Vrede

Gert bere sy motor en wonder waar Magda se motor dan kan wees want sy is altyd lank voor hom tuis. Toe hy die hek oopsluit en die hond is nie by om hom te ontvang nie verdiep sy vermoede dat iets vreemd besig is om met hom te gebeur. Die huis is doodstil, alles is dig toe gemaak en hy verbeel hom dat iets nie op sy normale plek is nie maak hy kan nie dit dadelik plaas nie. Sy oog vang die pienk koevertjie wat op die koffietafel lê met ‘n nota wat sê sy is jammer maar dit gaan nie uitwerk. Kort en kragtig. Geen redes of klagtes niks nie. ‘n sit en kyk by die venster uit en wonder hoe hy ooit in die situasie kon beland het. Gisteraand het hy en Magda nog saam gesit en TV kyk, gesels en heel rustig slaapkamer toe verkas en nou dit! Is seker maar ‘n grappie of iets maar hy stap deur kamer toe en ja die spieëltafel is skoon, geen bottel, borsel net niks, hy maak haar klerekas oop en die is leeg, dit is en was geen grap nie, is werklikheid, nie dat hy dit verstaan nie maar ja sy is weg. Hy probeer terug dink om te bepaal of daar enige tekens was dat Magda ongelukkig was maar sy gedagtes laat hom in die steek en hy kan aan geen rede dink vir hierdie eienaardige optrede nie. Gert weet goed dat sy al wou trou maar hy wou nie want hy kan net eenvoudig nie haar bied waaraan sy gewoonte was nie of is nie. Magda was nooit sonder geld nie want haar Pa het gesorg dat sy van niks ontbreek nie. Al wat hy dus kan dink is dat sy nou gatvol is en nie langer as ‘n “arm” mens wou voortbestaan nie. Nie dat hulle as armes geleef het nie, sy het niks kort gekom wat hy bewus van is nie. Hy sit in sy eie huis, nou nie ‘n paleis nie maar heel skaflik vir wat R350 000 vier jaar gelede kon koop, met meeste meubelment wat nodig is rekenaar inkluis met alles wat oop en toe maak. Maar niks luuks nie net funksioneel en op die man af. Dalk is dit een van die rede raai hy. Die verband van R300 000 is dalk ‘n ander rede en dan nog ook die feit dat sy motor ‘n 2000 model is, klaar betaal en sy eie maar geen Merc nie.

Gert weet as Ma en Pa nog gelewe het dan sou hulle nou gesê het dat die saamblyery die fout was, en miskien was dit die fout, wie weet. Maar dan was dit mos nog nie nodig dat alles so onverklaarbaar soos net ‘n streep van ‘n pen beëindig moet word nie. Niks het nou sin nie en hy wonder of dit die moete werd is om uit te probeer vind wat van Magda geword het en waar sy heen is. Hy haal sy foon uit en skakel haar nommer. Na ‘n paar luie word dit dood gedruk en weet hy sy wil nie nou met hom praat nie. Sal dalk môre weer probeer.

Hy het teen elfuur gaan lê maar die slaap ontwyk hom en hy staan later op en gaan sit en kyk TV. Dit is nou net na twaalf en hy besluit om weer te skakel. Na ‘n paar luie antwoord ‘n mansstem en vra wat wil hy hê. Gert vra om met Magda te praat maar die man gee net ‘n snork en dood gaan die foon. Wel nou weet hy tenminste die koeël is deur die kerk want nou sal hy nie vir Magda wil terug hê nie. Maar wat nou? Is daar nog enigsins sin om die gejaagte lewe voort te gaan of is dit nou die teken waarna hy verlang het om ‘n verandering te maak.

