oor.
Christelle het by Jurie ingehaak en die twee loop laggend die saal in. Sy het besluit om die jagwerk te doen en het gister sommer vir Jurie trompop geloop en gevra of sy hom na die Gasteaand toe kan vergesel. Natuurlik is daar onderhandel en moes Christelle met haar hele hart belowe dat sy die naweek saam met Jurie na die walvisse in Hermanus gaan kyk.
Die saal is pragtig opgemaak en strelende agtergrond musiek skep ´n rustige, romantiese atmosfeer. Orals is kleurvolle ranskikkings in Victoriaanse vase en hier en daar bied ´n brandende fakkel warmte en lig. Die gordyne is weggetrek en mens kan die rollende branders teen die kus van Noordbaai sien breek. Die perfekte aand vir romanse om te blom.
Na die hoofgereg word die dansbaan geopen en is Jurie en Christelle voor in die koor. Christelle word met swierige draaie al om die dansbaan weggevoer na ´n paradys waar die tyd stilstaan en sy net bewus is van Jurie se sterk arms wat haar vashou. Hulle maak inderdaad ´n indrukwekkende danspaar en word met belangstelling deur die ouer garde dopgehou.
Anna sit besonders stil en tuur nadenkend na die wit van die brekende branders teen die grysswart nag. Dit is die klein dingetjies wat die swart in die lewe verhelder en geluk bring. Al wat sy vra is een dans, al gaan dit hunke punk, sal dit nogsteeds Riaan se arms wees wat haar omvou. Hy was nog nooit lief vir dans nie en wil nie eers vir een rondte om die dansbaan gaan nie. Anna kan nie help om diep teleurgesteld te voel nie. Dans is vir haar ´n opvoering van die passie tussen twee mense. Die feit dat Riaan nie eers wil probeer nie laat haar koud en afsydig voel. Sy kyk met ´n tikkie jaloesie hoe Jurie en Christelle die kalklig van die aand steel. In haar enigheid wonder sy hoekom Riaan so lank vat om drankies te bestel. Moeisaam staan sy op en drentel verby die dansbaan kroeg toe.
“Het jou meisie met die wulpse lyfie!” Jurie gryp Anna voorbarig om die middel en maak twee Kaapse draaie voor hy haar stadig uit sy arms laat gly totdat haar goudbruin hare oor die vloer gly. Anna is so verbaas dat sy nie ´n woord uitkry nie. Tog gee sy Jurie ´n verontwaardige kyk. “Moenie komkommer nie, ek het klaar jou ander helfte gevra vir toestemming. Lyk in elkgeval of hy die geselskap by die kroeg terdee geniet. Ek sal graag wil verhoed dat jou aand op ´n slegte noot eindig” sê Jurie met ´n ondeundheid in sy stem.
Anna kan dadelik die aangetrokkenheid tussen hulle op die dansbaan voel. Haar bloed bruis warm deur haar are en sy kan haar liggaam voel tintel van opgewondenheid. Sy voel half skaam oor die passie wat sy voel teenoor haar beste vriendin se metgesel. Die aand het verander van ongesellig na ´n sprokie.
Die tyd gaan vinniger verby as wat hulle oor die dansbaan sweef. Hulle het alles van ´n wals tot ´n tango gedoen. Dit voel kompleet asof hulle een is, mekaar al jare ken en van kleinstyd af saam dans. Die aankondiger lig almal in dat dit die laasste dans vir die aand gaan wees. Soos dit ´n ware heer betaam, begelei Jurie vir Anna van die dansbaan af en vra Christelle vir die laasste dans. Anna gee met misnoeë toe, as sy maar net die laasste dans kon hê.
Sy verdwyn vinnig en loop kortpad kroeg toe. Wonder of Riaan gaan kwaad wees, sy het skoon van die tyd vergeet. Sy en Jurie moes vir langer as ´n uur gedans het. Wat sy voor haar gewaar laat haar hart stilstaan. Nie net is Riaan omring deur ´n klomp eerstejaars nie, hy is in ´n vurige omhelsing met die een op sy skoot. Anna het nog altyd gewonder wat sy sal doen is so geval. Loop sy weg en eindig alles stilweg of konfronteer sy hom terwyl sy hom op heterdaad betrap. Hy het die heel aand kroeg toe geglip en haar netso gelos. Die paar keer wat sy saam was, het hy net drankies bestel en weer teruggekeer na hul tafel toe. Dit voel of ´n lem deur haar hart sny. Nie haar Riaan nie, hoekom en waarom? Sy wil huil, skreeu, kerm en soebat, weghardloop van die pyn wat haar verblind.
Riaan ruk homself los uit die omhelsing. “Sjoe, as dit is wat ek kry elke keer as ek verloor, dan verloor ek sommer die hele aand!” Hy het duidelik ´n drankie te veel gedrink en sukkel om regop op die stoel te sit. Die eerstejaartjie is tog te gretig om hom regop te hou en klou soos ´n klits aan hom vas. Uit die hoek van sy oog gewaar hy vir Anna en besef dadelik dat hy die keer te ver gegaan het. Hy het al by verskeie geleenthede te veel gedrink en moes die volgende oggend mooi dink om te onthou wat hy aangevang het. Hy het selfs eenmaal langs ´n vreemde vrou wakker geword wat hom land en sand belowe het dat niks gebeur het nie. Hy voel soos ´n lae luis en weet dat hy Anna al lankal van sy probleem moes vertel het. Hy drink net by geleentheid maar het elke keer beheer verloor. Vanaand was definitief nie die regte geleentheid nie.
skrywer: Die Skribbelaar
