Anna van Saldanha 5

Die onstuimige blou waters breek die rustigheid wat die sonsondergang skep. Dit was nege maande terug wat Anna op dieselfde rots gesit het. Getuur het oor die oneindige blou. Gewonder het wat die drie jaar by die Akademie gaan oplewer. Vandag is die 1ste dag van Oktober, een week na Riaan se terugkeer na Pretoria . Nadat sy haar hart verloor het. Gekruisig is deur Riaan se laasste woorde aan haar. “Ek het my met die semels gemeng, is deur die varke gevreet en sal nooit weer aan jou kan behoort nie. Ek is so jammer dat ek jou hart uitgeruk en verskeur het. Dat ek jou vertroue in my gekrenk het. As my straf dink ek dit is beter as ons eerder die verhouding beeïndig. Ek het my stukkie goud verloor en sal die res van my lewe daaroor treur.” Anna kon nie ´n woord uitkry nie. Soos ´n standbeeld gestaan, koud en kil. Sy sou hom nog ´n kans gegee het. Probeer het om hom weer te vertrou. Lief te hê met haar hele hart. Iets het haar weerhou om sy woorde weg te soen, hom nog ´n kans te gee. Dalk was sy net emosioneel uitgeput. Dalk het haar hart van beter geweet.

Sy het gister al sy briewe en fotos verbrand. Haar hart swaar, haar keel dik. Dalk moet sy Christelle se raad volg. “Vry in die bondel my vriendin. As jy honger is, kry vir jou ´n lekker stukkie vleis. Pasop net vir te veel. Mens raak eers verslaaf, dan oorlopens toe versadig. Jy het te veel gehad, dit is tyd om die hongerpyne weer te laat kou. Totdat iemand anders op die horison verskyn.”

“Hi daar vreemdeling.” Anna se hart mis ´n klop. “Ek het jou die afgelope week nie met ´n oog gesien nie. Kruip jy weg?” Jurie wag in afwagting vir ´n antwoord. Hy draf gewoonlik met sonsondergang langs die strand af. Raak ontslae van al sy kwellinge, gooi sy geraamtes in die diepblou see.

“Hi daar Jurie.” Anna is skugter. Haar oë moet seker pof wees van die gehuilery. “Ek het gehoop om niemand raak te loop nie. Selfondersoek te doen en hopelik die stukke van my hart aanmekaar te lap.”

“Ek is so jammer. Christelle het my vertel. Gesê sy is bekommerd oor jou. Jy wil klaarblyklik niks met niemand te doen hê nie. Nie vertroosting of hoop op iemand anders wat jou pyn kan wegsoen nie. Wil so graag hê jou laggie moet weer in die gange weerklink, jou wange blosend, jou energie stralend.”

Anna is emosioneel, haar weerstand reeds verbrokkel. Sy het ´n intense behoefte om Jurie se sterk arms om haar te voel. Sy vertroosting te vertroetel.

“Ek is jammer ek het julle uitgeskakel. Julle vriendskap is soos ´n steunpillaar. Ek is net te hardkoppig om julle toe te laat.” Trane stroom skaamteloos teen haar wange af. Sy wil al die seer weghuil. Al die vandaliste wat haar hart vernietig uitgooi.

Jurie kan homself nie keer nie. Hy neem Anna in sy arms en druk haar kop styf teen sy bors vas. Vryf haar hare nog meer deurmekaar. Hy wens hy kon haar vertel van die vlinders in sy maag. Die beelde van haar stoute glimlag wat hom teister. Die intense behoefte wat hy het om haar vir hom te vat. Die dag toe sy hom ´n windlawaai genoem het, haar oë donker en onpeilbaar, het hy geweet. Geweet dat hy sy hart gaan verloor, die donkerheid in haar oë wil ophelder, haar diepste wese wil leer ken.

Anna wriemel haarself nog dieper in Jurie se arms in. Vir ´n oomblik is die pyn vergete. Haar hart se geklop suisend in haar ore. Die aangetrokkenheid wat sy ervaar het toe hulle gedans het, is weer daar. Iets wat nooit teenwoordig was toe sy en Riaan saam was nie. Dalk was sy verblind deur sy sjarme, sy blou oë en vleiende woorde.

Jurie maak liggies keel skoon. “Ek dink jy het ´n lekker aandjie uit nodig. Ek dring daarop aan dat ek jou vanaand bederf. Jy verdien dit.”

Anna gee toe maar in haar enigheid wonder sy wat Christelle daarvan sal sê. Sy weet dat Christelle absoluut versot is op Jurie. En dat Jurie haar al vele kere uitgevat het.
“Net as Christelle saamgaan” sus Anna haar gewete.
Jurie gee toe. Dalk is dit beter as hulle nie alleen is nie. Hy kan dalk selfbeheersing verloor en in die proses vir Anna ook.