Hy weet goed dat hy baie goed vir hom self gedoen het en niks het om oor te kla of te bekommer nie. Net die ewige gejaag werk toe, ‘n uur in die oggend en meer as ‘n uur in die aand, om by die werk en weer by die huis te kom is al vir meer as ‘n jaar besig om hom lam te maak. Om alles te kroon is die werkvooruitsigte besig om te verklein want alles is mos nou “afirmative action” en hy wat Gert is se kleur gaan hom nie die paal laat haal nie. Miskien is dit nou die tyd om daaraan te dink om heeltemal ‘n beroepsverandering te maak. Maar wat? Hy het slegs sy matriek en dit nogal een wat hy op Landbouskool verwerf het met vakke wat nou nie juis veel belangstelling gaande maak nie.

Gert weet dat hy op 28 hom self al as ‘n bekwame bestuurder bewys het maar hy weet ook dat by alle instansies gaan hy by die selfde toe deure aanklop wat hom nou kniehalter om dat hy te wit is. So sit hy en droom en raak hy aan die slaap. Hy skrik met ‘n ruk wakker en sien dat dit reeds sesuur is. Vinnig is hy deur die badkamer, in die motor en op pad werk toe. Die dag was besig, genadiglik, en toe dit sesuur word en hy weer in die motor sit op pad huistoe sê hy vir homself dat as hy Magda was sou hy ook gatvol geraak het want hulle het mekaar skaars twee ure per dag gesien dan begin alles net weer van vooraf. Miskien het sy nou ‘n ryk ou gevind wat heeldag by die huis kan lê en sy wat dalk nie eers hoef te gaan werk nie. Aan kos het hy nog glad nie gedink nie en die toebroodjie wat hy vroeër geëet het is al lank nie meer genoeg om die honger op sy plek te hou nie.

Toe hy die laaste afdraai maak en by die Seven Eleven verby gaan besluit hy om gou iets liggies te kry om te eet, die koerant te koop en iets soet om die mond skoon te maak. Met ‘n paar stukkies hoender voor hom sê hy vir homself dat dit wragtig nie ‘n verbetering op Magda se kos is nie. Nog ‘n rede besluit hy om hierdie kunsmatige lewe tot halt te roep! Hy staan op en besluit om ‘n draai te gaan stap en by die kafee gekom besluit hy om die aandblad ook te koop om na die “vacancies” te kyk en dalk ‘n paar opsies te bekyk. Toe hy voor die rak staan sien hy vir die eerste keer in seker 8 jaar die Landbouweekblad raak en sonder om te dink tel hy dit op en gaan betaal daarvoor saam met die aandblad.

Eers vinnig na die nuus gekyk, wat in allegeval al reeds ou nuus is, toe na die sport en toe na die werksgeleenthede. Maar daar is niks wat die verbeelding aangryp nie besluit hy. Hy maak die Landbouweekblad oop en begin deur dit te blaai. Met ‘n skok kom hy agter dat dit waaroor en waarvan geskryf word darem ver van dit is wat hy op Landbouskool geleer het. By die werksgeleenthede sien hy daar is nogal verskeie geleenthede en sy gedagtegang verander en hy begin wonder wat die geleenthede in die landbou sou behels. Hy merk drie wat hy dink beter klink as die ander en begin daaroor wonder.

Die eerste een vra vir ‘n Voorman / bestuurder met ondervinding van landbou, mielieverbouing, en hy sê vir homself dat hy dit sou kon doen. Die telefoon nommer sê vir hom dat dit iewers in die Vrystaat is sonder dat daar in die advertensie so gesê word waar die plaas geleë is. Die tweede een wat sy oog gevang het wil voorkom asof dit iewers in die Laeveld mag wees en was dit nie dat daar vir ondervinding vir die verbouing van tropiese vrugte as vereiste gestel was nie sou hy bitter graag weer daarna wou kyk. Die derde een is ‘n baie klein advertensie en noem slegs dat ‘n plaasbestuurder benodig word vir “gemengde” boerdery wat hom soos ‘n handskoen sou pas. Gert kyk meer aandagtig na die advertensie en sien dat die finansiële voordele maar baie skraps is, R2 500 per maand, verblyfreg (huisie op die plaas) en ‘n deel van die winste sonder veel om op te gaan of te reken. Geen aanduiding weereens van waar die plaas geleë is, slegs ‘n nommer om te skakel en die kan hy nie plaas nie want dit is ‘n foon nommer. Inaggenome met dit wat hy tans verdien sou dit natuurlik ‘n grap wees om so iets te oorweeg maar sê hy vir homself dat dit nie nou oor geld gaan nie maar oor om weer vry te kan wees van die gejaag na niks.

Toe dit al laat is en hy gestort en gereed is om te gaan slaap skuif hy die gedagtes op die agtergrond en dink weer aan Magda en wonder of hy weer moet skakel. Vinnig besluit haar daarteen en gaan lê en raak dadelik aan die slaap. Toe Gert vroegoggend wakker word en besef dat hy deur geslaap het en nog al goed voel skuif hy alle gedagtes op die agtergrond en maak gereed om te gaan werk. So in die ry, wat net nie sy gang kan vind nie, begin sy gedagtes weereens te dwaal en by die tyd dat hy na meer as ‘n uur oplaas by die werk aankom is hy ook goed opgewerk. Heeldag wil dinge maar net nie vlot nie. Omset is baie af, twee dames het nooit vir werk opgedaag en nie eens laat weet wat aangaan nie, een afleweringsvoertuig was in ‘n ligte ongeluk betrokke en toe sy streekbestuurder nog kla dat die vertoon vensters nie op standaard is nie voel hy as of alles skielik net teveel geraak het.

Toe hy eindelik die aand by die huis kom en moes kos maak, die huis aan die kant maak, wasgoed was en oral tekens van Magda se teenwoordigheid sien, of die nie teenwoordigheid, uit die weg moet ruim raak sy gemoed al meer en meer depressief. Hy tel weer die advertensie op en wonder of hy moet skakel. Hy besluit dit kan tog geen skade kan doen nie en skakel hy die nommer. Na ‘n paar luie hoor hy ‘n damestem en vra hy om met die eienaar te praat wat die advertensie geplaas het. Sy verduidelik aan Gert dat sy die eienaar is en begin hulle te gesels oor Gert se ondervinding, opleiding en toekomsplanne. Hy is dood eerlik met haar en vertel van Magda, sy frustrasies en die droom om weer vry te wees en mens te kan word.

Sy het haar as Amanda voorgestel en sy verduidelik dat haar man haar ontval het en dat sy glad nie regkom met die boerdery, die werksmense, beplanning en kontrole oor veral die werkers nie maar dat sy gehoop het om iemand met meer ondervinding te kon kry. Sy stel voor dat hulle miskien sou kon ontmoet indien sy nie vinnig ‘n ander aansoek kry wat meer ondervinding het nie. Nommers word uit geruil en bevestig en toe hy afly besef hy dat hy nog steeds nie weet waar die plaas geleë is nie maar dat dit seker saak nie maak nie want sy sal sekerlik nie terug skakel nie.

Met die naweek voor het Gert allerlei planne gemaak om nie alleen tuis hoef te wees nie maar nog niks bevestig toe sy foon ly en hy Amanda aan die anderkant hoor vra of hy miskien ‘n besoek aan die plaas sou wou maak. Hulle kom ooreen om Saterdagmiddag te ontmoet en sy verduidelik dat die plaas naby Standerton is, sy gee aanwysings en stel voor dat hy moet skakel indien hy nie met die aanwysings reg sou kom nie. Hy besluit om ‘n oornagtassie te neem en ‘n naweek daarvan te maak deur iewers die Saterdagaand en Sondag deur te bring.