Die aand by Klub Mykinos begin op ´n lae noot. Die ongemaklike spanning tussen hulle drie span styf in die lug. Christelle vermy Anna se geselskap en Jurie probeer tervergeefs ´n aanknopingspunt vir ´n gesprek vind.

“Ons moet gesels,” fluister Christelle dringend in Anna se oor. “Daar is iets wat ek jou wil vertel.”

Christelle stuur vir Jurie om vir hulle drankies te gaan koop. Dan lei sy Anna na die balkon waar hulle uit ander mense se geselskap is. Anna voel ´n beklemming om haar hart. Sy het nog nooit vir Christelle so ernstig gesien nie.

“Wat is dit Christelle? Jy maak my skoon bang” uiter Anna haar angstigheid.

Christelle tuur oor die swart waters wat stadig onder die helder maanlig op en af deins. Sy het iets verskrikliks gedoen, onvergeefbaar. As sy nie nou vir Anna vertel nie, sal haar siel nooit kan rus nie. Die waarheid moet uit, al verloor sy haar beste vriendin in die proses.

“Jy onthou dat ek met die mid-reses Pretoria toe is?” begin Christelle huiwerig.
“Ja, jy moes opgaan vir jou Ouma se begrafnis en het ekstra verlof ingesit om by jou ouers te gaan kuier” probeer Anna die feite onthou.

Christelle sluk hard aan die knop in haar keel. “Die aand voor my terugkeer het ek en een van my vriendinne by Blue Streams gaan kuier. Ons het betrokke geraak by ´n speletjie en was aan die einde van die aand buite onsself gedrink. Een van die mans het baie vryerig begin raak met my en ek het die aandag soos soet wyn verwelkom. Teen die oggend se kant was ek te besope om op my voete te staan en het my vriendin soos ´n speld verdwyn.”

Christelle stop vir ´n oomblik om asem te skep.

“Die man het aangebied om my huis toe te neem. Ek het my aanvanklike geleentheid verbeur en skiklik ingestem. Op pad het ons amper in ´n boom vasgery. Weet nie wie die dronkste was nie. Ek of hy.”

Anna staan aandagtig en luister. Probeer uitpluis wat so verskriklik onvergeefbaar aan ´n lekker aandjie uit is. Dalk onverskillig, definitief vergeefbaar.

“Nodeloos om te sê, het ons saamgeslaap. Ek het my maagdelikheid verloor daardie aand. By ´n man wie se naam ek nie eers geken het nie. Die volgende oggend het ek stilletjies verdwyn. Siek van die vorige aand se gekuier en naar vir dit wat ek gedoen het.”

Anna hou Christelle se hand styf vas. “Ek is so jammer” is al wat sy kan uitkry. Diep in haar hart voel sy smoorkwaad vir die man wat iets so spesiaal weggevat het van haar beste vriendin.

“Ek het vir twee maande lank daarmee geworstel. Gewonder hoe ek myself gaan vergewe. Toe kom kuier Riaan vir jou. Eers het ek hom nie erken nie. Die aand toe jy hom gevang het met die eerstejaars by die kroeg het dit my soos ´n hamer tussen die oë getref. Dieselfde speletjie, dieselfde sjarme. Dieselfde onmiskenbare tatoeërmerk op sy linkerbors. Hoe hy met trots daarmee spog in sy dronkenskap.”

Anna staan versteun. ´n Ligte geklop aan haar linkerslaap laat haar wimpers fladder. “Hoe kon hy?” Trane loop ongemerk uit die hoek van haar emosievolle oë.

“Hoe durf hy? Ek het hom liefgehad met my hele hart. Was getrou aan hom, weggebly van enige versoekinge. Dat die vuilgoed my beste vriendin misbruik het terwyl hy so dronk soos ´n tor was. Al wat nou van my liefde oorbly is bitterheid en haat. Ek sal hom nooit kan vergewe nie.”

Jurie kom op hulle af. Snikkend in mekaar se arms. Haastig sit hy hul drankies eenkant.
“Onderbreek ek dalk?” vra hy huiwerig.

Anna maak liggies keel skoon. “Christelle het sopas die stukke van my hart opgetel en aanmekaar gelap. Dat ek so blind kon wees. So naief om te glo dat hy my ewig getrou sal bly. Om die waarheid te sê, voel ek beter as in jare. Ek is weer vry. Vry om my lewe te geniet en nuwe vriendskappe op te bou. Vry om die aand saam met julle twee te geniet.”

skrywer: Die Skribbelaar

Deel I | Deel II | Deel III | Deel IV | Deel V

Lewer kommentaar

Leave a Reply