Op pad plaas toe dwaal sy gedagtes terug na wat hulle geleer het rondom graanverbouing en miskien so ‘n bietjie veeteelt want dit is waarvoor die distrik bekend staan. Hy vind die aanwysings baie duidelik en baie gouer as verwag bereik hy die plaashek. Die hek staan half oop en toe hy dit wil oopmaak besef hy hoekom dit nie toe was nie want een skanier is afgebreek en hy moet die hek optel om oop te maak. Die kort endjie pad tot by die tuinhekkie is baie verwaarloos as ook die tuin om die huis. Hy kan sien dat daar beter tuie was want die kwaliteit plante en uitleg spreek van goeie smaak en deeglike beplanning.

Drie honde wag hom in en lyk nie ingenome met die vreemdeling se besoek nie. Nie bang vir ‘n hond stap Gert nader en praat met hulle terwyl hy die hek oopmaak en pad vat voordeur toe. Hulle draf al langs en agter hom en toe die deur oopgaan begin hulle blaf. Die dame wat in die deur staan berispe die honde en hulle gee dadelik pad wat aandui dat hulle goed opgelei is. Sy spreek haar verbasing uit dat die honde hom toe gelaat het om in te kom en hy verseker haar dat hy met meeste diere goed oor die weg kom en nog nooit nodig gehad het om vir ‘n hond bang te wees nie.

Hulle stel hulle aan mekaar voor en Gert skat dat sy iewers in die dertig moet wees met twee kinders, ‘n dogter genaamd Erika, wat hy so tien of elf skat, en ‘n seun Andries wat hy so sewe of agt skat. Andries wil dadelik weet wanneer hy dan by hulle gaan kom bly en Gert lag al te lekker en verduidelik dat hy en sy Ma eers daaroor moet gesels. Soos dit maar met kinders gaan kom die waarheid dadelik uit toe hy sê dat sy Ma ja sal sê want sy het van sy stem en eerlikheid gehou. Amanda bloos bloedrooi en weer lag Gert en verseker almal dat hulle eers mooi saam sal moet kyk of hy die regte persoon vir die pos is.

Tee word aangebied en Gert verkies swart koffie en terwyl Amanda verdwyn om dit te gaan maak sit en gesels hy met die kinders. Erika is baie stil maar Andries maak op daarvoor en vra uit en gesels dat Gert amper nie ‘n woord in kan kry nie. Met koffie in die hand verander die gesprek gou na waarvoor Gert daar is en vertel Amanda dat die plaas en alles daarop vinnig besig is om agteruit te gaan en dat sy dringend iemand nodig het wat beheer sal kan neem. Gert vra uit oor beplanning, begrotings, werkers en finansies wat die besigheid sal bepaal. Hy kom agter dat min van die goed in plek is en sy vertel dat sy die vorige seisoen ‘n verlies van amper R500 000 gemaak het en dat alhoewel sy steeds die finansies het om die volgende oes in te sit sy nie nog ‘n verlies sal kan oorleef nie.

Met die planttyd slegs maande weg weet Gert dat daar dadelik planne in plek gestel sal moet word om ‘n sukses te verseker. Hy spreek sy kommer daaroor uit want al sou hy die werk kry en dit aanvaar sal dit hom nog meer as vyf weke vat voordat hy op die plaas sal kan wees wat beslis te laat sal wees. Hy merk haar teleurstelling en hy is self baie jammer want hier lê duidelik ‘n groot uitdaging vir iemand wat kan en wil boer. Hy stel voor dat hulle daaroor nadink en dalk die volgende dag weer daaroor kan praat. Amanda stel voor dat hy by hulle oornag en terwyl dit aantreklik is besluit Gert om eerder op die dorp te gaan oornag waar hy sy skootrekenaar kan gebruik en so ‘n bietjie beplanning mee kan begin.

Hy noem dat hy graag ‘n bietjie besonderhede sou wou neem om mee te speel en vra of sy sal omgee sou hy sy rekenaar gebruik. Gou is die uit die motor gehaal en op die eetkamertafel aan die gang gekry en kan hy begin uitvra na wat hy nodig het. Amanda is beïndruk met die vrae wat hy vra en die deeglike en geordende manier waarop hy dit benader. Gert kom agter dat dit ‘n gemiddelde tot groot boerdery is waarvan mielies die hoofbron van inkomste uitmaak. Sy noem dat daar ongeveer 100 beeste op die plaas is maar dat sy nie seker is van die getalle want sy het lanklaas hulle bymekaar kon kry. Gert besef al meer en meer dat daar baie werk voorlê en dat daar beslis probleme met werkers sal voorkom die oomblik wat daar weer kontrole toegepas gaan word. Sy dring weer aan dat hy by hulle moet oornag maar hy bedank die aanbod met die verskoning dat hy stil sal wil wees om mooi na te dink oor wat gedoen kan word. Teen agtuur vertrek hy nadat Amanda voorgestel het dat hy by ‘n gastehuis naby die dorp kan oornag en dat sy die eienaars ken en sal skakel om blyplek te bevestig.

Daar gekom maak hy hom self gemaklik en begin hy met die taak om iets aanmekaar geslaan te kry wat sin sou maak. Die finansiële beplanning is nie so maklik want hy het slegs benaderde kostes om mee te werk maar hy kry tog ‘n plan A en B in plek voordat hy die lig afskakel en aan die slaap raak. Teen drieuur skrik hy wakker en lê en dink aan wat hy geskryf het en besef hy dat hy nie vroeg genoeg sal kan begin om die plant seisoen op dreef te kry nie. Hy kan eers op die eerste van die maand sy kennis aanbied en dan eers ‘n maand later sal hy kan begin en dit is nou eers die elfde van die maand, ‘n hele vyftig dae voordat hy sal kan begin.

Hy dink daaraan om dalk verlof te neem voordat hy bedank en die tyd te gebruik om dinge aan die gang te sit. So begin ‘n plan by hom posvat en staan hy op en gaan voor die rekenaar sit om dit verder te beplan. Gert se plan is dat hy verlof sal vat vanaf die 15 de tot die 25ste wat hom nog ‘n naweek daarna gee om ook aandag aan sy eie sake te gee. Toe hy weer kyk is dit ligdag en teen agtuur nuttig hy ontbyt, betaal sy rekening en vertrek om sy afspraak met Amanda van negeuur na te kom. Hierdie keer sit al drie op die stoep hom en inwag met die honde wat nou al vriendelik rondom hom blaf en snuif.

Sy het ontbyt voorberei en toe hy verduidelik dat hy al reeds geeet het is sy baie teleurgestel en aanvaar sy dat hy net ligweg saam sal eet. Na ontbyt neem Amanda hom na buite en ontmoet hy ses plaaswerkers wat sy voorstel as of hy al reeds deel van hulle is en dan nog al ook as “die nuwe baas van die plaas”. “n Glimlag trek om sy mondhoeke en toe hulle gaan sit wil sy weet of hy dan nie dalk in die tussentyd net naweke sal kan kom om te begin met die voorbereidings nie. Gert verduidelik dat hulle maar eers na sy voorstelle en van die insette moet kyk en dan kan hulle later in meer diepte na sy koms kyk. Met albei wat al reeds praat as of hy reeds aangestel is is die ys gebreek en kan hy rustig voort gaan met sy voorstelle.

Plan A se aanname is dat die reën genoeg sal wees om ‘n normale oes in te sit en plan B maak voorsiening vir die afskaling en verandering van wat geplant kon word om ‘n oes te verseker. Sy plan behels ook ‘n sterk komponent om die beeste beter te bestuur en miskien kontant te genereer deur melk en of tuinbou in die stiller maande aan te wend. Amanda is verbaas oor die detail waarmee hy voor ‘n dag kom en vra uit na die moontlikhede, kommer oor reën, aankope van bemesting, saad en diesel vir die trekkers.

Gert bring ‘n verdere skedule voor ‘n dag wat al haar vrae beantwoord en nog heelwat meer bevat wat sy nie eers aan gedink het nie. Alles goed en wel maar dit sal insette verg van meer as net ‘n naweek boerdery en toe hy sy plan van verlof op die tafel plaas is dit as of daar n berg van haar skouers val en kom hulle ooreen dat hy dan die tyd en elke naweek daarna op die plaas sal kom deur bring. Besoldiging is die volgende onderwerp en toe Gert haar vertel wat hy tans verdien is sy baie teleurgesteld want soos sy verduidelik het kan sy nie meer as die R2 500 per maand plus lewensonderhoud voorsien nie. Hy stel haar gerus en verduidelik dat dit vir hom nie net gaan oor die geld nie maar meer om weer mens te word weg van die gejaag van die stad en al sy dinge.

Terwyl Gert terug ry huistoe wonder hy of hy nie besig was om vir homself ‘n groot lat vir sy gat te pluk nie. Hy besef deeglik dat aan die eenhand kan hy baie goed doen uit die onderneming en vrede vir sy siel sal hê of aan die ander hand kan dit net so wel op ‘n misoes kan uitloop met groot geldelike verliese wat hy nooit weer sal kan op maak nie. Hy sal of sy huis moet verkoop of verhuur en die kans vat dat hy ‘n goeie huurder kan kry maar hy besef dat die tyd teen hom is om enige van die opsies goed na te vors.

Die volgende oggend bring meer duidelikheid vir hom toe hy weer sukkel om by die werk te kom en weer met die een na die ander personeelprobleem sit wat aangespreek moet word. Teen twaalfuur besluit hy om die kans te neem en aanvaar Amanda se aanbod wat hy toe ook doen en sy nie skroom om haar opgewondenheid te laat deurskemer nie. Hy vra vir verlof en dit word sonder meer toe gestaan, hy skakel ‘n paar Eiendomsagentskappe en verneem na wat die beste opsie sal wees en maak ‘n afspraak om die eerste een daardie selfde aand nog te ontmoet.

Toe Gert by die huis kom sit die persoon reeds en wag vir hom en hulle stap om die huis en voordat Gert vir hom die binnekant kan wys sê die vir hom dat hy geen probleem sal hê om die huis te verkoop of te verhuur nie. Gert verneem na verhuring en toe hy hoor dat hy moontlik R3 200 per maand sou uitkry klink dit vir hom na ‘n goeie opsie en so word dit afgespreek dat hulle huurders vir hom sal kry en maandeliks die nodige sal doen. Alles loop so volgens plan dat hy baie rustig is dat dit die regte besluit is en toe Amanda net na agt skakel om te hoor hoe dinge verloop vertel hy haar hoe mooi dinge besig is om in plek te val dat hy weet dit is die regte ding om te doen.

Op haar beurt vertel sy dat die kinders en van die plaaswerkers baie opgewonde is oor sy koms en baie uitsien daarna. Sy vertel dat die huidige “voorman” duidelik nie so in sy skik is nie en dat hy dalk ‘n probleem kan word. Gert stel haar gerus dat hulle saam dit sal aanspreek as een van die eerste items op die agenda. Hy vra na die huis waarin hy gaan woon om te bepaal wat se meubels hy moet saam bring maar Amanda stel voor dat hy vir eers by hulle kom woon tot tyd en wyl hy sy plek kan reg maak soos hy dit sal wil hê. Met groot afwagting gaan bad en lê hy en droom van ‘n beter lewe vorentoe.

skrywer: Salie Marais

Hoofstuk 1 | Hoofstuk 2 | Hoofstuk 3 | Hoofstuk 4

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Terug pieng: Vrede 3 | Roekeloos

Lewer kommentaar

Leave a Reply